Pamela se crème brûlée

Tradisioneel word crème brûlée met net room en eiergele gemaak, maar Pamela Shippel is die eienaar en sjef van Kirstenbosch Tea Room hou daarvan om dit minder ryk te maak en gebruik ’n melkmengsel en minder eiergele. Sy voeg ‘n bietjie stysel by om dit te stabiliseer en ’n fluweelagtige sagtheid te gee.

Bestanddele

25 g (2½ e) mielieblom
330 ml melk
375 ml room
85 g suiker
1 geskraapte vanieljepeul (hou die saadjies en peul)
9 eiergele
150 g karamel (bruinsuiker)
Voorverhit oond tot 120 oC

Metode

1 Meng mielieblom, melk, room, suiker, vanieljesaadjies en -peul en bring tot kookpunt.
2 Roer gedurig en laat dan vir 5 minute afkoel.
3 Klits eiergele goed en gooi stadig warm vloeistof by, terwyl jy dit gereeld roer.
4 Gooi in ses of agt oondvaste ramekins of een vlak bak en sit dit in ’n roosterpan met koue water in in die oond. Die bakkies moet halfpad in water staan. Bak vir ongeveer 40 tot 60 minute of tot poeding stol. Haal uit water en verkoel.
5 Maal suiker in meul tot fyn. Sprinkel suiker net voor bediening op poeding en gebruik ‘n blaasvlammetjie om suiker in ’n goudbruin karameldop te verander. Moenie dit te lank brand sodat die suiker te donker word nie.
6 Laat staan vir 5 minute sodat suiker kan hard word en effens kan afkoel.
7 Sit saam met vars bessies voor.

Send this to a friend