Ons gesels met: Neels van Jaarsveld

Tien vrae aan akteur Neels van Jaarsveld, wat nou ’n wrede bendebaas in Deon Meyer se Jagveld speel:

Na watter akteurs kyk jy op?

Sean Penn, Ryan Gosling, Xavier Bardem en Michael Keaton – ek haal my hoed af vir enige akteur wat só lank in die bedryf kan oorleef. Maar ek het meer respek vir Suid-Afrikaanse akteurs as Amerikaanse akteurs. Hulle kry baie meer geld as ons en word baie beter behandel as plaaslike akteurs. Om in Suid-Afrika te oorleef, moet jy hard werk en baie gedrewe wees. Kyk na Dawid Minnaar, Antoinette Kellerman, Marthinus Basson. Jy moet aanhoudend hard werk om bo te bly. Ek het respek vir enige hardwerkende Suid-Afrikaanse akteur – en dis ons almal! Ons akteurs, fotograwe, musikante, alle kreatiewe mense, is wêreldklas, maar ons kry nie dieselfde eer en geld as oorsese sterre nie.

Is jy ’n gesondheidsbewuste?

Ja, ek is ’n health nut! Ons eet nou net organies, niks suiker nie en probeer stysel vermy. Daar is hierdie oulike plek op Kleinmond, Die Blou Bakkie, waar ons vars groente en vrugte koop. Hulle maak hul eie joghurt en plaasbotter. Dis heerlik om daar te koop. Die vleis op die dorp is ook van goeie gehalte en dis baie maklik om gesonder te eet en te leef hier.

Wat lees jy graag?

Outobiografieë, die werke van Tom Robbins, Kurt Vonnegut, Chuck Palahniuk, en dan af en toe lekker ligte reisverhale, The Old Man and The Sea, Jonathan Livingstone Seagull

Jy is oor twee jaar 40. Is jy waar jy min of meer wou wees?

Ouderdom is relatief. Die samelewing is baie ingestel daarop en dit veroorsaak baie dilemmas. Ek is absoluut waar ek wil wees. Ek het ’n vrou, ’n huis op ’n fantastiese plek, wonderlike honde en my loopbaan is steeds op dreef. Ek word wel gedwing om innoverend te bly, maar ek sien dit as positief. Hopelik kan my internasionale werk ook in die volgende 40 jaar meer word!

Watter toekenning staan vir jou uit en hoekom?

Elke toekenning is ’n eer, want dis altyd fantasties as ‘n mens se werk erkenning kry, maar my Kanna vir Beste Spel saam met Quentin Krog vir Boks, is wel ’n hoogtepunt. Elke benoeming bly ook ’n aanduiding dat ‘n mens in die regte rigting beweeg. Die South African Film & Television Awards (Saftas)-benoeming wat ek vir my rol vir beste akteur in Bloedbroers losgeslaan het, was ook baie aangenaam.

Watter rol was sover jou grootste uitdaging én oorwinning?

Ek hanteer elke rol met die nodige respek en voorbereidingsprosedure. Snaaks genoeg was my grootste uitdaging en oorwinning Deon Opperman se teaterweergawe van NP van Wyk Louw se Raka.

Waarvan droom jy?

Sukses. Geluk. Reis. Finansiële vryheid. Avontuur. Geen konflik.

Wat is die beste raad wat jy al ontvang het en van wie was dit?

Deur die jare was ek al baie bevoorreg om saam met ongelooflike mense te kon werk, maar van die beste raad wat ek ontvang het, was in dramaskool by Johan Esterhuizen, wat gesê het jy moet nooit jouself beter ag as ander nie; jy mag dalk die beste vertolking van jou lewe lewer, maar as daar nie iemand ’n lig op jou skyn nie, beteken jou vertolking niks.

Jy het openlik in die media gepraat oor jou 16 jaar lange stryd met alkohol. Hoe besluit ʼn mens om met die hele sak patats vorendag te kom?

Dis beter om eerlik te wees. Almal maak foute. Almal het struwelinge. Almal het verslawings. Jy raak gewoond aan die droog wees. Jy besef jy het net nie daai opsie nie. Ek sal graag een of ander tyd op ’n inspirerende, motiverende toer wil gaan. Maar seker eers later. Daar is altyd hulp en hoop.

Wat het jou daardeur gedra?

My vriende, my familie, maar aan die einde van die dag moet ‘n mens self die besluit neem. Tranquilityclinic.co.za (waar ek ’n pasiënt was) het my ook baie gehelp.

Was dit nie moeilik om die rol van ’n alkoholis-pa te vertolk in ’n Man soos my pa nie?

My navorsing was baie deeglik. Hehe. Dit is wel nogal moeilik om oortuigend dronk te speel. ‘n Mens moet baie fyn werk.

Send this to a friend