Kuns: Damien Hirst

Die bronskleurige harsweergawe van Damien Hirst se Demon with Bowl in die Palazzo Grassi in Venesië

‘Mens moet onthou dat vir elkeen wat Hirst se werk kritiseer, daar ’n Hirst-aanhanger is’

Deur JOHAN MYBURG

In 2017 het die Britse kunstenaar Damien Hirst die kunswêreld netjies in twee kampe gejaag: Dié wat dink sy uitstalling vir die 57ste Venesiese Biënnale was indrukwekkend en iets besonders en dié wat gemeen het dit was ’n rampspoedige onderneming.Dit was in elk geval nie die eerste keer dat Hirst (54) tegelyk soveel aandag trek én kunskenners die harnas in jaag nie. Oor Hirst se werk is niemand onaf nie, het iemand onlangs opgemerk: Óf jy haat dit óf jy haat dit nie. Die kroonjuweel in dié uitstalling, wat Treasures from the Wreck of the Unbelievable geheet het, was ongetwyfeld die 20 m hoë beeld, Demon with Bowl, wat die atrium van die Palazzo Grassi gevul het.

Omdat ’n bronsweergawe van dié beeld hopeloos te swaar vir Venesië sou gewees het, het die François Pinaultstigting, wat die uitstalling aangebied het, besluit om ’n tydelike harsweergawe in die drieverdieping-atrium op te rig. Die verhaal agter Treasures from the Wreck of the Unbelievable is dié van ’n fiktiewe ontdekking van ’n antieke skip wat aan die kus van Oos-Afrika gesink het en waarvan die skatte in 2008 deur duikers na die oppervlak gebring is. Die “skatte” bestaan glo uit 190 werke, waaronder beeldhouwerke van “goud, silwer, brons en marmer”. Die “skatte” op die vaartuig Unbelievable sou behoort aan ene Cif Amotqan II (’n anagram vir “I am Fiction”).

Die gerespekteerde en gesaghebbende kunstewebwerf hyperallergic.com het nie doekies omgedraai nie en die uitstalling “die duurste artistieke flater in menseheugenis” genoem. Hirst se werke het twee private museums in beslag geneem – benewens die Palazzo Grassi ook die Punta Della Dogana, albei aan die Grande Canal. Die finansiële betrokkenheid van Pinault, wat die twee museums bedryf en medefinansier van die uitstalling was, die eienaar van die afslaer Christie’s én ’n versamelaar van Hirst se werk is, het verder wenkbroue laat lig. Die werke is te koop aangebied en as versamelaars nie plek sou hê vir ’n tamaai beeldhouwerk nie, was tekeninge te koop, geteken deur “In this Dream” (nog ’n anagram, dié keer van die kunstenaar se naam en van).

Die Palms Casino Resort in Las Vegas het duidelik nie dié probleem nie en het net ná Nuwejaar aangekondig dat dié hotel die 20 m hoë Demon with Bowl van Hirst in brons aangekoop het. Die hotel het nie ’n prys genoem nie, maar ten tyde van die 2017-Biënnale was ’n prysetiket van 14 miljoen dollar daaraan gekoppel. Dié aankoop gaan in die Palms Casino Resort se nuwe swembad pryk as deel van ’n opknapping van iets soos 690 miljoen dollar, wat binnekort voltooi sal wees. Dit is ook nie die eerste Hirstwerk wat die Palms aanskaf nie.

Die hotel het een van Hirst se haaie in ’n glastenk met formalien, asook 16 van sy “spot paintings”. Soos Nicholas Serota, voormalige direkteur van die Tate, by geleentheid gesê het: “’n Mens moet onthou dat vir elkeen wat Hirst se werk kritiseer, daar ’n Hirst-aanhanger is. Hirst het sy loopbaan in weerwil van kurators en kritici gevestig.” Iets van die uitstalling waaraan Hirst tien jaar gewerk het en sowat 65 miljoen dollar gekos het om te maak, leef voort in Treasures from the Wreck of the Unbelievable, ’n mokumentêre program van 90 minute wat Hirst self gemaak het en wat op Netflix te sien is.

Send this to a friend