Bottelary Hills opskiet-middagetes bring hulde aan geslagte wynmakers

Bottelary_Hills-web

Die tweede Bottelary Hills opskiet-middagetes is die afgelope naweek op Kaapzicht Landgoed buite Stellenbosch gehou

Deur Maryke Roberts

Foto’s:Clifford Roberts

 

Bottelary Hills is een van die vyf sub-roetes in die Stellenbosch wynstreek en bekend vir sy kampioen-wyne. Die moet-doen wynkelder-middagete reeks het gegroei tot een van die hoogtepunte op die kos-en-wynliefhebbers se kalender. Om ’n bekende sjef in die mengsel te gooi, lig alles natuurlik nog ’n trappie of twee hoër.

Verlede jaar was die bekende sjef, Bertus Basson, die sjef vir die opskiet-etes en vanjaar skitter George Jardine, wie se blink loopbaan ’n hele gros suksesvolle restaurante – en sy onlangse projek, die fynproewer-restaurant in die hartjie van Stellenbosch, Restaurant Jardine – insluit.

Die eerste van die Bottelary Hills opskiet-middagetes is in Mei by Hartenberg Wynlandgoed gehou en die laaste een word op 19 November op Mooiplaas Wynlandgoed en Privaat Natuurreservaat gehou.

 “Bottelary Hills is die tuiste van sommige van die oudste wynplase in die land en baie van hulle word al vir geslagte deur dieselfde families versorg. Die families het dus ’n ongeëwenaarde begrip vir die terroir, wat baie duidelik na vore kom in die wyne wat hierdie streek produseer,” het die Stellenbosch Wynroetes bestuurder, Elmarie Rabe, by die middagete vertel.

 

LEES OOK: Absa Top 10 Pinotage wenners aangewys

 

“Om hierdie wyne met die kosmaak-talente van een van Suid-Afrika se bekroonde sjefs te pasmaat, is beslis ’n geleentheid wat geen smulpaap kan misloop nie.”

Voor ete, kon gaste by die vyf deelnemende wynplase, Hartenberg, Bellevue, Kaapzicht, Mooiplaas en Hazendal, wat almal rondom die  Bottelary heuwels lê, se wyne proe en met die wynmakers gesels.

Die Skotse braai het onder meer vingerkos, dit wat met mes en vurk geniet word en ook met die lepel bedien is, ingesluit en die vyf deelnemende plase se wyne is met die gange gepasmaat. George het alles voor die gaste op ’n reuse braai in die middel van die tafels, berei.

Kaartjies is beperk en bespreking noodsaaklik. Vir besprekings, of om ’n kaart van Bottelary Hills te sien, besoek die Stellenbosch Wynroetes webwerf by www.wineroute.co.za of bel 021 886 8275 vir meer inligting.

Send this to a friend