Wynmaker Ilse Schutte

ilse schutte wyn

Ilse Schutte is die eienaar en wynmaker van Bemind Wyne, ’n garagiste, op McGregor

Deur Maryke Roberts

Foto verskaf

Sy vertel dat sy en haar man, Jan (’n eiendomsontwikkelaar en kelderhulp) en hul 22 maande oue dogtertjie, Ila, op die dorp woon, “wat in elk geval een groot plaas is. My kind kan buite speel en in die straat loop en die perde gaan voer sonder om heeltyd oor haar skouer te kyk.”

Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?

Ek wou nog altyd anders wees as die groep en as ’n meisie van Potchefstroom, het dit baie anders geklink om wynmaak te gaan studeer. Ek het besluit, aangesien ek ’n kunstige mens is wat daarvan hou om iets te skep, gaan ek wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.

Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?

Assistent-wynmaker by Augusta Wines in Franschhoek.

Hoe het jy in jou huidige pos beland?

Ek het McGregor toe verhuis omdat ek die pos as wynmaker by Lord’s Wines gekry het en daar in McGregor ontmoet ek toe vir Jan. Ná ’n lang gesprek van waarnatoe vorentoe, het ek vir Jan gesê, ek gee nie om waarheen nie, maar ek wil nie ophou wynmaak nie, dit is ’n te groot passie vir my en parstyd is my gunstelingtyd van die jaar. Met die ondersteuning van my familie het ek toe die geleentheid gekry om my eie klein keldertjie, ´n garagiste, te begin – en wat ’n voorreg is dit nie! As garagiste maak ek my wyn letterlik in my motorhuis in die middel van die pragtige dorpie, in die hoofstraat en mense kan sommer net so instap en kom kyk wat ek doen. Ek het al die masjinerie, dis net op klein skaal en hand-aangedrewe. As garagiste mag ek nie meer as 9 000 bottels per jaar produseer nie, by Bemind Wyne produseer ek 7 500 bottels. Ek maak wyn omdat dit vir my ’n passie is om te maak, te drink en te deel. Daarom die naam Bemind.

Hoe sien jy jouself as wynmaker?

Versigtig-avaontuurlustig. As so ’n klein produsent het ek geen kans vir opmors nie, so versigtig is ek, maar na 17 jaar van wynmaak vir ander mense, kan ek uiteindelik 100% doen wat ek wil. Nou  is ek avontuurlustig en het sommer besluit om ’n cinsaut te maak, wat heerlik uitgekom het. My filosofie oor wynmaak is om klassieke, elegante wyne te produseer waarvan´n mens meer as een glas kan drink.

Vertel ons van jou nuwe wynreeks en van Hartelus?

Bemind Wyne produseer ’n MCC brut, sauvignon blanc, shiraz en cinsaut. Dan het ek ook begin met ’n nuwe reeks, Hartelus, waar ek elke jaar iets spesiaals gaan maak. Dit gaan nie noodwendig elke jaar dieselfde wees nie, dit sal iets wees wat in daardie oesjaar vir my uitgestaan het. Daar sal nooit meer as 200 bottels Hartelus gemaak word nie; dit is eksklusief en enig in sy soort. Elke bottel word persoonlik genommer en geteken.

Wat het jy vinnig as wynmaker geleer?

’n Wynmaker kan nie net haar skeppings in die kelder maak en dit self geniet nie, openbare aansprake is meer deel van jou werk as enigiets anders. Glo my, dit het my ’n hele ruk geneem om daaraan gewoond te raak. Ek hou nie daarvan om in die kollig te wees nie, so veel so dat ek en my man 7 uur die oggend op die berg, 1 200 m bo seevlak, ons huwelikseremonie gehad het, sodat net die familie kans gesien het om te kom. Nou is die kollig deel van my lewe. Een ding wat ek baie geniet, is om nuwe mense om ’n glas wyn te ontmoet!

LEES OOK: Wynmaker Elunda Basson

Wat dink jy is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik?

Geduld en probleme oplos. Kreatiwiteit.

Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?

Hou die Hartelus-reeks dop, daar is ’n interessante versnit op pad. Dan het ek ook in 2017 ’n chenin blanc gepars as basiswyn vir my nuwe MCC brut, wat in  2018/2019 beskikbaar sal wees. Verder sal ons maar sien wat 2018 vir ons inhou.

Van watter beroep het jy op skool gedroom?

Ek het nooit regtig gedroom van ’n beroep nie; ek wou net gelukkig wees, ongeag wat ek doen en waar ek is. Wel, daai droom het vir seker waar geword, ek is tevrede en gelukkig.

Wat is jou gunstelingkultivar?

Elke kultivar het sy eie bekoring, dis vir my moeilik om een spesifieke een te kies. Ek kan wel sê dat ’n viognier my nie opgewonde maak nie.

Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?

Cabernet franc

Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?

Die oomblik toe ek my eerste eie Bemind wyn oopmaak, saam met my bemindes. Verseker samesyn.

Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?

Om uniek te bly in ’n omgewing waar daar meer as 560 wynkelders is en om getrou aan jouself te bly terwyl die verbruiker eintlik die septer swaai.

Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?

Om ’n wynproe aan te bied voor 300 gaste – daardie praat in die openbaar.

Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?

Dat ek deur alles my droom om my eie kelder te besit, kon bewaarheid en Bemind Wyne myne is.

Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?

LEES OOK: Wynmaker: Jacques Cilliers

Elke oesjaar is anders en bring struikelblokke, as elke oes suksesvol afgeloop het, voel ek trots.

Watter wyn- en kos-pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?

Effense branderige garnale met Bemind shiraz en donker sjokolademousse saam met Bemind cinsaut. Daai twee pasmaats het al vele eetgeleenthede in ’n fantastiese ervaring verander.

Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker?

Hulle eksperimenteer meer en gaan soek vir daai iets anders en besonders. As jy die geleentheid kry om minder bekende produsente se wyne te proe, gryp dit aan.

Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?

Die gistingsproses en hoe gevoelig dit vir veranderlikes is. ´n Mens moet dit met ’n valkoog dophou.

Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?

Probeer iets wat jy nie ken nie; jy gaan dit miskien nooit weer kan proe nie. Koop iets waarvoor jy op daardie stadium lus is en vergeet van die persepsies rondom kultivars – elke wyn het sy eie styl.

Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?

“Oooooo, van hierdie een hou ek baie!!”

Wie is jou wynmaakhelde?

Guy Webber

Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?

Enige Argentynse wynmaker wat ’n fantastiese malbec maak.

Hoe voel jy oor die toekoms van die SA wynbedryf?

Optimisties

Watter kultivar dink jy gaan in die toekoms vir Suid-Afrika die meeste roem bring?

Cinsaut

As jy een bekende kon nooi vir ’n wynproe, wie sou dit wees?

Karen Zoid, sy mag maar sing, daar is geen ander sanger soos sy nie en dan is sy trots Suid-Afrikaans. Ek sal graag wil hê sy moet ’n lied in my kelder sing!

Na wie gaan jy vir raad met groot besluite?

Vir seker my man, dis asof ek en hy dieselfde brein deel en taal praat. Hy is net so passievol oor my wyn.

Send this to a friend