Open Book Festival trek weer duisende

open_book_festival

Die Open Book Festival is vanjaar vir die sesde keer gehou en die meeste boek-besprekings en bekendstellings is by The Fugard Theatre, District Six Homecoming-sentrum en The Book Lounge in Kaapstad gehou.

Maryke Roberts

Daar was meer as 100 paneelbesprekings, werkswinkels, voorlesings en meesterklasse deur outeurs van regoor die wêreld. Meer as 10 000 mense woon jaarliks hierdie fees by.

Leopard’s Leap wynlandgoed het weer hul “Haiku”-kompetisie uitgeskryf. Haiku is die term vir ‘n baie kort-styl Japanese digkuns. Die 794 inskrywings het almal met vindingryke haikus oor woorde en wyn vorendag gekom, maar die wenner was Graham Dukas. Graham se wen-haiku pryk op die agter-etiket van die Leopard’s Leap 2015 Merlot. Hy wen ook wyn, kontant en sy wen-haiku is op plakkate regdeur Kaapstad vertoon.

Die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, was ook een van die sprekers by die fees en was in gesprek met Justice Malala.

Die outeurs en sprekers in die sessie, Point of departure, oor hoe daardie aanvanklike vonkie ‘n boek word, is deur Pippa Hudson gelei. Nomavenda Mathiane, een van die outeurs in die sessie Point of departure het onder meer gesê jy moet altyd getrou bly aan jou storie en die vonkie met ‘n vuur vergelyk. “As jy al ooit vuur gemaak het op die grond, sal jy weet hoe moeilik dit is. Hoe jy daardie klein vlammetjie moet vertroetel tot iets groter.”

Een van die groot internasionale skrywers by die fees was die Noorweegse outeur, Jostein Gaarder, wat met Karina Szczurek gesels het. Jostein vier vanjaar die 25ste verjaardag van sy bekroonde boek, Sophie’s World en het onder meer gesels oor die mens se plig om na die planeet om te sien.

Hy sê as hy geweet het die boek gaan 60 miljoen kopieë verkoop in elke taal denkbaar, sou hy ook Indiese en Chinese filosofie – nie net Westerse – ingesluit het, maar hy het gedink hy het ‘n boek vir Noorweërs geskryf.

Die binnenshuise omgewings in die romans van Garth Greenwell, Philip Teir en Yewande Omotoso en hoe dit die siel van die karakters weerspieël was een van die besprekings in die kelder van The Book Lounge. Die gesprek is gelei deur Ed Suter. Hul boeke speel onder meer in Finland, Londen, Sofia in Bulgarye en Constantia, Kaapstad af. Garth, outeur van What Belongs to You, wat afspeel in Sofia, sê tydens sy vier jaar verblyf daar was dit die eerste maal wat hy ‘n ideologie so duidelik in die argitektuur kon sien. Sy boek speel af teen die grys Sowiët woonstelblokke, sogenaamde “blokovi” en hoe die grysheid die karakter se gemoed uitbeeld.

In ander sessies kon feesgangers leer hoe om hul eie strokiesprente te teken, hoe om ‘n roman-idee ‘n werklikheid te laat word en vele meer.

 

open 2

Die wenner van die Leopard’s Leap Haiku-kompetisie, was Graham Dukas. By Graham (regs) staan die feesdirekteur en ook eienaar van The Book Lounge, Mervyn Sloman, en Liné Smit, handelsmerkbestuurder van Leopard’s Leap.

opem 3

Dale Halvorson skryf saam met die riller-skrywer Lauren Beukes, die strokiesprent-reeks, Survivors’ Club. Saam met hulle by die Open Book Festival openingsaand, is Hippolyte, die Franse strokiesprent-tekenaar wat ook ernstige onderwerpe onder die soeklig bring in sy werke.

open 4

Die binnenshuise omgewings in die romans van Garth Greenwell, Philip Teir en Yewande Omotoso en hoe dit die siel van die karakters weerspieël was een van die besprekings.

open5

Een van die groot internasionale skrywers by die fees was die Noorweegse outeur, Jostein Gaarder, wat met Karina Szczurek gesels het.

open6

Die outeurs en sprekers in die sessie, Point of departure, oor hoe daardie aanvanklike vonkie ‘n boek word, is van links, Rosemary Sullivan, Nomavenda Mathiane en Kim Leine, wat gelei is deur Pippa Hudson.

open 7

Die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, was ook een van die sprekers by die fees. Hy het na die tyd in die Homecoming-sentrum verdere vrae geantwoord en met feesgangers gesels.

SOURCES
Clifford Roberts

Send this to a friend