Klassieke klanke: Lorraine Hunt Lieberson | Vrouekeur

Klassieke klanke: Lorraine Hunt Lieberson

1207-vk1-lorraine-web

Lorraine Hunt Lieberson

‘Die wonderlike ding van Lorraine Hunt Lieberson is dat sy haarself emosioneel ontbloot: so persoonlik, maar ontbloot; so broos, terwyl sy niks terughou nie’

Deur JOHAN MYBURG

Oor Lorraine Hunt Lieberson, die Amerikaanse mezzo-sopraan wat in 2006 op 52 dood is, het Charlotte Higgins in ’n huldeblyk in die Britse dagblad The Guardian geskryf: “Haar sang was nooit oordrewe of ego-gedrewe nie en altyd in diens van die vereistes van die musiek en die ensemble.” Higgins voer dié eienskappe terug na Hunt Lieberson se opleiding as violis en later altvioolspeler. Die feit dat sy vroeër ’n altvioolspeler was, is ter sake, meen sy: Haar musikaliteit het in die binnestemme van die orkes ontwikkel.

As eerste altvioolspeler in die San Jose-simfonie-orkes het sy op 26 besluit om sang aan die Boston-konservatorium te gaan studeer. Op 30 het sy haar professionele loopbaan as sopraan begin en die volgende jaar, in 1985, het sy in Peter Sellars se produksie van Handel se Guilio Cesare die travestie-rol van Sesto vertolk. Sedert die vroeë 1990’s het sy as mezzo met haar fluweelagtige stemkwaliteit, verstommende frasering, warmte en egtheid in haar voordrag bekoor. Dit het uit elke optrede geblyk: Asof elke optrede haar laaste was, soos ’n kollega later opgemerk het.

Die private mens wat sy was, was Hunt Lieberson nie aan ’n groot platemaatskappy gekoppel nie en sy het ook nie roem nagejaag nie. Moontlik bestaan daar om dié rede relatief min opnames van haar vertolkings. Sy het ook nie alles gesing wat sy sou kon sing nie. “Ek het nooit gevoel ek moet alles vat wat my aangebied is nie, of ek daardeur aangetrek is of nie,” het sy by geleentheid gesê. Ná haar dood het Lorraine Hunt-Lieberson: A Tribute by Harmonia Mundi USA verskyn, met arias van Bach, Handel en Purcell – ’n onontbeerlike kennismaking met die stem van dié begaafde sangeres.

LEES OOK: Klassieke klanke: Benjamin Appl

Sy het die komponis Peter Lieberson in 1997 ontmoet terwyl hy met repetisies van sy opera Ashoka’s Dream in Santa Fe besig was, en hulle is twee jaar later getroud. In Mei 2000 is Hunt Lieberson se suster aan borskanker dood en twee maande tevore is sy self met dié siekte gediagnoseer. Sy het behandeling gekry, maar minder opgetree. Haar man het twee sangsiklusse vir haar geskryf: In 2001 ’n siklus vir mezzo en klavier met gedigte van Rainer Maria Rilke as basis en in 2005 ’n siklus vir mezzo en orkes na vyf gedigte van die Chileense digter Pablo Neruda.

Die Rilke-siklus is in 2001 die eerste keer in Santa Fe uitgevoer en die Neruda-liedere in 2005 in Los Angeles met die Los Angeles Filharmonie met Esa-Pekka Salonen as dirigent en Hunt Lieberson as solis. In 2001 het sy in Londen se Barbican met twee Bach-kantates opgetree: Mein Herze schwimmt im Blut (My hart swem in bloed) en Ich habe genug (Ek het genoeg). Sellars was weer die regisseur. Oor dié uitvoering het Sellars gesê: “Die wonderlike ding van Lorraine is dat sy haarself emosioneel ontbloot: so persoonlik, maar ontbloot; so broos, terwyl sy niks terughou nie.”

In 2005 het sy saam met die Bostonsimfonie- orkes onder leiding van James Levine ’n konsertreis onderneem waartydens sy weer die Neruda-liedere gesing het. Sy is daarna terug na haar huis buite Sante Fe waar sy kort daarna met lewerkanker gediagnoseer is. Saam met dié orkes en James Levine het sy die CD uitgereik: Lorraine Hunt Lieberson sings Peter Lieberson ‘Neruda Songs’. ’n Opname is ook op YouTube beskikbaar. Peter Lieberson is in 2011 aan kanker dood.

Send this to a friend