Klassieke klanke: Gramophone-pryse

2112-vk1-neeme-web

‘Goeie musiek is die vertrekpunt vir enige mens. Ons het so baie soorte musiek, wat alles maar hul oorsprong in klassieke musiek het – van ritme en harmonie tot tempo’

Deur JOHAN MYBURG

Die Gramophone-pryse wat in wese die Oscars van die wêreld van klassieke musiek is, word sedert 1977 jaarliks aan die uitblinkers in dié bedryf toegeken. Vanjaar se wenners is al in September aangekondig, maar dalk is die somervakansie nou die ideale tyd om ’n bietjie in te haal wat in die woelige 2018 gebeur het. En die CD-speler iets nuuts te gee om te speel. Die toekenning vir die beste opname van die jaar – en tegelyk ook die beste opera-opname van die jaar – het aan die Erato CD-opname van Hector Berlioz se Les Troyens met John Nelson op die podium voor die Straatsburgse Filharmonie gegaan.

Nelson is veral geloof vir die ongejaagde tempo wat hy handhaaf en op dié manier die musiek geleentheid gee om asem te haal. In die rolverdeling van dié opname wat in 2017 gemaak is, is onder andere die mezzosopraan Joyce DiDinato en die sopraan Agnieszka Slawinska. (Terloops, kyk sommer op YouTube na Slawinska se vertolking van George Gershwin se Summertime met Sergio Hernández voor die klavier.) Die prys vir die beste solo-CD (ook uitgereik deur Erato) is aan die Franse mezzosopraan Marianne Crébassa toegeken vir haar voordrag van Franse liedere, Secrets. Die pianis is Fazil Say. “Hoe kan mens die kombinasie van Crébassa se aantreklike stem en ’n keur uit die Franse liedereskat weerstaan,” het die resensent van die BBC Music Magazine vroeër geskryf.

Veral as mens dink aan Claude Debussy se Trois chansons de Bilitis en Maurice Ravel se Shéhérazade, waarin sy moeiteloos sweef. Die Britse violis Rachel Podger, wat haar stempel as Barok-violis afgedruk het, is as kunstenaar van die jaar aangewys. Dié eerbetoon was dalk nie ’n verrassing nie, aangesien haar weergawe van Antonio Vivaldi se La stravaganza in 2003 al die Gramophone se concerto-kategorie gewen het en dieselfde jaar ook as CD-opname van die jaar benoem is. Vanjaar is die concerto-prys aan die violis Christian Tetzlaff toegeken vir sy vertolking van die eerste twee vioolkonserte van Béla Bartók.

LEES OOK: Klassieke klanke: Plácido Domingo

Dié opnames is saam met die Finse Simfonieorkes onder leiding van Hannu Lintu gemaak. Vir sy opname Volodos Plays Brahms het Arcadi Volodos die prys in die klavierkategorie gekry. Wat besonders aan dié opname is, is dat dit sonder enige redigering opgeneem is. Volodos het gewoon elke stuk oor en oor gespeel en die beste weergawes in dié album ingesluit. Die Seattle Simfonieorkes, eers onder leiding van Ludovic Morlot en later sy opvolger Thomas Dausgaard, was die wenners van die eerste orkes-prys. Die Londense Simfonieorkes was ook deel van die kompetisie.

By die toekenning van die 2018 Gramophone-pryse is die 82-jarige Estonies- Amerikaanse dirigent Neeme Järvi vir sy lewensbydrae tot musiek vereer. Järvi het onder meer die belang van musiekopvoeding vir jong kinders benadruk. In ’n onderhoud het hy gesê kinders van vyfjarige ouderdom af behoort soveel as moontlik aan musiek blootgestel te word. Dit is hul ouers se verantwoordelikheid om hulle in die regte rigting te stuur, het hy gesê. “Goeie musiek is die vertrekpunt vir enige mens. Ons het so baie soorte musiek, wat alles maar hul oorsprong in klassieke musiek het – van ritme en harmonie tot tempo.” Järvi was ook vol lof oor sir Simon Rattle se plan om ’n akademie vir jong musici in die ooste van Londen te begin. Dié skool wat met die steun van die Londense Simfonieorkes begin word, bied gratis onderrig aan die jonges. “Dit is fantasties,” het Järvi gesê.

Send this to a friend