Kies ‘n boek – 20 Junie 2014

Willie Burger kyk na die Nederlandse skrywer Arnon Grunberg se roman Triza, wat nou Afrikaans praat

Willie Burger

Daar word dikwels sommer aanvaar dat Afrikaanse lesers oor die algemeen goed tweetalig is en daarom sal verkies om ‘n boek eerder in Engels te lees as om ‘n Afrikaanse vertaling daarvan te lees. Dit mag dalk in sommige gevalle waar wees, maar wanneer ‘n boek tegelyk in Afrikaans en Engels verskyn, verkies die meeste Afrikaanse lesers tóg oënskynlik om dit in Afrikaans te lees. Van die Afrikaanse weegawe van Mike Nicol se Cops and Robbers, Dieners en donners, is byvoorbeeld veel meer eksemplare as van die oorspronklike Engelse roman verkoop!

Wanneer dit gaan oor boeke wat oorspronklik in Nederlands verskyn het, maak vertalings egter nog meer sin. Talle Afrikaanse lesers kon nog sowat drie of vier dekades gelede met slegs geringe inspanning Nederlandse boeke lees (tot aan die begin van die 1980’s is Nederlandse tekste immers nog in die leerplan vir Afrikaanse letterkunde op hoërskool ingesluit). Deesdae vind die meeste jonger Afrikaanse lesers egter moeite om Nederlands te verstaan en daarom het dit nodig geword om Nederlandse werke in Afrikaans te vertaal. Die uitgewer Protea se bydrae in hierdie verband verdien lof. Deur Afrikaanse vertalings van Nederlandse letterkunde, jeugfiksie en niefiksie uit te gee, word die aanbod van leesstof vir Afrikaanse lesers aansienlik uitgebrei.

Arnon Grunberg is seker op die oomblik een van die belangrikste Nederlandse skrywers. Hy is ook ‘n buitengewoon produktiewe skrywer met meer as ‘n dosyn romans die afgelope tien jaar. Hy woon tans in New York waar hy as rubriekskrywer en joernalis bydraes vir verskeie Amerikaanse en Nederlandse koerante lewer.

Grunberg is op 17 uit die hoërskool geskors en hy het toe sy eie uitgewery begin. Op 23 het sy eerste roman, Blaauwe Maandagen (1994), verskyn. Die roman is in 13 tale vertaal en was regdeur Europa ‘n blitsverkoper. Van De heilige Antonio (1998) is oor die 700 000 eksemplare in Europa verkoop terwyl Fantoompijn (2000) met die AKO-prys bekroon is.

Nou kan Afrikaans ook gevoeg word by die 23 tale waarin sy werk reeds vertaal is. Tirza (2006), is deur die digter Lina Spies vertaal en dit het pas by Protea verskyn.

Tirza is ‘n omvangryke roman in drie dele (altesaam byna 500 bladsye). Byna al die gebeure speel in een aand af – die aand van Tirza se partytjie om haar laaste skooldag te vier. Haar pa, Jörgen Hofmeester, probeer om ‘n modelpa vir hierdie lieflingdogter van hom te wees. Sy vrou het hom talle kere met meer opwindende mans verkul en sy het hom al drie jaar voor hierdie partytjie verlaat sonder om ooit weer van haar te laat hoor. In hierdie tyd wy Jörgen hom ten volle aan die taak om vir sy dogter die beste moontlike opvoeding te gee. Hy lees ure vir haar uit die beste boeke uit die wêreldletterkunde voor. Hy spaar al sy geld om vir haar ‘n goeie kans in die lewe te kan gee en span al sy kragte in om sy talentvolle lieflingdogter tot die sukses te lei wat hy nie self kon smaak nie.

Sy eie lewe is eintlik maar ‘n deurmekaarspul. Hy is knap oor die 50, sy vrou het hom verlaat, sy oudste dogter woon in Frankryk en is volgens hom ‘n mislukking en hy het ‘n taamlik onsuksesvolle loopbaan in die uitgewersbedryf, in ‘n tyd waarin boeke nie meer goed verkoop en hoë status geniet nie. Al wat eintlik nog sin aan sy bestaan gee, is die hoop wat hy op Tirza vestig. Hy probeer hard om alles wat van ouers verwag word, korrek uit te voer. Hy kan die idee verwerk dat sy dogter seksueel aktief is en probeer selfs om haar raad in dié verband te gee. Hy kan ook die skok verwerk as sy eksvrou op die aand van die partytjie skielik uit die bloute daar opdaag en ‘n ontkleedans vir die partytjiegangers gee.

Maar wanneer dit blyk dat Tirza verlief is op ‘n man wat vir Jörgen soos die 9/11-aanvaller, Mohammed Atta, lyk, kan Jörgen dit nie verwerk nie. Die obsessionele verhouding tussen pa en dogter stuur nou op ‘n ramp af.

Byna die hele verhaal word aangebied deur terugflitse, soos wat Jörgen terugdink tydens sy voorbereidings vir die partytjie. Grunberg hou die leser geboei met ‘n spannende storielyn en baie kwinkslae en snaaksighede wat die donker ondertoon draaglik maak.

Die roman sê veel oor die verhouding tussen ouers en kinders, maar dit is ook ‘n verkenning van die wêreld waarin ons nóú leef. Die opvoeding van die vorige generasie (mense soos Jörgen wat nou in hulle veertiger- of vyftigerjare is) het hulle nie voorberei op die wêreld waarin hul kinders nou grootword nie.

Lina Spies is ‘n gesoute vertaler en die roman is met groot sorg vertaal. Die roman se Engelse vertaling is reeds baie positief ontvang, maar dit voel tog meer outentiek om dit in Afrikaans te lees. Hoewel Grunberg se tipiese galgehumor help, is dit geen vrolike boek nie. Vir die lesers wat enduit vasbyt, is dit een van die beste romans wat jy hierdie jaar kan lees.

Send this to a friend