10 vrae aan Liza Smit

Tien vrae aan Liza Smit, wie se ouers in die 70’s om politieke redes vermoor is en wat haar lewensverhaal in ’n boek, Ek is Liza Smit, vertel:

Hoekom die boek skryf 40 jaar ná die gebeure? Daar was tog seker tye terwyl julle midde-in jul eie ondersoek was, wat jy dit kon skryf?

My hele doel met die boek was om vir my kinders ’n “legacy” na te laat; om hulle te vertel van my lewe vanaf die oomblik wat ek die moorde as my werklikheid moes aanvaar; die pad wat ek gestap het tot vandag, en dan om hulle van hul oupa en ouma te kon vertel, die mense wie hul was, nie die politikus en sy vrou wat vermoor is nie.

Wat het die boek retrospektiewelik vir jou beteken?

Die skryf van die boek het my na plekke toe geneem wat ek nooit gedink het ek ooit weer sou herleef nie. Dit het my gedwing om sekere dinge te “face” en deur dit te werk. Ek het ongelooflike heling gekry deur te skryf. Toe ek my boek moes proeflees, het ek eers besef watse enorme inpak die moorde op my ouers werklik op my lewe gehad het. En dat wraggies net uit genade is dat ek gekom het tot waar ek nou is.

Watter reaksie kry jy van die publiek van jou boek?

Die reaksie op my boek is oorweldigend. Ek het nooit verwag dat daar soveel belangstelling gaan wees nie. Om eerlik te wees, is daar ’n verwagting dat my boek oor die moorde gaan, en het ek al mense gekry wat teleurgesteld is omdat daar geen nuwe inligting is nie. Die meerderheid mense se reaksie is baie positief oor my eerlikheid, en dat ek verantwoordelikheid neem vir dinge wat ek gedoen het.

Is die hoofstuk in jou lewe vir jou nou afgesluit of hou jy aan soek?

Die WVK se bevinding dat die moorde polities van aard was en deur die apartheidsregering uitgevoer was, was ‘n antwoord. Ek sal nie weer begin soek nie, omdat ek glo dat dit nooit sal uitkom nie.

Jy praat baie min van jou broer en sy soeke. Het julle nie dieselfde drang gehad om uit te vind wat gebeur het nie?

Hy is ’n baie privaat mens en verkies dat ek hom nie bespreek nie.

Wat sal jy maak as die besluitnemer/opdraggewer voor jou moes kom bieg? Wat wil jy vir hom/haar sê?

Die vraag laat my bietjie kopkrap … As dit sou gebeur, en ek was reg oor die redes, sal ek net sê: “Dankie, ek het dit geweet. Het julle geweet hoe julle ’n familie aan flarde geruk het?” As die rede heeltemal iets anders is, weet ek nie hoe ek sal reageer nie. Ek sal nog steeds wil weet of hulle besef wat hulle aan ’n hele familie gedoen het.

Wat hoop jy bereik hierdie boek?

My boek is ’n storie van “crime, love & hope” Ek wil hê my storie moet een van liefde & hoop wees. Op die ou einde seëvier liefde en hoop al die lelik van die lewe. Ek wil ook hê mense moet weet “dis oukei om nie oukei te wees nie” Soos ek wat nooit oukei sal wees omdat my seun in ’n rolstoel sit nie, want dit is nie oukei nie.

Voel jy dat jou soeke jou lewe verwoes het; dat jy die tyd beter kon aanwend as jy geweet het dat jy steeds nie antwoorde sou hê nie?

Nee ek voel nie dat my soeke my lewe verwoes het nie. Inteendeel, om te weet dat ek alles moontlik gedoen het om self te probeer uitvind, is vir my ’n troos. Al het ek nie die antwoorde gekry wat ek so graag wou hê nie. Dit was vir my nodig om dit te doen, om vandag te kan sê: “Ek het probeer.”

Hoe voel jy kinders oor jou jare lange soeke?

Met die boek, het hulle ‘n baie beter begrip waarom dit vir my so nodig was om self die antwoorde te gaan probeer soek.

Send this to a friend