Ontspanne oor jou kleredrag, ernstig oor gestremdheid

Moet nooit die trefkrag van ‘n lawwe uitrusting en R10 onderskat nie. Komaan, wees deel hiervan!

Ons kan die lighartige gees van die sestigerjare onthou met sy danse soos die “twist” en die “funky chicken”. Ons het met opgewondenheid die “Fab Four” en “Beatlemania” beleef en ons onthou met heimwee hoe bykans ’n halfmiljoen mense na New York gestroom het vir Woodstock. Die gevoel,die giere en gebeurlikhede van die sewentigerjare laat ons terugdink aan toe musiek nog op langspeelplate en magneetbande gespeel is, toe diskoteke “in” was en toe ons nog geweet het wat “groovy” beteken het. In die tagtigerjare was ons klerekas en grimering hoofsaaklik skelpienk, staalblou en sonneblomgeel en ons beste partytjierok was ‘n hoepelromp. Die manne het gewoonlik dun swart dasse, gewoonlik met klaviersleutelmotiewe, gedra. Ons was dol oor groot haarstyle en karaoke, en het al die woorde van Madonna se “Material Girl” geken.

 
Maar die nostalgie word vinnig oordonder deur die negentigerjare, waar ons terugdink aan musiek wat meer soos ’n bouterrein as ’n musiekgenre klink. As jy na “garage” en “house” geluister het was jy ”cool” en reg  om aan te beweeg na “Emo”, “post-grunge” en “pop-punk”. Van ons het langs die pad verlore geraak en hoop nog steeds om eendag die “Moondance” reg te kry!
 
Maak nie saak of jy nog probeer om in jou leerbroek in te pas, jy net in die stort kan sing of regtig oorweeg om Idols te probeer nie, Loslit Dag gee jou kans om soos ’n rock-ster aan te trek, sonder dat mense jou vreemd aankyk.   Vrydag, 2 September is Loslit Dag en jy word aangemoedig om jou ondersteuning vir  persone met gestremdhede te wys, deur soos ’n rock-ster aan te trek. Wys jou wilde kant; die amptelike Loslit Dag-plakker is jou toegang om die wêreld, en jou kollegas, te wys net hoe “groovy” jy kan wees.
 
Laat jou gunsteling groep jou inspireer – elke era het hulle ikone – van ruk-en-rol na soul – van hippie na “hip hop” – van punk na Pavarotti of ruk-en-rol na reggae, – ons was dol oor almal! Jy mag dalk selfs platvormskoene, ’n klokbroek of leerbroek êrens in jou kas ontdek! Stof hulle af en wys hierdie Loslit Dag jou ware kleure ter ondersteuning vir die regte van persone met gestremdhede. Onthou, jy is net ’n REGTE rock-ster op Loslit Dag as jy die amptelike Loslit Dag-plakker dra.
 
 Loslit Dag is ’n jaarlikse gebeurtenis, wat nou ’n duidelike gunsteling op die kalender van korporatiewe Suid-Afrika geword het,waar mense aangemoedig word om op enige manier buiten hulle gewone klere aan te trek ter ondersteuning van die regte van persone met gestremdhede. Die Loslit Dag-plakker is al wat nodig is en word gedra as die finale bykomstigheid tot jou uitrusting. Die plakker is nog steeds net R10, en jy kan die plakker by Absa, Game, Dion Wired, Edgards, Jet, CNA of een van die deelnemende Loslit Dag-NGO’s of direk by Loslit Dag se nasionale kantoor kry.
 
Besoek www.casualday.co.za vir idees oor hoe ’n paar Loslit Dag rock-sterre sal aantrek. Gebruik die webwerf om vir jou beste Loslit Dag-uitrusting te stem.

Kyk hoe lyk die karakters van 7de laan, Binneland, Mathys Roets, Mej Suid-Afrika, en Terence Bridgett en Bobby van Jaarsveld. Klik op die klein foto om ‘n groter weergawe te sien.

Send this to a friend