Klassieke klanke: Steven de Groote

Die konsertpianis Steven de Groote is in 1989, vanjaar 30 jaar gelede, op 36-jarige ouderdom dood

Deur JOHAN MYBURG

Dit is vanjaar 30 jaar gelede dat Steven de Groote, die suksesvolle konsertpianis, op 36 dood is. Hoewel daar heelwat uitmuntende plaat- en CD-opnames van sy spel bestaan, hoor mens dit selde en is te min mense daarmee bekend.De Groote was 24 toe hy in 1977 die eerste Suid-Afrikaner geword het wat die gesogte Van Cliburn-klavierkompetisie in die VSA gewen het, ’n prestasie wat hom ’n gereelde solis op die wereld se vernaamste verhoe gemaak het.

Die kompetisie, wat elke vier jaar aangebied word, is nie daarop gemik om potensiele talent te ontgin nie, maar om ’n (tot nog toe onbekende) kunstenaar van wereldformaat aan die musiekwereld bekend te stel. In die opsig sou die kompetisie reg laat geskied aan die statuur van Lavan (Van) Cliburn, na wie dit genoem is. Cliburn, ’n Amerikaanse pianis van Texas, het op 23-jarige ouderdom die eerste internasionale Tsjaikofskikompetisie in Moskou gewen – in 1958, die jare van die Koue Oorlog. In 1962 is die Van Cliburnkompetisie as Westerse teenvoeter vir die Sowjet-prys begin, en die Cliburn-prysgeld het vir alle praktiese doeleindes op ’n loopbaan neergekom: benewens ’n kontantprys onder meer ook ’n Carnegie Hall-debuut, ’n konserttoer van twee jaar deur die VSA, ’n debuut in Londen, ’n Europese toer en een deur die Verre-Ooste, asook ’n platekontrak met RCA.

De Groote is in Johannesburg gebore nadat sy ouers Belgie in 1947 verlaat en hulle in Suid-Afrika kom vestig het. Hy kom uit ’n gesin waarin professionele musikante nie ongewoon was nie. Saam met sy pa (violis) en broer (tjellis) het De Groote dikwels as trio opgetree. Hy het in Kaapstad klavieronderrig van Lamar Crowson en in Brussel van Eduardo del Pueyo ontvang. In 1972 het De Groote aan die Curtis-instituut vir musiek in Philadelphia ingeskryf, waar hy onder befaamde leermeesters soos Rudolf Serkin, Mieczysław Horszowski en Seymour Lipkin studeer het. In die aanloop tot die Van Cliburn-triomf het De Groote aan verskeie ander kompetisies deelgeneem en lof ingeoes. Sy debuut in Carnegie Hall was op 12 Desember 1977.

Sy program het uit sonates van Haydn, Beethoven en Prokofief en ’n scherzo van Chopin bestaan – ’n programkeuse waaroor agterna wyd in resensies besin is. De Groote se debuut op die Londense Proms was in 1981 met ’n uitvoering van Gershwin se Klavierkonsert in F wat regstreeks deur die BBC uitgesaai is. Dieselfde jaar het hy ’n pos aan die Arizona-staatsuniversiteit aanvaar. In 1985 was hy as amateurvlieenier in ’n vliegtuigongeluk naby Phoenix in Arizona betrokke – ’n ongeluk wat byna sy lewe geeis het. Hy het na etlike operasies wonderbaarlik herstel en sy loopbaan met deursettingsvermoe en toewyding voortgesit.

In 1986 en 1987 is ’n ereprofessoraat van die Universiteit Stellenbosch aan hom toegeken, wat ingehou het dat hy meesterklasse aangebied het. Sy laaste optrede in Suid-Afrika was in 1988 toe hy saam met die Kaapstadse Simfonieorkes Rachmaninoff se Klavierkonsert no. 2 in Johannesburg gespeel het, net voordat hy saam met die orkes vir ’n konserttoer na die Ooste vertrek het. In Mei 1989 was De Groote weer op besoek aan Suid-Afrika, maar hy is kort na sy aankoms met longontsteking in die hospitaal opgeneem. Sy konsertafsprake is gekanselleer en hy is op 22 Mei dood. Op YouTube is ’n opname wat in 1983 gemaak is van ’n uitvoering van Chopin se Klavierkonsert in f met die Orchestra della Svizzera Italiana onder leiding van Milan Horvat.   

Send this to a friend