Redakteursbrief: Geweld kweek geweld

Geweld is iets wat my baie bang maak en dis sowaar net nooit ’n oplossing vir ’n probleem nie

Die afgelope paar weke is ek grasweduwee, wat beteken my aande is my eie tyd. Behalwe dat ek verlang, gee dit my die geleentheid om na hartelus tot in die nanag te verf.Om die stilte te verbreek, is my iPad neffens my in my piepklein studio en ek luister Forensic Files op Netflix, want jy hoef nie te kyk nie – die lopende kommentaar vertel vir jou die storie. Dit herinner my aan my kinderjare toe ek saans saam met my ma na stories op die radio geluister het – Lux radio theatre as ek reg onthou.

So ek het dit reggekry om na al nege reekse (elke reeks het 40 stories) te luister. Dis 360 stories. Hoekom vertel ek dié storie? Omdat ek nie kan glo dat mense soveel moorde pleeg nie! Die gevolgtrekking waartoe ek kom, is dat sommige mense pleks van skei, besluit om hul lewensmaats eerder te vermoor. Bykbaar, so sê die kenners, kyk hulle juis daarom eers na die eggenoot in die geval van ’n moord. Die bose goed wat mense uitdink om van ander mense ontslae te raak, is vir my onbegryplik. Geweld is iets wat my baie bang maak en dis sowaar net nooit ’n oplossing vir ’n probleem nie. Dit wemel van geweld wêreldwyd en mense wat daaraan skuldig bevind word, beland (tereg) agter tralies.

Die stories in Carla van der Spuy se jongste boek, Liefde agter tralies, slaan my eerlikwaar ’n bietjie dronk. Op bl 14 gee ons dié week ’n uittreksel van een van die stories, en hoewel ek myself deurgaans vermaan dat daar ’n baie dun lyn tussen veroordeling en ’n mening is, moet ek bieg dat ek hierdie fenomeen nie kan kleinkry nie. Hier sit ek as grasweduwee en verlang na my man, maar ek weet ek sluit oor twee weke by hom aan waar hy op ’n Griekse eiland vir my wag. Hoe op aarde trou jy met iemand wat vir jare agter tralies moet sit? Wat is die sin? En as die mens agter tralies ’n geweldenaar is, wat besiel jou? Nou ja, hoe lui die spreekwoord? ’n Ander mens se boek is duister …

Van geweld en aggressie gepraat … JB Roux se artikel op bl 12, “Geweld orals waar ons kyk”, lig iets uit wat ek dink wêreldwyd ’n groot probleem is. Geweld is oral om ons – in die virtuele wêreld, maar ook in die “regte” lewe op ons skerms. Ons lees en sien elke dag die een of ander gewelddadige daad. Dis onbetwisbaar dat mense wat relatief normaal is, soos dié wat eerder skei as moord pleeg, nie onaangeraak bly in omgewings waar geweld aan die orde van die dag is nie. Praat met diegene wat in oorlogsituasies was en jy kom agter watter impak dit op hul psige gehad het – hulle is nooit weer dieselfde nie.

Die probleem is dat as mens voortdurend aan geweld blootgestel word, bestaan die gevaar dat dit jou desensitiseer. Die einste mense wat oorloë oorleef het, sal dit ook beaam. Ek wonder hoekom ons in 2019 steeds oorloë het? Hoekom maak mense mekaar dood? Dis ’n vraag waarop ek glad nie ’n antwoord het nie, maar wat ek wel weet, is dat geweld nooit die antwoord is nie – nie op persoonlike of sosiale vlak nie – en dat geweld geweld aanwakker. Mahatma Gandhi het gesê: I object to violence because when it appears to do good, the good is only temporary; the evil it does is permanent

Send this to a friend