Wynmaker Chris Albrecht

Chris Albrecht is die wynmaker by Bouchard Finlayson in die Hemel-en-Aarde-vallei buite Hermanus

Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf

Chris is ’n Oos-Kapenaar, maar het by Boland Landbouskool in die Paarl matrikuleer en vertel dis hier waar sy liefde vir die landbou en veral vir wingerde gebore is.

Nadat hy BSc Landbou met spesialisasie in Wingerd- en Wynkunde by Stellenbosch voltooi het, het hy sy tasse gepak en oorsee gaan reis en werk. Hieronder was twee oeste in Nieu-Seeland en ook oeste in Frankryk.

Waar het jy gewerk voor jy by Bouchard Finlayson aangesluit het?
Ek was vir vier jaar by Topiary Wines in Franschhoek. Dit was ’n nuwe wynkelder met gevestigde shiraz- en cabernet sauvignon-wingerde, maar dit was uiteindelik ’n jong blok chardonnay wat hul blinkste ster geword het. Ek het ook ’n kort sabbatsjaar gehad tydens my tyd daar en vir ’n oes in Kalifornië se Paraduxx, deel van die Duckhorn-stal, gewerk.

Hoe lank is jy nou by Bouchard Finlayson?
Ek het in 2010 by hulle aangesluit en begin leer oor pinot noir in die benydenswaardige posisie van die pionier Peter Finlayson se assistent. Na die 2017-oes is ek bevorder tot hoof van produksie. Ek reis gereeld oorsee vir bemarking en het ook verlede jaar ’n studiereis na Boergondië onderneem.

Hoe ontspan jy?
Ek hou van die buitelewe en bring die meeste van my vrye tyd by die see deur. Ek hou van spiesvisvang en vryduik. Ek is ook mal oor kook, veral seekos, en lees.

Wat is die grootste les of waarheid wat jy by Peter geleer het?
Ek het heelwat by Peter geleer, maar een waarheid wat spesifiek toepaslik is, is dat dit makliker is om ’n goeie produk teen ’n goeie prys te verhandel as ’n middelmatige een teen ’n middelmatige prys.

Wat bewonder jy die meeste in hom?
Peter het ’n merkwaardige geheue en kan byvoorbeeld toestande gedurende ’n oesjaar in die 1980’s moeiteloos herroep.

Hoekom is die Hemel-en-Aarde-vallei se terroir so uniek en veral geskik vir pinot noir?
Die relatief vlak, kleiryke grond, gekombineer met ’n winderige, dog matige maritieme klimaat, is myns insiens die sleutel.

Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Lewensbelangrik. In die marksegment waarin ons handel, glo ek, koop die kliënt nie slegs die produk nie, maar ook gedeeltelik in op daardie beeld waarvoor die produk en produsent staan. Dit is baie belangrik dat daardie beeld eg is.

Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Begin reg. ’n Wyn wat probleme met gisting ondergaan het, bly altyd op die agtervoet.

Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Gedetailleerd – ek is behep met die fyner besonderhede.

Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte, ens?
Ek is bevoorreg om met ’n goed gevestigde portefeulje te werk. Desnieteenstaande skram ons glad nie weg van innovasie om ons huidige aanbiedinge deurlopend te verbeter nie. So byvoorbeeld het ons in 2018 vir die eerste keer in terracotta-amphora gefermenteer.

Wat is die mooiste eienskap van wyn vir jou?
Diversiteit. ’n Onmeetbare hoeveelheid uitdrukkings is moontlik, gegewe duisende verskillende druifvariëteite in kombinasie met ’n legio mikroklimate en potensiële wingerdposisies.

Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Ek geniet grenache noir en cinsault. Dis moontlike kandidate.

Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Daar word toenemend van wynmakers verwag om aktief aan bemarking deel te neem, maar dit moet gebalanseer word met tyd in die kelder en op die plaas.

Wat is jou grootste uitdaging op die plaas?
Langtermynbesluite, spesifiek die hervestiging van nuwe wingerde en die gepaardgaande besluite, bly intimiderend.

Wat was tot dusver jou grootste oorwinning as wynmaker?
Elke keer wanneer ’n mede-wynmaker my opinie vra.

As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sou vir jou noodsaaklik wees?Vloere wat behoorlik dreineer, dubbel die voorgeskrewe verkoelingskapasiteit en ’n bier-yskas.

Hoe kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker meer leer oor pinot noir en dink jy die kultivar is nog onontdek?
Soos met enige wyn, bly dit die beste om produsente van die variëteit te besoek. Een onbetwisbare waarheid van pinot noir is sy onvergewensgesindheid. Dis gewoonlik óf besonders, óf swak, met weinig tussenin. Drink eerder minder gereeld, maar spandeer indien wel.

Hoekom voel jy meer mense moet van pinot noir kennis neem?
Niemand moet nie, maar die dag sal kom…

Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Die idee is om te drink wat jy geniet. Neem notisie van die produsent en kultivar wanneer jy wel ’n wyn proe waarvan jy hou. Spesialis-wynwinkels kan jou dan help met aanbevelings wat jou sak pas, maar jy moet ’n vertrekpunt hê.

Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Francois Millet – alhoewel ek nog nie baie van sy wyne geproe het nie, is ek ʼn groot aanhanger.

Watter wynproe staan vir jou uit oor die jare?
As student het ons gereeld gaan “wynproe” by verskeie plase rondom Stellenbosch, waar ons nie noodwendig hartlik ontvang is nie. Daardie sorgvrye somersdae sal my egter altyd bybly.

Send this to a friend