Redakteursbrief: Koring & kaf

eldaleen-web
Redakteur Eldaleen Hugo

Dit help al om te weet dat mens die afval kan filtreer om die koring van die kaf in jou kop te skei

Christa Swanepoel se artikel op bl 18 oor “Jou lyf se filters” het my aan die dink gesit. Sy vat in ’n neutedop saam wat die funksie van ons niere is, maar sy wys ook op die gevare as ons dié orgaan verwaarloos en sy gee wenke om jou niere optimaal te laat werk.

Ons liggaam is uiters gesofistikeerd aanmekaargesit en als in ons liggaam werk saam om ons gesond te hou (of siek te maak).Jy hoef nie ’n breinchirurg te wees om te weet dat jou brein dié spier of orgaan is wat als bymekaar hou nie. Ek dink ons breine werk soos ’n rekenaar se hardeskyf.

1 Ons stoor als in ons hardeskyf.
2 Soms doen ons ’n “search” om ’n “file” op te spoor.
3 Partykeer lyk ons “desktop” soos myne op die oomblik – deurmekaar en “all over the place”.
4 Soms is te veel dokumente oop en dan hang die rekenaar.
5 Rekenaars kan virusse kry en dan het jy ’n IT-kenner nodig. Soms herstel dit 100%, maar dit kan letsels oorhou en in die ergste gevalle kan jy als verloor wat jy gestoor het.
6 As daar ’n kragonderbreking is en jou rekenaar se battery raak pap, het jy ’n probleem.
7 Ideaal gesproke het jou “Inbox” nie onnodige of belangrike ongelese e-posse nie en jou lêers is netjies gekategoriseer (insluitende jou 300 000 foto’s) sodat jy dit met die druk van ’n knoppie in die hande kan kry.
8. Belangrike dokumente en inligting het jy op ’n “back-up” (eksterne hardeskyf) en iewers in of op ’n wolkie.
9 Jy kan lêers “delete”, maar forensiese kenners kan selfs sulke lêers op die een of ander manier opspoor.
10 As jy (of ander mense) hardhandig met jou rekenaar werk, kan dit breek.

Met die lees van Christa se artikel het ek ’n nuwe analogie ontdek: Gesonde niere raak van gemors ontslae. As jou niere nie van afvalstowwe (wat niks goeds vir jou liggaam beteken nie) ontslae raak nie, dam daai gemors in jou lyf op en raak jy baie siek. Jy kan selfs sterf. Ons brein werk ook soos ons niere in dié sin dat ons inligting filtreer.

Die probleem is egter dat ons breine als stoor. Dit werk nie soos ons niere nie. Die gemors en afval word ook iewers gestoor. Maak nie saak hoe diep ons dink ons dit bêre nie. Dit gaan iewers op ons hardeskyf lê. Lêers met gebeure in ons lewe wat trauma veroorsaak het, is nie altyd so diep weggebêre soos wat ons dink nie. Die delete-knoppie het dit net gestoor waar jy dit nie met die blote oog kan sien nie. Maar dis daar en net so giftig vir ons liggaam soos afvalstowwe wat ons niere (om welke rede ook al) nie uitskei nie.

En stadig maar seker vergiftig daai lêers ons, want ons doen ’n “search” op ons rekenaar – soms bewustelik en soms onbewustelik om daai lêers te gaan soek. Dan herleef ons die trauma. Ons rekenaars kan selfs gaan hang omdat daar so baie van die nuttelose afvallêers oop is dat dit die nuttige lêers ook korrupteer en dan maak dit nie saak watter knoppies jy druk nie – niks wil werk nie. Ons almal het sulke lêers iewers gebêre. Om van die gif in daai afvallêers ontslae te raak, kort mens dalk ’n kenner se hulp, maar dit help al om te weet dat mens die afval kan filtreer om die koring van die kaf in jou kop te skei.

Send this to a friend