Kies ‘n boek: Die dinge van ‘n kind en How Far We Slaves have Come

Willie Burger kyk na heruitgawes van twee boeke

Willie Burger

Die Afrikaanse lesersmark is nie baie groot nie. TT Cloete het in een van sy vroeë gedigte aangevoer dat daar te veel sonskyn in ons land is en dat mense daarom te min tyd binnenshuis met boeke verwyl. Dit is dalk een van die redes waarom die meeste Afrikaanse boeke kleinerige drukoplae het en selde herdrukke beleef. Sommer enkele jare nadat ‘n roman verskyn het wat selfs goeie resensies gekry het en opspraak gewek het, is dit dikwels moeilik om die boek nog in die hande te kry en sien ‘n mens sommer rye daarvan op die afslagtafels voor boekwinkels, waarna die boek in die vergetelheid verdwyn.

Slegs enkele boeke beleef herdrukke en nuwe uitgawes. Meestal is dit boeke wat deur die voorskryfmark onder die aandag van lesers gehou word. En dan is daar Marita van der Vyver. Haar roman uit 1994, Die dinge van ‘n kind, is verskeie kere herdruk (1994, 2005, 2011) en het pas in ‘n tweede sagtebanduitgawe verskyn. Hoewel Die dinge van ‘n kind destyds nie so goed deur al die resensente ontvang is nie, is dit duidelik dat Van der Vyver met hierdie roman iets vasgevat het wat steeds tot lesers spreek.

In Suid-Afrika is daar geweldig baie romans waarin volwassenes uit die 1990’s of uit hierdie eeu na hul grootwordjare in die 1960’s, 1970’s en 1980’s terugkyk. Soms word die terugkyk van nostalgiese verlange na ‘n vervloë onskuld vergesel, dikwels met ‘n verwyt oor die leuens van die sameleWillie Burger kyk na heruitgawes van twee boeke wing. Twee van die mees onlangse voorbeelde wat ook op hierdie blad bespreek is, sluit in Dominique Botha se bekroonde Valsrivier en Debbie Loots se Split. Ook in die Engelstalige fiksie is talle romans op ‘n manier gemoeid met só ‘n terugkyk na ‘n jeugverlede van vóór 1994. Dink maar aan Anne Landsman se voortreflike The Rowing Lesson of Jo-Ann Richards se The Innocence of Roast Chicken en Mohale Mashigo se The Yearning.

Van die ouer, bekende werke waarin teruggekyk word na ‘n oënskynlik sorgvrye jeug voordat agtergekom word dat apartheid ‘n probleem in die land is, sluit ook Mark Behr se Die reuk van appels, Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie en Jan van Tonder se Roepman in. Marita van der Vyver is ongetwyfeld een van die gewildste Afrikaanse skrywers. Haar “jeugverhale”, soos Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (2002), is die soort boeke wat ‘n mens graag vir jou kinders gee sonder dat jy skaam hoef te voel dat dit in ‘n outydse Afrikaanse wêreldjie bly vassteek. Sy deins nooit terug daarvan om oor onderwerpe te skryf waaroor soms nie gepraat word nie en kry dit telkens reg om ernstige en belangrike temas met soveel humor en deernis aan te roer dat dit nie kan aanstoot gee nie.

In Die dinge van ‘n kind word na die jeugjare van Mart Vermaak in die 1970’s teruggekyk. Dit is ‘n grootwordroman oor tieners se ontdekking van seks, dwelms en rock ‘n’ roll. Dit is ook ‘n terugkyk na ‘n tyd van patriargale oorheersing in die gemeenskap – onderdrukkende reëls, onderwysers, politici, vaders, generaals, maar alles word só vaardig en seepglad vertel, met geloofwaardige en gladde dialoog, dat dit “natuurlik” voel – selfs wanneer oor taboe-onderwerpe geskryf word. Die dinge van ‘n kind is steeds relevant en ek is bly dat dit weer uitgegee is.

Dit is ‘n boek wat ‘n mens aan baie ervarings rondom diensplig en grootword in die 1970’s en 1980’s herinner. Maar dit is ook ‘n boek wat jy graag vir jou tienerkinders wil gee omdat dit hulle met herkenbare en identifiseerbare situasies sal vermaak, maar ook omdat dit hulle sal help om iets te verstaan van hoekom die land waarin hulle grootword, is soos dit is.

marita

Nóg ‘n welkome heruitgawe is die boekie met die toesprake wat Nelson Mandela en Fidel Castro tydens hulle eerste ontmoeting in 1991 gemaak het, How Far We Slaves have Come. Mandela het kort ná sy vrylating Kuba besoek aangesien Kuba se betrokkenheid in Angola tot die einde van apartheid bygedra het. Mandela en Castro het albei hul lewens aan verset teen ongelykheid in die samelewing gewy – Castro deur téén kapitalisme te veg wat hy as die bron van ongelykheid en ongeregtigheid beskou het en Mandela teen rasdiskriminasie. Hierdie toesprake vat veel van die tydsgees en van die twee invloedryke mense se idees vas.

slaves

Send this to a friend