Feestyd: Hou die beursie dop | Vrouekeur

Feestyd: Hou die beursie dop

Die feestyd is sinoniem met ooreet en oorspandeer. Hoe kan jy keer dat spandering handuit ruk?

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Geskenke vir Kersfees en almal is bly, maar wat gebeur in Januarie as die geld op is?

André Wentzel, oplossingsbestuurder by Sanlam Persoonlike Finansies, sê dis baie belangrik om ‘n goeie feesbegroting op te stel.

“Dit klink dalk voor die hand liggend, maar baie min mense stel ‘n realistiese begroting voor die vakansietyd op en bly dan daarby. Kostes kan met jou weghol as jy nie versigtig is nie.”

Hierdie begroting moet op jou inkomste, finansiële verpligtinge en jou langtermynspaardoelwitte gegrond wees, maan André.

Enige bonusse behoort gebruik te word om skuld te betaal of te belê. “Langtermynspaar is baie beter as korttermynbevrediging.

Onthou Januarie is ‘n baie lang en moeilike maand,” waarsku André.

Hier is hul wenke om te bespaar:

  • As jy mense vir Kersfees nooi, moenie skaam wees om te vra dat almal geregte en hul eie drinkgoed bring nie. Dit verlig die las.
  • Stel ‘n realistiese spanderingsdoelwit op vir elke geskenk en gesels met die familie om dalk een naam vir ‘n geskenk te trek in plaas daarvan om vir almal iets te koop. Koppel ‘n bedrag aan die geskenk.
  • As jy gewoonlik vir onderwysers, bure en dies meer klein geskenkies stuur, dink aan iets tuisgemaak soos koekies.
  • Vir jong kinders is daar winkels wat bekostigbare speelgoed verkoop.
  • Maak jou eie goedkoper Kersklappers.
  • Hou by jou inkopielysie.
  • Vermy winkelsentrums, anders spandeer jy te veel.
  • Gebruik bruinpapier om geskenke in toe te draai, dis goedkoper en beter vir die omgewing.
  • Loer op uitverkopings vir geskenkidees.
  • Onthou om geld vir skoolgeld en groot uitgawes in Januarie weg te sit.
  • Koop in groot maat of aanlyn om die beste kopies te kry.
  • Dink aan DIY-versierings vir Kersdekor – moenie alles koop nie.
  • Besnoei met die Kersmaal. Is al die kos regtig nodig?
  • Stuur e-kaartjies vir geliefdes.
  • Los jou kredietkaart tuis as jy winkels toe gaan.
  • Belê in ervarings eerder as dinge, soos om as gesin ‘n vertoning by te woon.
  • Verkoop goed wat jy nie meer gebruik nie. Gumtree en Facebook Marketplace kan help.

Send this to a friend