Help, die lewe raak te duur! | Vrouekeur

Help, die lewe raak te duur!

Hoë kospryse, brandstofpryse, skoolgeld en wie weet wat nog? Hoe bespaar mens in hierdie tyd? vra Zerelda Esterhuizen

Ons kla die lewe raak duurder en duurder en ongelukkig is dit inderdaad die geval. “Die petrolprys het vandeesmaand deur die R16 per liter-merk gebreek en met ‘n rand wat sedert die begin van Junie 8,6% swakker is teen die dollar, gaan ons nog meer vir ander dinge ook betaal,” sê Madri Jacobs, ‘n senior finansiële beplanner by Sanlam.

“Dis nou tyd om beheer van jou geldsake te neem en hoewel daar nie so ‘n ding is soos ‘n kitsoplossing nie, is daar ‘n paar slim finansiële wenke wat ‘n groot verskil kan maak.”

Raak ontslae van duur skuld

Hersien jou lenings, insluitend voertuig- en verbandlenings, kredietkaarte en winkelrekenings. Betaal die duurste (of dié met die hoogste rentekoers) eerste. Dis ‘n versoeking om op skuld te koop, maar dan betaal jy baie meer vir die ding wat jy koop. Koop dit eerder kontant. Sodra jy nie meer skuld hoef te betaal nie, kan jy daardie geld begin spaar.

Ondersoek jou bankrekening

Kyk na elke liewe item op die laaste drie maande se bankstate. Gaan alle kostes en fooie na. Kyk of jy die maandelikse pakket waarvoor jy betaal optimaal gebruik. Jy kan dalk afgradeer na ‘n meer geskikte bankrekening of van bank verskuif as jy elders minder vir die dienste kan betaal. As jy byvoorbeeld net R40 per maand op bankkostes kan spaar, is dit al R480 jaarliks.

Hersien jou intekenings

Kyk na TV-, data- en internetintekenings sowel as gim- of klublidmaatskap. Gebruik jy alles en kan jy dit bekostig? Dit kan ‘n groot maandelikse besparing beteken.

Pak middagete in

Om elke dag jou eie middagete werk toe te vat, kan ‘n groot maandelikse besparing wees en jy kan boonop gesonder leef. As jy R20 per dag kan spaar, is dit R100 ‘n week en omtrent R4 000 per jaar!

Leen voor jy koop

As jy ‘n katoeter of toestel soek, maar nie heeltemal seker is nie, leen ‘n familielid of vriend s’n om te kyk of jy dit regtig gaan gebruik. As jy sulke toestelle het wat jy nooit gebruik nie, verkoop dit. Speel die vyfdagspeletjie. Dink vir vyf dae daaroor voor jy iets koop en as jy dit daarna steeds soek, is dit dalk nodig. Andersins kan jy daardie geld eerder spaar.

Hersien jou begroting

Hierdie behoort die hoeksteen van jou finansiële beplanning te wees. Kyk na jou begroting uit drie hoeke: langtermyn (aftrede), mediumtermyn (onderrig), korttermyn (huishoudelike begroting).

Gaan winkel toe met ‘n lysie

Dis altyd gevaarlik om sonder ‘n lysie winkels toe te gaan. Hou by jou lys en probeer om alles op een slag te koop sodat jy nie onnodig winkel toe gaan wat ekstra brandstof en ekstra produkte beteken nie.

Kyk hoe jy minder brandstof kan gebruik

Openbare vervoer of ryklubs kan ‘n opsie wees. Kry ook hier wenke: SIT ONS ARTIKEL SE LINK IN

Vra vir raad

Net soos mens iemand kry om jou met oefening te help, so het jy ‘n persoonlike finansiële afrigter nodig. Werk saam aan ‘n plan om jou finansies te verbeter.

Moenie hoop verloor nie

Onthou dat jy nie die enigste een is wat met finansies sukkel nie. Hou by jou begroting en maak klein veranderinge om jou skuld te verminder en te spaar.

Vir meer inligting oor Sanlam, besoek www.sanlam.co.za

Send this to a friend