Kies ‘n boek – 17 Januaire 2014

Willie Burger kyk hierdie week
na Marita van der Vyver en
Pat Stamatélos se werke

In die eerste deel van ’n Fontein voor ons deur verduidelik die gewilde skrywer Marita van der Vyver dat haar vorige boek, Die hart van ons huis, die tweede plek op die Suid-Afrikaanse topverkoperlys gehaal het (slegs oortref deur die internasionale treffer, The Da Vinci Code). Dit is interessant dat dié boek oor haar lewe op die Franse platteland juis die tweede plek op die fiksietrefferlys gehaal het, want soos Van der Vyver self verduidelik, het sy eintlik gemeen dat Die hart van ons huis niefiksie is. Sy het ook aan die opstellers van die lys probeer verduidelik “dat dit gaan oor my en my gesin (wat regtig bestaan) se lewe op ’n Franse dorpie (wat regtig bestaan) en dat alles waaroor ek skryf, regtig met ons gebeur het. (Glo dit of nie.)” Maar dan voeg sy tog by: “Wel, natuurlik het alles nie altyd presies gebeur soos ek dit beskryf nie. Enige skrywer weet tog ’n bietjie oordrywing kan ’n sappige storie net sappiger maak. (Selfs joernaliste weet dit.) Soms oordryf jy dus, soms laat jy feite weg om jou naastes se privaatheid te beskerm, soms verander jy die einde van ’n storie om dit meer humoristies of hartseer te maak.” ’n Fontein voor ons deur is, soos Die hart van ons huis, vertellings wat soms hartseer en soms humoristies is, altyd oor Van der Vyver se ervarings, en al sal ons nooit weet waar sy oordryf en waar sy verswyg om ander mense te beskerm nie, bly dit hoogs vermaaklik om te lees. Van der Vyver woon al 15 jaar in Provence. In Die hart van ons huis skryf sy oor die begin van hierdie tydperk, hoedat sy verlief geraak het, getrou het en saam met haar man ’n ou kliphuis gerestoureer het. In ’n Fontein voor ons deur is daar 20 vertellings waarin sy oor hul verhuising na ’n ander huis skryf, maar natuurlik is haar ervaring van ’n Franse verhuising iets heel anders as sommer ’n gewone verhuising. Net soos wat haar ervarings met tienerkinders in die huis en die geleidelike deelword van die Provensaalse samelewing niks gewoons is wanneer Van der Vyver dit beskryf nie. Hul ervarings in die nuwe huis en die nuwe omgewing word meesleurend vertel. Sy skryf: “Soms dink ek die skrywers van ’n sepie soos 7de Laan, waar wyd uiteenlopende karakters in een straat saamgegooi word, kan moontlik ’n paar lesse by ons kom leer.” Die vertellings en die karakters is inderdaad ’n uiteenlopende en interessante spul mense. Maar anders as in ’n sepie, is daar werklik roerende oomblikke en veel minder voorspelbaarheid. Die ervaring van kinders wat begin om die huis te verlaat en die besef dat ’n mens ouer word – dalk vir die laaste keer verhuis – en die nadenke oor wat dit is om ’n Suid-Afrikaner in Frankryk te wees, bring boeiende besinning mee, nie sepiemelodrama nie. Deurgaans is Van der Vyver se sin vir humor egter te sterk om die besinning swaartillend te laat word. Nog ’n gewilde skrywer is Pat Stamatélos. Haar debuutroman, Kroes, het in 2005 verskyn. Sedertdien het Die val van die dice, Die portier, Vier begrafnisse en ’n troue en Madeliefies van staal verskyn. Haar jongste roman, Pastoor, gaan oor die baie aktuele tema van iemand wat as kind deur ’n pedofiel misbruik is. Die verhaal van ’n vrou wat as volwassene deur die trauma moet worstel van wat haar deur ’n pastoor aangedoen is toe sy ’n kind was, word as “’n ware verhaal” aangebied. Kleintjie Ziman is oënskynlik gelukkig getroud. Sy is ’n suksesvolle onderwyseres en goeie ma vir haar dogter. Maar haar hele lewe stort ineen as gevolg van haar ervarings as kind. Die verhaal word vernuftig vanuit drie verskillende perspektiewe aangebied. Aan die een kant vertel Kleintjie haar eie verhaal, sy skryf ’n boek oor haar skrikwekkende jeugervarings toe die pastoor haar seksueel gemolesteer het, maar ’n houvas op haar gehad het sodat sy dit al die jare onderdruk het. Tweedens word ’n perspektief ook deur haar sielkundige gebied en derdens word hierdie perspektiewe deur haar man se kommentaar belig (wanneer hy die manuskrip van haar boek lees). ’n Mens hoor dikwels van pedofilie en mense vertel selfs grappies oor pedofilieskandale wat telkens die Katolieke Kerk skud, maar wanneer jy hierdie individu se verhaal lees, kry ’n mens eers ’n besef van hoe vernietigend so ’n ervaring op ’n individu se psige is. Vk

Send this to a friend