Opgerolde soetkoekies

spiraalvrieskaskoekies

Hierdie opgerolde soetkoekies is die ideale resep om die kinders mee besig te hou. Deel uit as ’n tuisgemaakte geskenk

Maak 2 dosyn

Bestanddele

500 ml (2 k) koekmeel
2,5 ml (½ t) bakpoeier
1,25 ml (¼ t) sout
160 ml (2/3 k) versiersuiker
60 ml (¼ k) suiker
280 g botter (in blokkies gesny)
5 ml (1 t) vanielje
2,5 ml (½ t) rooi koekkleursel
30 ml (2 e) koekmeel
1 25 ml (½ k) kleurstrooisels (100’s & 1000’s)

Metode

Verhit oond tot 180 ºC en voer bakplaat met waspapier uit.

  1. Gooi koekmeel, bakpoeier, sout, versiersuiker en suiker in voedselverwerker.
  2. Voeg botter blokkie vir blokkie by en verwerk totdat dit soos broodkrummels lyk.
  3. Voeg vanielje by en verwerk totdat dit ’n bal vorm.
  4. Deel deeg in twee gelyke dele.
  5. Sit een deel terug in voedselverwerker, voeg koekkleursel en 30 ml koekmeel by en verwerk totdat kleursel deurgemeng is.
  6. Rol ongekleurde deeg tussen twee stukke waspapier van 27 cm x 25 cm uit, herhaal met rooi deeg.
  7. Haal bokant van wit deeg se waspapier af en verf ’n bietjie water bo-oor. Haal rooi laag se een stuk waspapier af en plaas rooi deeg boop wit deeg. Druk liggies vas.
  8. Verwyder boonste waspapier, rol dubbele lae deeg in die lengte op en rol styf met kleefplastiek vas. Bêre in yskas vir twee uur. Kan vir tot drie maande in vrieskas gebêre word.
  9. Haal uit yskas en verf liggies met water. Rol in kleurstrooisels om hele buitekant te bedek.
  10. Sny rol in 5 mm-skywe en bak vir 15 minute of tot goudbruin.

Send this to a friend