Wynmaker IP Smit

IP Smit is die wynmaker by Clos Malverne Wynlandgoed buite Stellenbosch

Deur Maryke Roberts
Foto verskaf

Sy eerste permanente aanstelling was by Swartland Wynkelder as assistent-witwynmaker, waar hy verantwoordelik was vir die witwynbereiding onder toesig van die produksiebestuurder. Hy vier vanjaar sy 21ste jaar sedert hy by Clos Malverne aangesluit het, hoewel hy sewe jaar elders gewerk het.

IP het BSc Landbou met Wingerd- en Wynkunde studeer.  

Watter wynproe staan vir jou uit oor die jare?
Dit is interessant/snaaks. Dit was toe ek nog op laerskool was en die Sondagskool vir ’n uitstappie Tulbagh toe gegaan het. Ons het Drosdty daar besoek. Daar was ’n sjerrievat met ’n glaskop waaruit ons ’n klein glasie geproe het. Ek kan dit nou nog ruik, sien en proe….ek dink daar is die eerste saadjie geplant.

Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Tradisioneel gekombineer met nuwe kennis en ´n oog vir detail, want dit lewer die beste resultate.

Jy werk op ’n pragtige wynplaas wat internasionaal bekend is. Bring dit meer of ander verantwoordelikhede na die wynmaker as met ander plase?
Ek dink nie dit bring noodwendig meer verantwoordelikhede na die wynmaker nie. In alles wat jy doen, wil mens mos maar die beste doen en ’n sukses daarvan maak.

Vertel my hoe voordelig dit is vir ’n wynplaas om sy eie restaurant te hê en hoe bevorder dit wynverkope?
Baie voordelig. Die mense word blootgestel aan die wyne saam met goeie kos. Waarvoor kan mens meer vra?

Watter kultivar dink jy is Clos Malverne se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms?
Pinotage en Kaapse versnitte, wat pinotage in die versnit het. Pinotage is ’n baie veelsydige kultivar met “sterk bene”.

Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Ons word gesien as ’n gehalteboetiekkelder met tradisionele wynbereidingmetodes, soos mandjieperse. Met ’n goeie restaurant. Dié beeld is baie belangrik, want dit is wat ons bied.

Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Dat jy in wynmaak nooit 100% beheer oor die proses het nie en nooit moet vergeet dat dit ’n natuurlike proses is nie.

Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
Op die oomblik is daar nie veel groot planne vir die plaas nie. Ons gaan wel later twee nuwe wyne bekendstel: ’n Sauvignon blanc Reserve en ’n enkel-kultivar cabernet sauvignon.

Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Ingenieurswese….daar is baie daarvan in wynmaak.

Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die feit dat dit mense bymekaar bring tesame met feestelikheid

Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Daar is baie waarmee ek nog nie gewerk het nie. Ek glo maar om op die belangrikste kultivars te fokus. Al die minder bekende kultivars kom en gaan.

Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Dit was in die sentraal-Kalahari in die middel van Botswana.  Afgesonder, sonsondergang, stilte met al die diere rondom en uit ‘n regte glas (nie plastiek of vlekvrye staal nie) MCC. Dit was idillies.

Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA?
Om ‘n gehalteproduk te lewer met al die druk van stygende produksiekoste en ‘n koper wie se sak ook al leër word.

Hoe navigeer mens rondom die ergste droogte in 100 jaar?
Kyk wat jy het om mee te werk en kyk waar is die kritiese punte. Probeer dan die twee bymekaar kry.

Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Toe ons in 2001 die Generaal Smuts-trofee gewen het vir die beste Jongwyn van die Jaar.

Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Dat verskillende blokke gelyk ryp geword het waaruit ons dan met beperkte kelderspasie en toerusting mooi wyne gemaak het.

Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die wynbedryf beter te ondersteun?
Baie, baie, baie meer drink. Deur hulself meer te skool oor ons wyn, wat van die beste in die wêreld is en as ambassadeurs op te tree. Die algemene publiek besef nie wat op hul voorstoep is nie.

Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Kyk na ’n gevestigde handelsnaam met ’n seel op. Dan weet jy die wyn is deur ’n proses van goedkeuring.

Wie is jou wynmaak-helde?
Die ou manne wat die bedryf gevestig het en leiers was … dié wat nog wit jasse in die kelder gedra het.

Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Niemand nie, maar sal graag hul wyne wil ontmoet…

Send this to a friend