WERK VAN DIE HUIS AF | Vrouekeur

WERK VAN DIE HUIS AF

finansies

Hoe kies ‘n mens ‘n tuisbedryf? Betsie Loock-Van der Merwe gee raad in ons 11 Desember-uitgawe.

Hier is nog wenke vir tuisondernemings.

Doen navraag by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) of ‘n geregistreerde belastingpraktisyn oor jou spesifieke opset se verpligting teenoor die Ontvanger van Inkomste. Individue wat nie in diens van ‘n werkgewer is nie, maar ‘n inkomste “van die huis af” verdien of in ‘n persoonlike kapasiteit handel dryf, is steeds belastingpligtig. Dan kan uitgawes wat aangegaan word (slegs) ter voortbrenging van die inkomste belastingaftrekbaar wees.

Maak ook seker waar jy geregistreer moet wees vir jou spesifieke opset en aan watter vereistes jy dalk moet voldoen. Volledige tuisonderrigdienste moet byvoorbeeld by die departement van onderwys geregistreer wees.

Bemarkingswenke:

Riëtte Bornman, Wendy Hinson en Liezl le Roux-Strydom het al drie tuisondernemings. Hulle is dit eens dat bestaande gelukkige kliënte wat die woord versprei die beste bemarkingsnetwerk is. “Dus is my produk my advertensie,” sê Liezl. “Ek gee visitekaartjies saam met my koeke wat my klante kan uitdeel as iemand vra.” Om vir bestellings te wag, werk nie.

“Vertel vir mense wat jy doen. Sosiale media help ook, maar jy moet bereid wees om tyd daaraan te bestee.”

Pamflette, klein advertensies in skool- en kerkkoerante en dies meer kan jou bemarking aanvul.

Wendy adverteer ook op Gumtree.

Riette het groot lof vir die Facebook-blaaie “Maak iets, maak geld” (bykans 82 000 lede) en “R&R Arts en Crafts” (bykans 36 000 lede) waarop mense hul handgemaakte artikels kan adverteer.

As jy ‘n mark kies waar jy jou produk wil uitstal, sal dit gewoonlik gekeur moet word. Maar maak ook seker jy “keur” die mark voor jy dit kies. Besoek dit vooraf om te sien hoeveel voete daar is, watter tyd dit aangebied word en vind uit hoeveel moeite die organiseerder doen om die mark te adverteer

Kyk ook na winkels waar rakruimte gehuur kan word en kommissie gehef word. Maak seker jy verstaan die kontrak ten volle.

Ondersoek die moontlikheid van aanlynverkope op webwerwe soos Etsy, E-Bay, Bid or Buy en dies meer.

Send this to a friend