13 vrae aan Desiree-Anne Martin

 

13 vrae aanDesiree-Anne Martin, wie se boek, We Don’t Talk About It. Ever. by Jacana verskyn het. Dis ’n pynlike memoires van seksuele misbruik en verslawing; maar ook oorwinning:

1. Wat hoop jy bereik hierdie boek daarbuite?

Ek wil graag ’n boodskap van hoop bring vir diegene wat met ’n verslawing worstel en dié wat daardeur geraak word. Dat ongeag wat met jou gebeur, jy steeds kan opstaan en uitstyg.

2. Glo jy dat jou ervaringe van dwelm-afhanklikheid ander mense sal kan help; of is verandering en hulp nie so oppervlakkig en eenvoudig nie?

In my praktyk as verslawingsterapeut, was my eie reis fundamenteel om ander te help. In die 12-stap-groepe waaraan ek behoort, geld die basiese beginsel van “een verslaafde help ’n ander”.  Hoewel persoonlike ervaring van verslawing nie noodsaaklik is nie, is dit ’n belangrike deel van my werk met ander.

3. Blameer jy jou ouers oor die manier wat jy grootgemaak is; dat hulle jou seksuele misbruik afgelag het?

Nee. Hulle was onbewus van die realiteit; soos ek aanvanklik was. Ek glo hulle het die beste gedoen wat hulle kon, maar hulle was nie sensitief genoeg teenoor my ervaringe van seksuele misbruik en ander vergrype. Ook, toe ek grootgeword het, was dit gewoonte dat kinders gesien, maar nie gehoor moet word nie. In my geval is ek nie eers gesien nie.

4. Leef hulle nog en hoe is jul verhouding nou?

Hulle albei leef nog en ons het redelike goeie verhoudinge. Ek het baie verander en het die vermoë om eerlik met hulle te wees en grense op te stel; iets wat ek as kind nie kon doen nie.

5. Is jy bang jou dogters verwerp jou later in hul lewe as hulle die boek gelees het en besef waardeur jy is?

Ek het nog nooit daaraan gedink nie, maar ek is nie bang vir verwerping nie. Ek bekommer my wel oor my oudste, sy is 11, want sy is baie sensitief en empaties om seer te ervaar weens my lewenservaringe. Ek en my man het ’n vertrouenswaardige en oop verhouding met ons dogters en sy is vry om enige vrae te vra en ons probeer om dit in ’n ouderdoms-toepaslike manier te antwoord.

6. Watter boodskap het jy vir ouers of geliefdes wat met iemand saamleef wat ’n dwelmafhanklike is?

Daar is altyd hoop. Kry hulp vir die verslaafde en vir die gesin, want dis ’n siekte wat almal raak.

7. Wat het jy van jouself geleer deur al hierdie episodes in jou lewe?

Dat ek ’n slim, vindingryke, veerkragtige krygsvrou is!

8. Voel jy bevry van jou vorige lewe of dra jy baie skuldgevoelens?

Ek dra geen skuld of skaamte oor die verlede nie. As ek het, dink ek nie hierdie boek sou moontlik gewees het nie.

9. Hoe raak mens ontslae van daardie skuldgevoel?

Vir my het langtermynterapie gehelp en ook om liefdevolle, koesterende verhoudings te bou en myself en ander te vergewe.

10. Wie het die grootste indruk op jou lewe gemaak?

Outeurs en digters, omdat die vermoë om in woorde en taal te ontsnap en my eie stories te vorm, my grootste plesier is. My eerste  eerste borg by die rehabilitasiesentrum het my geleer om weer te leef.

11. Jy het jou eie praktyk, is besig met ’n graad in afhanklikheidsorg, het ’n liefdevolle man en twee dogters. Is dit beter as waarvan jy gedroom het?

Dit is beter as enigiets waarvan ek ooit kon droom, veral toe ek in die kloue van verslawing was. Ek het op skool gedroom om ’n aktrise te word, en dis nooit te laat nie!

12. Waarvoor is jy die dankbaarste in jou lewe?

Ek is die dankbaarste vir my herstel, want dit het my ’n ongelooflike lewe met ’n liefdevolle gesin, ondersteunende vriende, selfliefde en oorvloed gegee.

13. Waar is huis en wat is huis vir jou?

Huis is Kaapstad en dis die plek waar ek saam met my familie kan wees, vertroetel kan word en waar ek kan skep en slaap. Ek sukkel om te slaap en hou daarvan om te skep as ek nie kan slaap nie.

Send this to a friend