9 vrae aan dr Winston Wicomb

9 vrae aan dr Winston Wicomb, bekende biochemikus, wat deel van Chris Barnard se hartoorplantingspan én die te-donker-broer van Randall Wicomb is:

1. Wat onthou jy van Chris Barnard?

Hy was ’n stout man. Maar hy het my geleer jy moet jou voet in die deur kry; sodat jy met albei voete daar kan deurstap.

2. Hoekom het jy besluit om ’n boek oor jou lewe te skryf?

Dit was eintlik vir my kinders, wat heeltemal Amerikaans grootgeword het. Ek het geweet hulle gaan nooit tyd kry om uit te vind oor hul pa se verlede en grootwordjare in Apartheid Suid-Afrika nie.

3. Wat het vaderskap jou geleer?

Ek moet eers noem dat ek nooit in Suid-Afrika wou kinders hê nie; want ek wou nie diskriminasie teen my dalk-te-donker-kind hê nie. Ons het dus eers in Amerika met ’n gesin begin. Raymond Ackerman van Pick & Pay het vir my geld gegee ná my ontdekking en gesê ek moet oorsee verder studeer sodat ek meer ontdekkings kan maak. Ek het twee wonderlike kinders, maar sjoe, dit bring darem ook baie probleme. My seun se siekte en mediese studieskuld moet nou opgelos word; my dogter sukkel met deportasie-probleme uit die Europese Unie en het haar hart op ’n Duitser wat in Switserland woon, verloor.

4. Is jy spyt julle het na Amerika verhuis?

Ja en nee. Ja, want wanneer ek hier kuier, raak ek heeltemal verlief op die mense en die land. Nee, want die probleem van vyf miljoen witmense en meer as 40 miljoen mense van kleur, lyk onmoontlik om te oorkom. Die land het nie genoeg geld om vir al die nodige mense opvoeding te gee nie en in daardie geval beteken dit groot probleme vir die volgende 20 jaar of meer.

5. Sal jy en Jeanne ook weer in Suid-Afrika kan kom woon?

My droom is om hier vir ses maande van die jaar te woon (somer) en dan ses maande van die jaar in Kalifornië of Seattle te woon (somer). Soos ’n mens ouer raak, soek jy meer warmte. Soos ek ouer word, smag ek baie na my geboorteland en het vir my vrou gesê dat ek in SA wil sterf. Sy sê sy gaan in Amerika sterf; nader aan ons kinders.

6. Hoe verskil jou lewe in Amerika van die ervarings wat jy met elke besoek na Suid-Afrika ervaar?

In Amerika woon ons in ’n wolk en in SA woon ons op die grond. Ons verstaan mekaar beter in SA tussen die wit mense. Ek ken nie swartmense nie so ek kan nie sê nie.

7. Jou ma se aanhaling op jou eerste skooldag dat jy jou mond moet hou, dat mense nie kan sien hoe stupid jy is nie: sou jou lewe anders gewees het as jy nie al as klein seuntjie die verwerping deur jou ma ervaar het nie?

Ek het dom gevoel maar ek was net ses jaar oud. Ek het ook geweet dat ek moet iets doen om nie dom te wees nie, maar nie geweet hoe om dié uitdaging aan te pak nie.

8. Waaraan werk jy volgende?

Ek is bykans klaar met my eie boek, die een wat die antwoord van die lewe inhou, maar dis nog te tegnies en gaan nog baie herskryf verg. Maar miskien sien ons mekaar oor 3 jaar weer hier met daardie bekendstelling!

9. Wanneer kom die fliek wat op jou boek en lewensverhaal gegrond is, uit?

Ek is nie geïnteresseerd in ’n film nie, maar daar is mense wat hard werk om dit moontlik te maak. Ek is net geïnteresseerd in my boek (antwoord van die lewe), want mense wat dit kan verstaan, sal vol liefde wees vir die res van hul lewe en ook vir die wêreld help om te probeer liefde ervaar.

Send this to a friend