Wie is ons om met die wetenskap te stry? | Vrouekeur

Wie is ons om met die wetenskap te stry?

wie_is_ons_om_met_die_wetenskap

Verskeie akademici is dit eens dat ‘n driedagnaweek ons almal gesonder sal maak

Zerelda Esterhuizen

Ons almal weet hoe lekker ‘n langnaweek is. Ai, as daardie vakansiedag op ‘n Vrydag of ‘n Maandag val, is ons dankbaar. Nog ‘n dag vir ontspan en nog ‘n dag wat jy die verkeer kan misloop. Dink net as ons elke week so ‘n “langnaweek” kon hê … Ons sal nie net meer kan rus nie, maar ons sal ook die impak op die omgewing verminder.

Sosioloog Alex Williams van die Universiteit van Londen voel sterk oor ‘n vierdagwerksweek en glo daar is al genoeg bewyse dat daar verskeie voordele daaraan verbonde is.

Ekonome David Rosnick en Mark Weisbrot sê verminderde werksure korreleer met verminderde energieverbruik. As Amerikaners byvoorbeeld die Europese werksure volg, sal hulle ‘n 20% vermindering in energieverbruik sien – en daarom in koolstofgasse ook. Daar sal minder verkeer en energieverbruik by werksplekke wees.

In 2007 het die Amerikaanse staat Utah die werksweek vir staatsamptenare verminder. Hulle het langer ure van Maandae tot Donderdae gewerk en was Vrydae af. Hoewel hulle steeds eintlik dieselfde ure gewerk het, was daar groot besparings vir die staat. Utah het 1,8 miljoen dollar in die eerste tien maande in elektrisiteitskoste bespaar.

Minder werksdae het minder kantoorbeligting, lugversorging en toerustingskostes beteken. As jy die koolstofgasse ook kon bytel, het dit in een jaar ongeveer 12 000 ton koolstofdioksied minder beteken.

Ongelukkig moes Utah die eksperiment in 2011 staak omdat inwoners gekla het oor die tekort aan dienste op Vrydae. Maar dit sal natuurlik kon verander as die inwoners ook op daardie dae af was …

Alex Williams sê daar is ook ander voordele soos om jou fisieke en verstandelike welsyn te verbeter en daar is meer tyd vir jou kinders en gemeenskap.

Hy noem dat eksperimente in Swede toon dat verminderde werksure gelyk is aan verbeterde gesondheid en ‘n toename in produktiwiteit.

Alex Williams se kommentaar het aanvanklik in The Conversation verskyn

Send this to a friend