Kies ’n boek: Kinnes deur Chase Rhys

Willie Burger kyk na Chase Rhys se debuutwerk Kinnes

Ons leef in een van die gewelddadigste lande in die wêreld. Volgens die statistiek is Kaapstad die stad waarin die meeste mense in ons land gewelddadig sterf. Die een probleem met statistiek is dat dit syfers is; dat wanneer jy hoor hoeveel mense per duisend van die bevolking jaarliks weens geweld sterf, jy aan ’n getal dink, nie aan mense nie. Die ander probleem met statistiek is dat mens afgestomp raak. “O, is daar al weer iemand weens bendegeweld in kruisvuur dood? Sjoe, dit gebeur nogal dikwels. Die statistiek sê …” Op hierdie manier normaliseer statistiek selfs die geweld.

Chase Rhys se debuutwerk, Kinnes, bied ’n noodsaaklike alternatief op statistiek se afstomping. Die leser word by die lewens van individue betrek wat in ’n gemeenskap leef waarin dit bitter moeilik is om selfrespek te hê. Soos Derick, die een karakter, dit stel: “Dais eintlik wattie mense nie vestaanie. Byrie hys sukkel ammel, daas niks virie laaities daa nie. Niks warmte nie. Daa issie altyd kossie, daa moet elke dag geld is vi units, die wate is restricted. Ôs is dôs. Ôs kannie wassie. Nou of course assie situation soe is dan is daa min plek vi liefde, jy kry nie soema respect ie. Jou worth depend net op hoeveel jy kan inbring. Soe as jy nie wêkie, dan kyk jou mense jou an soes: Hoekô liewe jy?”

Die verhaal van Derick en Nicole se liefde, van haar ambisie om universiteit toe te gaan, en hoe hy haar met sy poetry oorrompel, word met die verhaal van Ahnie Brandt, leier van die Butcher Boys, verweef. Ahnie kry die respek van die gemeenskap deur ’n klein rol as byspeler in ’n Hollywood-fliek oor bendegeweld te vertolk. Maar mense in sy buurt vergeet spoedig van daardie prestasie en hy moet opnuut respek verdien. Hy maak sy eie video’s: video’s van die Butcher Boys se geweld. Hy vind dat mag daarin setel om mense se lewens in jou hand te hou: “Nou dai is power.” En as hy die vrees van die Butcher Boys se slagoffers opneem en op die internet versprei, groei die vrees in die gemeenskap, en sy mag neem toe. Dis die enigste respek wat hy vind.

Sy ma, Mary, veg ook vir respek, op alle maniere denkbaar – met ’n skerp tong of ’n skerp mes. Dan is daar nog Rolanda, die “Cape Kardeshian” wat probeer om met haar skoonheid (en reguit hare) die gemeenskap se respek te kry. Elk van die karakters kom herhaaldelik aan die woord om sy of haar stukkie van die verhaal verder te vertel. Al die vertellings loop uiteindelik op een gebeurtenis af, waar almal se verhale kruis. Elke karakter se vertelling uit sy of haar perspektief bring elke keer ’n blik op ander mense en die res van die gemeenskap. Die verskillende stemme bring afwisseling en spanning word geskep – die leser vermoed al, op grond van een verteller se spreekbeurt, dat iets gaan gebeur en is dan nuuskierig om te sien wat die impak op ’n ander karakter is.

Rhys hanteer die verskillende vertellers baie vaardig. Al is hulle stereotipes, kry elkeen tóg ’n eie stem en kompleksiteit. Elkeen se bedoelings, maar ook die onbedoelde effek van hul handelinge op hulself en op mekaar, word belig. Hierdie beklemtoning van die gaping tussen bedoelings en die effek van handelings, tussen ideale en die werklikheid, is die sterk punt van Kinnes. Nie slegs die karakters se werklikheid oorstyg hul beste bedoelings nie, die leser se hoopvolle verwagtings van die verhaal stuit ook op ’n werklikheid wat teen alle hoop indruis. Die verhaal van mense se strewe en hoop in ’n gemeenskap wat deur werkloosheid, armoede, dwelms en bendegeweld verwoes word, is nie net somber nie.

Daar is ook humor wat vir afwisseling sorg. Baie van die situasies is snaaks, en soms lê die humor in die taalgebruik, in die kwinkslae. Maar meestal is die humor ’n bietjie wrang en mens wil nie regtig lag nie. Kinnes bied vir ’n groot deel van die kopers en lesers van Afrikaanse boeke, die wit middelklas, ’n kompliserende blik op ’n wêreld waaroor hulle dikwels slegs in die vorm van statistiek dink. Die verhaal betrek mens by mense se lewens, eerder as by syfers, en bied ’n ervaring van hoe mag en respek in ’n vernederde gemeenskap werk. Maar Kinnes bied ook vir ’n groot deel van Afrikaanse lesers ’n bekende verhaal in ’n taal en in ’n ruimte waarmee hulle kan identifiseer.

Anastasia de Vries word op die agterblad aangehaal: “Met sy boek sit Chase Rhys die ritme en musikaliteit terug in Kaaps, die Afrikaans van my hart.” Juis hierom is Kinnes ook ’n manier waarop respek in ’n gemeenskap gebou word. Die toe-eiening van Kaaps deur kreatiewe uitdrukking daarin, van die musiek van Early B tot die skryfwerk van Nathan Trantraal, bied vir ’n groot deel van Afrikaanse sprekers wat op baie maniere uitgesluit word, iets om respek voor te hê, terwyl die reikwydte van wat in Afrikaans geskryf kan word, verruim word. (Kwela)

Send this to a friend