So skryf 'n wenner - 10 Januarie 2014 | Vrouekeur

So skryf ‘n wenner – 10 Januarie 2014

Willie Burger kyk na die
Hertzogpryswenner
Boerneef se werke

So baie keer is die eerste vraag wat ons oor ’n gedig vra: “Nou maar wat beteken dit nou eintlik?” Ons vra hierdie vraag so al asof die betekenis van ’n gedig ál is waaroor dit gaan, so asof ons eintlik net nodig het om ’n paar goeie interpretasies van enige gedig in die hande te kry en dan kan ons die gedig self maar vergeet. Enigeen wat van gedigte hou, weet egter dat daar veel meer op die spel is as bloot die betekenis van ’n gedig. Die gedig het ook ’n ander aspek, ’n “teenwoordigheid” – die klank daarvan, die ritme en verskeie assosiasies wat opgeroep word wat nie maklik as deel van die betekenis van die gedig beskryf kan word nie. Veral in gedigte waarin met die taal gespeel word, met die ritme en die klank van taal, raak ’n mens daarvan bewus dat betekenis eintlik eers later belangrik is, dat ’n gedig in die eerste plek ’n aanspraak op jou sensoriese waarneming maak. Een van die Afrikaanse digters wat telkens hierdie ervaring by die leser opwek, is Boerneef (skuilnaam van Izak Wilhelmus van der Merwe). Lees gerus hierdie bekende gedig van hom hardop:

Varkleerbaadjie en klinknaelbroek ek is Baaiplek se skorriekoning styfspanblous en nog stywerspanbroek sys my morrie my morriedoring dis sy en ek en ek en sy wat die mouterbaik so heluitry ons is een van Baaiplek se baie pare raasbekskorrieenmorriesnare maar ek is ammal se skorriekoning en sys my lekkerdingmorriedoring blits in die fles en blits innielyf wisenwragtag dan neuk dit styf gee pad daar voor hier kom die koning styf handommielyf sit my lekkerdingdoring

Hierdie klankryke en kreatiewe omgaan met woorde, altyd sonder leestekens en met ’n ligte, speelse element, het aan Boerneef in 1968 die Hertzogprys besorg. Ongelukkig was hy toe al dood. Dit was die enigste keer wat die Hertzogprys postuum toegeken is. Sy vyfde bundel, Op die flottina, het in 1967, die jaar waarin Boerneef dood is, verskyn en kon dus nog in 1968 vir die Hertzogprys in aanmerking geneem word. Die prys is egter vir sy hele poësie-oeuvre toegeken. Aanvanklik het Boerneef slegs prosa geskryf. Agt bundels sketse en verhale oor veral die Karoo het tussen 1938 en 1956 die lig gesien. Hierdie verhale en sketse word dikwels as “kontreikuns” beskryf omdat dit veral beskrywings van die plaaslewe in die Koue Bokkeveld en die Ceres Karoo bevat. Die kenmerkende taalgebruik van die streke is in Boerneef se verse vasgevang:

Horie petryse ennie fisane singhie petrysenfisanthoesane eers was dit droog ennie wêreld grys grys en naar vir fisant en petrys nout dit gereën en die veld is nat trap die hoppiedai fisant my skat allie petryse ennie fisane sing nou petrysenfisanthoesane

Ná die verskyning van sy eerste digbundel, Krokos, in 1958, het hy nie weer prosa gepubliseer nie. Nog vyf digbundels het egter gevolg. In sy verse sluit Boerneef by Van Wyk Louw se “Klipwerk” aan. Talle volksverhaaltjies, liedjies en rympies kan hierin herken word. Die klankrykheid van die gedigte is dalk een van die redes waarom talle van Boerneef se verse ook getoonset is. Sommige versreëls het in die gewone spreektaal ingeburger geraak. Dink maar aan die laaste reëls uit dié bekende gedig:

Die berggans het ’n veer laat val van die hoogste krans by Woeperdal my hart staan tuit al meer en meer ek stuur vir jou die berggansveer mits dese wil ek vir jou sê hoe diep my liefde vir jou lê Sommige gedigte lyk soos die blote speel met klinkende woorde: Hierie bierie bokmakierie sit op hierielieriekierie bieriebok en kierielok gee hierso my kieriestok bieriekierie bokmakierie dit is my olienhoutkierie

Die eenvoud van die gedigte kan egter bedrieg en dikwels raak ’n mens van ’n ernstige, besinnende toon bewus en jy besef die “duisterheid van ’n gedig / maak goeiste weet die donker lig”. Taal is vir Boerneef ’n manier om die dood te besweer – op ’n manier “sy eie doepa (te) vind teen die venynigheid van weer en wind”. Sonder taal onstaan daar ’n desperaatheid by die spreker in “My meisie se wange is sterkoningappels”. As hy sy meisie kwyt is omdat hy gaan kuier het in “Lekkertuin” en sy hom daarom nie meer wil hê nie, sê hy: “Nou staan my ghremmer nous ek desperaat”. ’n Huldeblyk aan Boerneef se vermoë om in kreatiwiteit en taalspel die dood te besweer, word in Dan Sleigh se onlangse roman, Wals met Matilda, gelewer, waarin een van die karakters wat passievol oor taal voel Karelina van der Merwe heet en deurgaans met taal speel. Vk

Send this to a friend