Raakvat met rooibos

Rooibostee is nie net vir ou tannies nie – maak ‘n skemerkelkie daarvan!

Wilna Myburgh

Rooibostee mag nou wel vir ons alledaags voel, maar dié seisoen word dit as ‘n gunstelingmengeldrankie beskou. Ernest du Toit, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad vertel dat rooibostee ‘n maklike manier is om enige skemerkelkie op te kikker. Hy meen verder dat dit veral goed gaan saam met vodka en gin omdat dit van dieselfde karaktertrekke as rooibostee het.

Terwyl meeste skemerkelkies hoog in kalorieë is kan jy jouself troos dat rooibos laag in vet én koolhidrate is. Natuurlik bevat dit ook antioksidante.

Eksperimenteer self met jou rooibostee of geniet een van hierdie heerlike resepte:

Rooibosteepons

500 ml sterk rooibostee, verkil

500 ml perskesap

ongeveer 100ml vodka

1 suurlemoen, dun gesny

handvol vars kruisementblare

2 perskes, dun gesny

1 Meng al die bestanddele in groot beker en meng goed.

2 Bedien met ys


Aarbeipons

750 ml sterk, koue rooibostee

1 liter appelsap

1 liter grenadellasap

1 liter aarbeisap

2 bottels (750 ml elk) vonkelende rooidruiwesap

1 bakkie aarbeie, gesny

1 lemoen, gesny

vars kruisementblare

1 Meng tee en drie soorte sap en verkil dit.

2 Voeg verkilde vonkelende druiwesap by.

3 Garneer met aarbeie, lemoen en kruisement.


Rooibostee en gin

1 Maak kwart koppie rooibostee en voeg by 3 liter van jou gunstelinggin.

2 Laat vir drie ure teen kamertemperatuur staan.

3 Geniet en gebruik dit in jou gunstelingmengeldrankie.

Vir meer inligting oor rooibos en al die gebruike daarvan, klik hier om die webwerf van die SA Rooibosraad te besoek. 

Send this to a friend