Kies ‘n boek: Stoner deur John Williams

Wat in al hierdie jare met Stoner gebeur, is aan die een kant hartverskeurend. Hy beleef die een teleurstelling op die ander

In boekblaaie word meestal oor die jongste publikasies geskryf. Maar hierdie week wil ek skryf oor ‘n roman wat al in 1965 verskyn het. Die roman het destyds ‘n paar louwarm resensies gekry en toe het dit spoedig in die vergetelheid verdwyn.

John Williams, die skrywer van die roman Stoner, is al in 1994 oorlede en die roman was toe al langer as twee dekades uit druk en onbeskikbaar. Williams se volgende roman, Augustus, is in 1972 met die National Book Award bekroon en dié roman oor keiser Augustus is tot vandag toe beskikbaar.

In 2003 het ‘n New Yorkse uitgewer besluit om Stoner weer uit te gee. Oor die volgende tien jaar is slegs byna 5 000 eksemplare verkoop. Maar skielik is daar gedurende 2013 164 000 eksemplare van Stoner verkoop. Toe word dit in Frans vertaal en daarna in Nederlands (en in Nederland alleen het oor die 200 000 verkoop!) en in Italië is 80 000 in 2013 verkoop. Hierna het die boek ook in Duitsland baie gewild geword. In 2013 het die invloedryke Britse skrywer Julian Barnes in ‘n bespreking in The Guardian, Stoner as "die moet-lees-roman van die jaar" beskryf.

Wat hierdie buitengewoon suksesvolle tweede lewe van Stoner so merkwaardig maak, is dat dit nie het met groot reklameveldtogte gepaard gegaan nie, maar is hoofsaaklik is deur die aanbeveling van een leser aan ‘n ander veroorsaak.

‘n Mens kan maar net bespiegel oor die redes waarom ‘n roman eers 40 jaar ná die aanvanklike verskyning daarvan skielik ‘n soort blitsverkoperstatus kry. Dit sal ook interessant wees om uit te vind waarom ‘n Amerikaanse skrywer soveel meer byval in Europa as in die VSA vind.

Die hoofkarakter, William Stoner, was byna sy hele lewe lank ‘n professor in Engels aan die universiteit van Missouri. As onblootgestelde seun van arm boere wat ‘n sukkelbestaan voer, kry hy in 1910 die geleentheid om aan die universiteit van Missouri landbou te gaan studeer. Sy pa hoop dat sy kennis hulle op die plaas sal kan help.

Die landbouvakke interesseer hom nie werklik nie, maar hy studeer getrou en bemeester al die werk wat van hom verwag word. In sy tweede jaar moet hy ook ‘n verpligte kursus in Engelse letterkunde volg. Vir die eerste keer lees hy letterkunde en Stoner word heeltemal deur die kragtige effek daarvan oorweldig. Hy verander van kursus, voltooi later sy MA en Doktorsgraad en word in die Engelse departement aangestel, waar hy tot sy dood in 1956 werk.

Wat in al hierdie jare met Stoner gebeur, is aan die een kant hartverskeurend. Hy beleef die een teleurstelling op die ander. Nóg sy huwelik, nóg sy navorsing, nóg sy onderrig, nóg die groot liefde wat hy vind, verloop soos hy dit wou hê. Die teenslae is soms byna te seer om verder daaroor te lees. Die manier waarop sy departementshoof sy loopbaan kelder en die aftakelende stryd wat sy vrou teen hom voer, verdra hy byna stoïsyns en dit maak ´n mens byna nog droewiger.

Maar ten spyte van alles is Stoner nie sommer as ‘n verloorder af te maak nie. Sy lewe mag van buite onmerkwaardig lyk, hy was geen flambojante dosent wat talle studente se lewens radikaal beïnvloed het nie, geen suksesvolle navorser met opspraakwekkende publikasies agter sy naam nie, maar tog is dit nie nét ‘n droewige verhaal van iemand wat op byna elke terrein teleurstelling gesmaak het nie.

Stoner is ook ‘n roman waarin oor die universiteit as instelling nagedink word. Dit is ook ‘n roman oor die genot en die effek van letterkunde en die sin van die onderrig daarvan. Miskien is die krisis in die geesteswetenskappe aan universiteite wat tans wêreldwyd ervaar word, een van die redes waarom die roman juis nou so goed vaar.

Maar waarskynliker is dit die wysheid oor die lewe, oor haat, oor passie en oor liefde, oor die onverwagte effek wat ‘n enkele verhelderende insig op ‘n mens se lewe kan hê, wat so baie lesers aangryp. As jy hierdie jaar net een boek lees, sorg dat dit Stoner is!

Send this to a friend