Die gemaskerde breier: ’n Ryker mens

So het die toer gekom en gegaan. Die 16 dae wat ek die voorreg gehad het om as Vrouekeur-verteenwoordiger op die Seagull-toer na Roemenië te gaan, het vir wonderlike herinneringe gesorg (ek skryf meer daaroor in die Vrouekeur van 1 September).  

Deel van die lekkerte was die groep mense saam met wie ek getoer het. Soos ek ouer word en terugkyk op my lewe, weet ek dat gebeure in jou lewe en mense op jou lewenspad alles en almal in ‘n mindere of meerdere mate ‘n invloed op jou het … en natuurlik jy ook op hulle. Dis eintlik ‘n skrikwekkende gedagte.

Om daarby aan te sluit. Ek luister soggens vir die 20 minute op pad werk toe na die ontbytprogram op JacarandaFM. Een van die insetsels wat ek in daardie tyd raakluister is dat hulle lukraak mense voorkeer en na hul lewenstorie uitvra. Elke mens het ‘n storie. En baie keer is daar ander mense by betrokke. Vanoggend het ‘n jongman vertel hoe die mense saam met wie hy ‘n huis deel, hom met hul lewensuitkyk en voorbeeld inspireer om ‘n beter mens te wees.

So het elkeen van my medetoerlede ‘n indruk op my gemaak. Sonder om name te noem, het ek die volgende met my saam teruggebring: ‘n Mens durf jou nie deur ouderdom laat afsit nie. Op 64 was ek immers een van die “jonges” op die toer. Die oudste toerlid is al verby 80 en moenie glo sy staan ‘n tree terug vir die “jongeres” nie. Nog iemand het haar 75ste verjaardag op die toer gevier. ‘n Egpaar vier volgende jaar hul 50ste huweliksherdenking. So basta met die verskoning dat jy te oud is om nuwe avonture aan te pak.

Ander het nare en hartseer ervarings deur hul lewe ervaar en gewys dat ‘n mens dit inderdaad kan oorleef en sterker anderkant uitkom. So boer een vrou voort nadat haar man oorlede is, nogal met ‘n jong vrou as plaasbestuurder. Wat ‘n voorbeeld. ‘n Ander het in haar lewe al ‘n hele paar nabye geliefdes aan die dood afgestaan en staan tans haar skoondogter by wat saam met haar seun in ‘n motorongeluk was en sedertdien ‘n kwadrupleeg is.

LEES OOK: Die gemaskerde breier: Om te brei of om te lees

Nog ander het pas afgetree of staan op aftrede nadat hulle vrou-alleen in hul beroep uitgestyg het. Ja, ‘n vrou is sterk genoeg om die lewe alleen aan te pak, bevestig hulle weer eens.

Toe ons op ‘n dag ná ontbyt klaarmaak om te ry, kry ‘n egpaar die ontstellende nuus: hul huis is besig om af te brand! In die volgende dag of twee voor hulle vroeër ‘n vlug “huis” toe haal, sien ons hoe twee mense van skok en ontkenning tot by aanvaarding werk. Soos die boodskappe en foto’s deurkom, besef hulle (en ons) dat hulle als verloor het, maar voor ons hulle groet, hoor ons hoe hulle beheer neem, planne beraam en selfs die positiewe daarin raaksien. Wat ‘n les in menswees.

Ek glo nogal aan die sêding: Mense onthou jou nie oor wat jy gesê het nie, maar hoe jy hulle laat voel het.  So, dankie aan hierdie groepie besonderse mense dat ek ‘n ryker mens kon terugkom. En dankie vir al die mense wat my op my lewenspad gevorm het.

En was ek trots toe een van die vroue opmerk: “Ek is mal oor Vrouekeur. Ons gebruik baie van die artikels vir ons Afrikaanse vraestelle. En die breipatrone is pure lekkerte.”

So, vir haar en al die ander wat Vrouekeur geniet, ek is al weer fluks aan die brei.

Ouma se blokkie

Maak 8 ks en glip in 1ste ks om ring te vorm.

1ste rdte: 3 ks, (1 lb, maar moenie laaste lus deurtrek nie) 2 maal, draad om pen, trek deur al die lusse, 5 ks, *(1 lb, maar moenie laaste lus deurtrek nie) 3 maal, draad om pen, trek deur al die lusse (saamgestelde langbeen), 5 ks, herh van * nog 5 keer, 1 saamgestelde lb, 2 ks, 1 lb aan bokant van 1ste saamgestelde langbeen (altesaam 8 saamgestelde langbene).  (Die 2 ks en lb is sodat jy in die middel van twee saamgestelde langbene eindig.)

2de rdte: 1 ks, 1 kb in 5 ks-sp, 3 ks, 3 kb in dieselfde 5 ks-sp, *(3 kb, 3 ks, 3 kb) in vlg 5 ks-sp, herh van * rondom, eindig met 2 kb in 5 ks-sp aan begin.

3de rdte: gs tot in 3 ks-sp, 3 ks, (1 lb, maar moenie laaste lus deurtrek nie) 2 maal, draad om pen, trek deur al die lusse, 5 ks, 1 saamgestelde lb, als in dies 3 ks-sp, *5 ks, (1 saamgestelde lb, 5 ks, 1 saamgestelde lb) als in vlg 3 ks-sp, herh van *  rondom, 2 ks, 1 lb aan bokant van 1ste saamgestelde lb.

4de rdte: 5 ks, 1 kb in vlg 5 ks-sp, 5 ks, *(1 kb in vlg ks-sp, 7 ks, 1 kb in dies ks-sp vir hoek), (5 ks, 1 kb in vlg ks-sp) 4 keer tot vlg hoek, herh van * rondom, gs in 1st ks aan begin.

Herh laaste rondte soveel keer as wat jy wil met 5 ks meer oor elke sy vir elke nuwe rondte.

Send this to a friend