Klassieke klanke: Anton Diabelli

Rudolf Buchbinder

Die Oostenrykse pianis Rudolf Buchbinder het ter viering van Beethoven se 250ste geboortejaar volgende jaar met ’n soortgelyke plan as dié van Diabelli vorendag gekom

Deur JOHAN MYBURG

In die musiekgeskiedenis leef die naam van Anton Diabelli voort danksy die 33 variasies, bekend as die Diabelli-variasies, wat Beethoven – aanvanklik teësinnig – geskryf het. Op sy dag was Diabelli bekend as die Oostenrykse musiekuitgewer wat in 1819 met die “Deutscher” vorendag gekom het: ‘n Duitse dans in 32 mate wat as die voorloper vir die wals gereken word. Dié komposisie het hy vir sowat 50 komponiste gestuur met die versoek om variasies op dié oorspronklike tema te skryf.

Sy plan was om al die variasies te bundel en uit die wins van die verkope weduwees en wese van die Napoleontiese oorloë finansieel te steun. Diabelli het bydraes van ‘n magdom Oostenrykse komponiste ontvang, onder andere van Carl Czerny, Franz Schubert, Mozart se seun Franz Xaver en Johann Nepomuk Hummel. Franz Liszt was agt toe die uitnodiging uitgestuur is en Czerny, sy onderwyser, het gereël dat die Hongaars gebore Liszt ook kan deelneem.  

Ludwig van Beethoven het wel ‘n uitnodiging gekry om deel te neem, maar het die versoek van die hand gewys omdat hy gemeen het die saak is te banaal vir woorde. Vier jaar later het Beethoven egter vir Diabelli sy 33 variasies, op. 120, aangestuur, wat meteen ook Beethoven se laaste voltooide grootskaalse werk vir die klavier was. En een waarna die dirigent Hans von Bülow later verwys het as ‘n “mikrokosmos van Beethoven se geniale vermoëns”.

Czerny, wat op sy beurt ‘n leerling van Beethoven was, het opgemerk dat Beethoven in die somer van 1819 terstond 23 van die variasies “met groot opwinding” geskryf het, maar die projek toe laat lê het tot en met 1823 ná die voltooiing van die Missa solemnis en die laat klaviersonates. Nou het die Oostenrykse pianis Rudolf Buchbinder, wat vroeër in sy loopbaan die Diabelli-variasies op plaat opgeneem het, ter viering van Beethoven se 250ste geboortejaar volgende jaar met ‘n soortgelyke plan as dié van Diabelli vorendag gekom.

Die 73-jarige Buchbinder het 11 eietydse komponiste genader om variasies op die Diabelli-tema te skryf. Hy beplan om dié variasies vir Deutsche Grammophon op te neem en ook in sy 2020-konserttoer in te sluit. Die komponiste wat hy betrek het, is Krzysztof Penderecki, Rodion Shchedrin, Brett Dean, Max Richter, Jörg Widmann, Toshio Hosokawa, Lera Auerbach, Brad Lubman, Philippe Manoury, Johannes Maria Staud en Tan Dun.

Oor die projek het Buchbinder gesê hy het in sy ses dekades as konsertpianis nog altyd gestreef na interpretasies waarin tradisie en innovering versmelt raak, en so ook getrouheid en vryheid, outentisiteit en ‘n oopkopbenadering.Benewens die Beethoven-Diabelli-variasies is Buchbinder een van die min pianiste wat die volledige tweede deel van Diabelli se bundel variasies, die sogenaamde Vaterländischer Künstlerverein, met die werk van die 50 komponiste, uitgevoer het. (Beethoven se variasies is opgeneem as die eerste deel van die bundel.)

In die Beethoven-feesjaar tree Buchbinder in die 2019/20-seisoen van die Wiener Musikverein in ‘n uitvoering van al vyf Beethoven-klavierkonsertem op. Vir dié vyf konserte is hy ook die solis saam met die Gewandhaus Leipzig met Andris Nelsons as dirigent, die Weense Filharmonie onder leiding van Riccardo Muti, die Beierse Radio-orkes onder leiding van Mariss Jansons, die München Filharmonie onder leiding van Valery Gergiev en die Sächsische Staatskapelle Dresden onder leiding van Christian Thielemann. Buchbinder is ‘n erelid van die Weense Filharmonie, asook die Israelse Filharmonie.

Send this to a friend