Wynmakers: Four Cousins

four-cousin-web

Suid-Afrika se vier gewildste nefies, die Four Cousins-handelsmerk, laat die vonkelwynproppe op sy 18de verjaardag skiet

Deur MARYKE ROBERTS

Foto verskaf

Hulle vier dié spoggerige geleentheid met nuwe verpakkings vir beide die vonkel- en stilwynreekse. Four Cousins is die land se grootste verkoper in die gebottelde wyn-segment en word in meer as 62 lande geniet.

Dit was in die middel 1990’s wat die vier neefs, Hennie, Neil, Bussell en Phillip Retief kragte saamgesnoer het. Soos hulle een na die ander hul studies voltooi het, het hulle by die familieplaas, Van Loveren Wingerde, naby Robertson, aangesluit. Die onverskrokke viertal het in 2000 ’n wyn gemaak wat hulle net moes bekendstel. Hulle het alles in hierdie nuwe projek ingesit – hulle het selfs hul gesigte op die etikette laat druk as ’n persoonlike onderskrywing – en Four Cousins geloods.

Four Cousins is al vir bykans twee dekades deel van ons huishoudings. Hoe voel julle oor hierdie mylpaal?

PHILLIP:  Dit laat ons nederig voel as ons sien op welke wyse Four Cousins deur Suid-Afrikaners omarm word; of dit nou in die tradisionele Kaapse wynstreek, Soweto en Gauteng, KwaZulu-Natal, universiteite of die jonger verbruiker is.

Mense identifiseer met die Four Cousins-familie en sommige verwys selfs gereeld na hulself as die 5de nefie. Hulle vind aanklank met dit wat Four Cousins verteenwoordig – vriendksap, familie en spesiale herinneringe. Dit is beide inspirerend en nastreefbaar, en op sy beurt spoor dit ons aan om op alle vlakke innoverend te bly sodat ons die wynreis kan meemaak – soos die bekendstelling van die Four Cousins Skinny lae alkohol-reeks en die Four Cousins Collection-variëteitsreeks.

Julle is nou 18 en mag dus nou ook “wettig” drink. Hoe voel dit om nou jul grootmensskoene vol te staan?

PHILLIP:  Sien uit daarna om nie meer skelm langs die rivier te braai en onwettig iets te geniet nie!

NEIL: Dis nie maklik om groot te word nie….!

Waarvoor vrees julle nou dat julle jul tienerjare agterlaat?

PHILLIP: Sorgvryheid

Met soveel handelsmerke in die mark, hoe verseker julle dat julle aan die voorpunt van dinge bly?

PHILLIP: Ons bly oefen, innoveer en diversifiseer vir die groter diverse mark daarbuite.

NEIL: Mens moet maar voordurend aanhou probeer en vernuwe soos wat die mark dit vereis.

Hoe het julle jul storm- en drang-tienerjare oorleef?

PHILLIP: Hard gewerk, lekker gespeel en reeds begin voorberei vir die volgende 18 jaar

Met mylpale soos hierdie, hoeveel druk plaas dit jaarliks op julle om beter en beter te lewer?

NEIL: Ons is gelukkig nog almal lekker jonk en sien kans vir die uitdagings!

PHILLIP: Die skip seil en ons moet hom op die water hou en die enjins moet bly loop – sonder druk sal die enjins stadig sterf en ’n ander boot ons verbygaan.

Hoe voel julle oor die beeld van die handelsmerk onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?

PHILLIP: Dit vind aanklank by ’n verskeidenheid verbruikers wat jonk en oud insluit, oor verskeie kulturele grense en inkomstegroepe.

BUSSELL: Nederig dankbaar en trots – dit was nog altyd my droom dat Four Cousins die harte van Suid-Afrikaners moet wen en die “Mrs Balls” van wyn moet raak.

NEIL: Ons beeld is baie belangrik. Ek dink een van die belangrikste faktore is dat ons oor die jare ´n produk met ´n betroubare en konstante kwaliteit gelewer het.

Wat beplan julle vir die kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte, ens?

PHILLIP: ’n Alkoholvrye vrystelling, ’n Premium Droë Perlé asook ’n Premium Rooi familie-versnit.

Wat is die mooiste eienskap van wyn vir julle?

HENNIE: Die gesondheidseienskappe – 2 glase wyn ’n dag het baie voordele!

BUSSELL: Four Cousins is ’n wyn wat deur alle ouderdomme, kultuur- en inkomste-groepe geniet word – soort van ’n samebindende faktor. Die feit dat dit die sogenaamde ‘nie-wyndrinker’ na die wynkategorie swaai, is iets wat my baie trots maak.

NEIL: Die feit dat vriende en familie dit saam kan geniet en goeie memories bou.

PHILLIP: Die verskillende kleure en die feit dat een jaar weens natuur-elemente nooit dieselfde as die vorige is nie,  alhoewel ons streef na kontinuïteit.

 

Wanneer geniet julle jul wyn die meeste?

PHILLIP: By die see.

BUSSELL: By die see wanneer die branders oor die rotse breek.

NEIL: Elke dag is ’n goeie dag om ’n goeie bottel wyn te geniet!

HENNIE: Elke dag, voor en saam met ete.

Wat is jul mooiste herinnering rondom Four Cousins-wyn?

BUSSELL: Die hartlike ontvangs wat ons elke keer kry as ons Soweto besoek, ons word op die hande gedra.

PHILLIP: Die wonderlike groeijare van 5- tot 10-jarige ouderdom.

HENNIE: Om te weet ’n wye spektrum van die publiek geniet dit, tesame met die familie-verbintenis.

Wat glo julle is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?

BUSSELL: Om aan te pas by verbruikerspatrone wat heel tyd verander; en met minder beskikbaarheid van wyn aan die vraag en kwaliteit te voldoen.

NEIL: Die uitdagings van 2019 gaan meer in die wingerd wees as in die kelder as gevolg van die droogte die laaste twee jaar.

Watter kultivar gee julle die meeste grys hare?

BUSSELL: In ons area (Robertson) pinot noir, dis die moeilike rooiwynkultivar!

LEES OOK: Wynmakers: Adi Badenhorst en Duncan Savage

Watter een van jul pryse is jul hart se punt?

PHILLIP: Enige Dubbelgoud by Veritas –  wat ons Christina-reeks in sauvignon blanc, cabernet sauvignon en MCC al vermag het.

BUSSELL: Die Pon van Zyl trofee wat die Robertson-streek toeken vir ’n besondere bydrae tot die wynbedryf.

NEIL: Die SA Boer van die Jaar.

HENNIE: Die SA Boer van die Jaar wat uit alle landbousektore gekies word.  Die beoordelaars kyk na boerderypraktyke, omgewingsimpak, arbeidstandaarde, produksie, waardeketting tot in die mark by die eindverbruiker.

Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die wynbedryf beter te ondersteun?

BUSSELL: Om wyn die drankie van hul keuse te maak eerder as bier, jenewer of vodka.

HENNIE: Om wynplase te besoek, wynproeë en feeste by te woon.

PHILLIP: Een glas wyn per week meer geniet as ander drankprodukte as op die oomblik.

Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?

PHILLIP: Gebruik jou instink en soek vir jou iets wat lekker lyk en/of iets wat vir jou goeie herinneringe gee. Moenie iets probeer koop waaroor jy twyfel nie.

BUSSELL: As jy witwyn koop, kies die jongste oesjaar; gaan met bekende handelsmerke, of as jy regtig nie weet nie, vra die persoon wat daar werk, hulle is gewoonlik goed ingelig.

NEIL: Dis altyd lekker om te eksperimenteer en nuwe wyne te proe, maar om teleurstelling te voorkom, hou by wat jy ken.

HENNIE: Lees soveel as moontlik op die bottel, koop ’n paar bottels, proe saam met vriende, bespreek met mekaar en leer daaruit.

Wie is jul wynmaak-helde?

BUSSELL: My oom, Wynand Retief, asook Beyers Truter.

Watter wynproe staan oor die jare vir julle uit?

BUSSELL: Enige proe van Beyers Truter – hy bied dit met soveel passie aan, jy lewe jou in sy storie in.

HENNIE: In 1990 ’n proe van Europese wyne van verskilllende areas en die bekendste handelsmerke ter wêreld.

PHILLIP: As jong kwalifiseerde CA het ek twee jaar in die kelder gewerk en in die eerste jaar ’n groep Europese produsente en wynkenners deur die kelder geneem vir ’n lang en deeglike tenke-proe. Hulle het dit vreeslik geniet en my baie gekomplimenteer. Ek het ongelukkig dié kuns verloor weens my ander verantwoordelikhede!

Send this to a friend