Wynmaker: James Ochse

Wynmaker: James Ochse

James Ochse is die wynmaker by Stellenbosch Hills wynkelder

Deur MARYKE ROBERTS

Foto verskaf

James het twee jaar gelede by die span onder leiding van keldermeester PG Slabbert aangesluit. Die kelder het onlangs sy nuwe wyne bekendgestel, wat bestaan uit ’n ‘manjifieke sewe’ en sluit vyf wyne van die 2016-oes in wat nou gereed is vir vrystelling én die byvoeging van sy top-presterende Stellenbosch Hills Sauvignon Blanc.

Het jy enige byname in die wynbedryf of op die plaas?

My vriende noem my Ochse (soos oes… dis baie gepas vir die bedryf waarin ek is).

Hoe het jou belangstelling in wyn begin?

Soos my ma gesê het; sport en ontspanning was my hoofvakke op universiteit. Dit is maar eers toe ek in 2012 by Ashton Wynkelder as parshulp begin werk het, wat ek werklik begin belangstel het in wyn.

Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?

Dit was in 2011 by Waterford Wynlandgoed – ek was ’n parshulp en moes maar bitter hard werk.

Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al daar?

Ek het gesien Stellenbosch Hills adverteer vir ’n wynmaker en het nog altyd ’n hoë dunk van hul wyn en die kelder gehad. Dit het nie baie gevat om my te oortuig om aansoek te doen nie, want ek was ook gereed vir ’n nuwe uitdaging. Ek was uiters senuweeagtig in my onderhoud, maar hier sit ek darem vandag twee jaar later.

Watter kultivar dink jy is Stellenbosch Hills se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms?

Ons sauvignon blanc is definitief ons vlagskip en ons toekoms lê in ons cabernet sauvignon.

Julle het pas jul manjifieke sewe bekendgestel. Hoeveel druk plaas soveel nuwe wyne op julle vir volhoubare vrystellings in die toekoms?

Daar moet altyd druk wees om jaar op jaar te verbeter – dit is maar deel daarvan om ’n passie vir jou produk te hê. Jy wil kyk of jy jou beste kan doen met die vrug wat die natuur daardie jaar vir jou gee.

Hoe voel jy oor die beeld van die handelsmerk onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?

Die beeld van die handelsmerk is baie belangrik. Mense moet weet dat wanneer hulle ’n wyn van Stellenbosch Hills koop, hulle regtig gehalte koop ongeag die goeie pryspunt. Ek glo ons handelsmerk het ook oor die afgelope paar jaar nuwe hoogtes bereik met al die toekennings wat ons wyne ontvang het.

Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?

Elke seisoen is anders en onvoorspelbaar, so jy beter beplan so ver jy kan. As jy nie fokus nie, dan bestel jy 100 kg se gis in plaas van 10 kg se gis … en dit is ’n duur les.

LEES OOK: Wynmaker: Flip Smith

Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf?

Ek hou van die ou-wêreldse styl en veral die Franse se manier van wynmaak.

Wat beplan jy vir die kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?

Ons het ’n baie opwindende jaar wat voorlê. Ons gaan ons 1ste gehoute Chenin Blanc bekendstel. Daar is ook ’n MCC op die kaarte asook die vooruitsig vir enkelwingerd wyne. Watch this space.

Van watter beroep het jy op skool gedroom?

Ek het op ’n stadium daaraan gedink om ’n rekenmeester te word.

Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?

Die diversiteit daarvan. Daar is iets vir almal se smaak. Elke mens proe iets anders en het verskillende ervarings van dieselfde wyn.

Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?

Petite sirah

Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?

Elke jaar voor die pars begin, is daar ’n oomblik wat jy net wil bars van al die energie en opwinding; jy weet dit is ’n tyd van kreatiwiteit en nuwe dinge wat nou voorlê. Dit is een van my gunsteling-oomblikke.

Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?

2019 gaan definitief ’n klein oes wees, maar ek glo ook die druiwe sal intensiteit hê – ons wynmakers sal weer eens die beste daarvan maak.

Watter kultivar gee jou die meeste grys hare?

Merlot, sommige mense sê merlot is soos ’n vrou …. ek laat dit daar.

Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?

Toe ons verlede jaar die Libertastrofee by die SA Jongwynskou gekry het vir die beste merlot nasionaal. Dit maak darem die ekstra grys hare die moeite werd.

LEES OOK: Wynmaker: Elmarie Botes

Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?

Om as nuwe wynmaker voor ’n ou kelderspan te staan en hul vertroue te wen. Dit is baie belangrik om goed as ’n span in die kelder saam te werk en ek is trots om te sê ons is daar.

As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?

Baie spasie en dan om ’n goeie gravitasie-sisteem te kan oprig.

Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die wynbedryf beter te ondersteun?

Om ’n kelder te gaan besoek en te leer hoe die wynmaakproses werk. Ek dink as mense weet wat dit verg om ’n bottel wyn op die rak te sit, sal hulle bereid wees om meer vir kwaliteit te betaal.

Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?

Ek was tans besig met ons MCC se 2de fermentasieproses en dit was vir my baie fassinerend, eintlik die hele proses rondom die maak van ’n MCC is interessant.

As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?

Moontlik ’n vlieënier.

Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?

Koop Wyn van Oorsprong Stellenbosch – jy kan nie sommer ’n fout maak nie. Ek glo ons streek is regtig wêreldklas wanneer dit by gehaltewyne kom.

Wie is jou wynmaak-helde?

PG Slabbert, ons keldermeester. Ek kan elke dag so baie by hom leer. Dan ook my oom, Kevin Arnold: As kind het hy my baie inspireer en ook opgewonde gemaak oor die wynbedryf.

Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?

Michel Rolland van Bordeaux.

Watter wynproe staan vir jou uit oor die jare?

Ek het ’n paar jaar terug ’n proe met Bruce Jack en Pete Goffe-Wood bygewoon. Ons het daardie aand ’n Portugese rooiwyn van 1803 gedrink – dit was onvergeetlik!

Send this to a friend