Wynmaker: Peter de Wet | Vrouekeur

Wynmaker: Peter de Wet

wynmaker_peter_de_wet

Peter de Wet het op De Wetshof Landgoed buite Robertson grootgeword en volg nou in die voetspore van sy pa, Danie, met ‘n wynmaak-loopbaan.

Maryke Roberts

Sy passie vir wynmaak, het hom by die Geisenheim Instituut vir Oenologie in Duitsland laat studeer, waar hy die verskeie aspekte van wynmaak en wingerdbestuur onder die knie gekry het.

Hy het al by verskeie landgoedere regoor die wêreld gewerk, waaronder Domaine Bertagna (Boergondië), Domaine Laroche (Chablis), Nicolas Maillart (Champagne), Vignoble Despagne (Bordeaux) en Weingut Dr. Deinhard (Duitsland). Hy het ook tyd in Napa in Amerika deurgebring, waar hy saam met die internasionaal bekende wingerdboukundige dr. Phil Freese gewerk het.

Peter was al ‘n naaswenner in die gewilde Diner’s Club Jong Wynmaker van die Jaar-toekenning en maak tans die landgoed se Methode Cap Classique (MCC) vonkelwyn en lei ook die landgoed se rooiwynprojek, wat die Thibault Red Blend – die nuutste aanbod van die landgoed – insluit.

Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?

Ek het my eerste wyn gemaak toe ek vier jaar oud was – in 1988. Maar ek het regtig by die proses betrokke geraak toe ek in 2000 begin het met die MCC. Ek het in 2007 voltyds by De Wetshof aangesluit.

Wat was jou drome op skool?

Ek het altyd van wynmaak gehou en gedink dit behoort lekker te wees as jou stokperdjie jou beroep kan wees. Rekenaars was altyd plan B.

As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?

Dan sou ek heel waarskynlik in finansies gewees het. Dis my een stokperdjie en dis wraggies winsgewender as wynmaak!

Wou jy altyd wynmaker in Suid-Afrika wees of het jy gedroom van oorsee wees?

Ek het al verskeie oeste oorsee gedoen. Die grootste pret wat ek gehad het, was in Boergondië, Bordeaux en Kalifornië. Maar Suid-Afrika het net daardie iets wat hulle nie het nie.

Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?

Wanneer wyn balans het, maak dit my hart warm.

Wat is jou gunstelingwyn?

Van De Wetshof sal dit die 1993 D’Honneur wees en van alle wyne, die 1979 Clos Vougeot, Clos de Perriere.

Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?

Ons het ‘n goeie beeld, maar daar is altyd ruimte vir verbetering en ons werk daaraan.

Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?

Hulle het beslis waarde om vir die algemene Jan Publiek te wys watter wyne dalk beter kan wees as ander. Sommige dra meer gewig as ander, afhangende van die standaarde en reputasie van die kompetisie.

Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?

Om die MCC-projek te begin, met geen waarborg van sukses nie.

Wat is die uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?

Ek het altyd een wyn waaraan ek baie meer tyd spandeer as die ander en om altyd te probeer om die grense te verskuif, is my uitdaging. Volgende jaar wil ek op pinot noir fokus.

Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?

Dis nie my spesialisveld nie, maar ek weet ons het ‘n unieke produk wat ons verkoop, met meer handelsmerke as enige ander produk; daarom moet die manier hoe ons dit verkoop, ook anders wees.

Wat is jou mooiste herinnering aan wyn?

Elke jaar kies ek my gunsteling vir die jaar. Ek kan elkeen van hulle onthou en waar ek die spesifieke wyn gedrink het

Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?

Dis baie harde werk vir ‘n gedeelte van die jaar; en ek kon nog glad nie die romantiese deel uitwerk nie!

Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?

Ys in hul wyn – maar as hulle wyn drink, is ek gelukkig.

Waarvan droom jy vir die toekoms?

Om die gelukkige/hartseer dag te bereik wanneer ek nie meer kan verbeter nie. Dit sal ook die dag wees wat ek aftree.

Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?

Een dag is nooit dieselfde as die ander nie en hoewel jy soms dieselfde ding weer doen, is die eindresultaat altyd verskillend. Dis opwindend.

Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?

Ek sal nie dit sê nie, maar die groot SA wyne is net so goed soos die beste wyne in die wêreld.

Watter wenke het jy vir mense wat bang is om te eksperimenteer met nuwe wyne?

Hoe meer verskeidenheid daar in jou speseryerak is, hoe meer vlakke kan jy aan jou kookkuns gee. Maar sout en peper is altyd nodig. Proe alles, maar drink waarvan jy hou.

Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?

Die beste wyn wat jy kan maak, is wanneer jy so min as moontlik inmeng met wat die natuur jou gee.

Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?

Daar is ‘n baie lang lys wynmakers na wie ek gaan vir raad, maar die SA wynbedryf is ‘n oop boek; almal is bereid om raad te gee.

Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?

Doen wat jy graag wil doen.

SOURCES
verskaf

Send this to a friend