Kies ’n boek: James-Brent Styan, Chris Karsten en Franz Marx

Wille Burger kyk na die nuutste boeke van James-Brent Styan, Chris Karsten en Franz Marx

Die wêreld se eerste hartoorplanting is in 1967 in Kaapstad onder leiding van Chris Barnard gedoen. Nou, ’n halfeeu later, word orgaanoorplantings nie meer as omstrede of vreemd beskou nie, maar destyds het dit baie durf geneem om die skeptici onder mediese mense sowel as sommige mense se morele besware te ignoreer en eenvoudig die groot waagstuk aan te gaan om ’n hart oor te plant.

Tot vandag toe tel Chris Barnard beslis onder een van die bekendste Suid-Afrikaners oor daardie eerste hartoorplanting. Hy het egter later verkies om onthou te word vir die honderde operasies wat hy sonder vergoeding op kinders gedoen het. Hoewel Barnard as mediese held bekendheid verwerf het, het hy dikwels in omstredenheid beland. Hy was immers nie slegs hartoorplanter nie, maar ook ’n hartebreker en iemand oor wie se private lewe die media graag sensasioneel verslag gelewer het.

In James-Brent Styan se boek Hartebreker word oor Barnard se hele lewe verslag gelewer, oor sy jong dae as Karooseun (en ouer broer van Marius Barnard, self bekende chirurg) en sy opgang as geniale dokter. ’n Groot deel van die boek word uiteraard afgestaan aan daardie eerste hartoorplanting en die wêreldwye “kompetisie” om die eerste te wees. Barnard se drie huwelike – wat telkens op die rotse beland het nadat hy ontrou was – word egter ook breedvoerig bespreek. Waarvoor mens Styan krediet moet gee, is dat hy nie Barnard se lewe op sensasionele wyse bespreek nie (al skep die buiteblad, met die voorkoms van ’n ou Huisgenoot-voorblad die verwagting van sensasie), maar die skryfstyl is dikwels omslagtig, herhalend en soms met ’n bloot lomp formulering wat afbreuk aan leesplesier doen.

Barnard het sy bekendheid ook gebruik om sake te doen (soms is sy naam aan omstrede “geneesmiddels” gekoppel), maar hy het ook gewerk om geld vir mediese hulp aan armes, veral kinders, in te samel. Hy het ook sy bekendheid as politieke platform benut en in die vroeë 1970’s die apartheidsregering gekritiseer – binne- sowel as buitelands. Hy het probeer om by die regering vir Robert Sobukwe in te tree en om die Sobukwe-gesin ná sy dood by te staan. Hy het ook Breyten Breytenbach in die tronk besoek en vergeefs versoeke aan die politici van die dag gerig om Breytenbach vry te laat. Barnard was inderdaad ’n merkwaardige man wie se oordeel hom dikwels in die steek gelaat het en die vreemdste dinge laat aanvang het. Maar hy word nietemin onthou as iemand wat ’n mediese deurbraak gemaak het en wat deur sy loopbaan talle mense se lewens gered het. Styan se boek dek al hierdie aspekte.

Benewens hierde lewensverhaal, is daar vir liefhebbers van misdaadromans ook ’n stroom nuwe tekste: In Chris Karsten se Koms van die motman keer Ella Neser terug. Lesers ken haar reeds goed na Die verdwyning van Billy Katz (wenner van die ATKV-prys) en Die dood van ’n goeie vrou. Min skrywers kan dit regkry om spanning enduit so sterk te behou. ’n Reeks moorde volg nadat Arthur Wilky, die man wat byna vir Ella se pa se dood verantwoordelik was, uit die tronk vrygelaat word. Die vreemde gebruike van die Nommersbende dra tot die raaiselagtige moorde by. Karsten-aanhangers sal nie teleurgesteld wees nie.

Die bekende akteur, regisseur, draaiboekskrywer en vervaardiger van talle TV-reekse en rolprente Franz Marx debuteer as speurrillerskrywer met Spieëlbeeld. Die verhaal gaan oor Joe Minnie wat die werk kry om een van die rykste sakemanne in Suid-Afrika, Dolf Eksteen, te beskerm. As superryke het Dolf baie vyande. Die krag van die roman lê in die manier waarop dit vertel is. Die sentrale karakters wek om die beurt deernis en weersin by die leser en daarom is hulle boeiend. Boonop kom daar telkens nuwe inligting by wat ’n mens opnuut na alles laat kyk. Vir dele van die roman is Minnie self aan die woord en hy vertel sy eie lewensverhaal in ’n spesifieke taalregister waaruit ’n mens sommer veel oor hom kan aflei. Die wisselende vertellers en vertelstyle wys Marx se ervaring en die dialoog in die roman getuig van ’n ervare draaiboekskrywer. Dit is interessant dat Deon Meyer hom tot rolprente wend, terwyl Marx ’n roman skryf. Albei verruim egter die Suid-Afrikaanse misdaadfiksie.

Send this to a friend