Redakteursbrief: Patrone en nog verrassings

’n Nuwe hekelaar in Vrouekeur se midde

So ’n paar maade gelede kry ek ’n e-pos van Karen Adendorff, wat sedert 2013 deel van die vryskutspan virVrouekeur is. Dié lekker mens se hekelpatrone het deel van menige hekelaar se versamelings geword en haar hekelboeke pryk in ewe veel boekrakke. In Karen se e-pos kry ek goeie én slegte nuus. Die slegte nuus is dat sy vanaf hierdie maand nie meer deel van ons span kan wees nie. Die goeie nuus is dat haar man ’n aanstelling in Holland gekry het en die gesin reeds sak en pak in die verre land besig is om hul voete te vind en ’n nuwe lewe aan te pak. Karen, ons gaan jou mis, maar wens jou en jou geliefdes net die beste vir die toekoms toe. Dankie vir jou harde werk en lojale ondersteuning.

Met Karen oorsee, moes ons ’n nuwe hekelghoeroe aan boord kry. Hilda Steyn is van dié week af deel van die VK-span. Haar naam is in die hekel-enbrei- kringe, nie net ter plaatse nie, maar wêreldwyd welbekend, en met rede. Sy is ’n ontwerper van formaat en hekel en brei al vandat sy vier jaar oud is. Haar ma, wat nooit ’n patroon gebruik het nie, het haar leer brei en hekel. G’n wonder dié vrou se ontwerpe is so gewild nie. Van hierdie week af gaan Hilda se hekelontwerpe ook twee keer per maand verskyn. Hilda is ook die nuwe administreerder van ons Facebook-blad vir brei en hekel (Vrouekeur brei en hekel) en as jy haar google, gaan jy aanlyn baie by dié interessante kunstenaar kan leer.

Send this to a friend