Stel jy uit en uit? | Vrouekeur

Stel jy uit en uit?

Ons almal ken die uitdrukking “van uitstel kom afstel”. Kan jy dit verander as jy ‘n uitsteller van formaat is? Blykbaar kan jy …

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Jy het 100 dinge om by die werk te doen en dan is daar nog ‘n 100 dinge by die huis ook – om nie te praat oor al die dinge wat die skoolbriefies konstant van jou vra nie.
Maar jy gaan nog by als uitkom. Jy gaan! Net gou vinnig na Facebook loer en dan ‘n WhatsApp vir jou vriendin stuur en ja, as jy weer sien, is jou dag verby en is jy nog nie naby jou doenlysie nie. Kan mens dit verander? Jaaaaaaa, as jy regtig hard probeer!

Ons het ‘n paar wenke opgespoor:

  • Daar is geen ander manier nie, mense. Skryf elke liewe ding neer wat jy moet doen. En nie op klein notas wat kan wegraak nie – in ‘n dagboek.
  • Los probleme dadelik op. As iets ‘n noodgeval is, stel jou daarop in om dit dadelik op te los sodat verdere probleme nie voorkom nie.
  • Bestee elke dag ‘n paar minute om die dag se prioriteite na te gaan.
  • Skryf die take neer wat die belangrikste is en doen dit eerste.
  • As jy weet jy moet iets doen en jy verpes dit, doen dit eerder eerder en volg dan met ander makliker take.
  • As jy weet dat iets jou slegs ‘n paar minute gaan vat, moet dit nie eers neerskryf nie, doen dit dadelik.
  • Stel vir jouself doelwitte en skryf elke stap neer.
  • As daar ‘n groot taak is wat jy nie in een dag kan doen nie, skryf neer hoeveel minute jy elke dag daaraan moet werk en doen dit.
  • Werk vir ‘n sekere tyd onafgebroke (sonder om na jou e-pos of sosiale media te loer) en gee jouself dan ‘n blaaskans.
  • Verminder afleidings, sit al daai kennisgewings op jou rekenaar en foon af.
  • Wees bewus van wat in jou kop aangaan. Hoekom is dit vir jou so lekker om uit te stel en hoekom wil jy dit doen?
  • As jy iets groots en uitdagends klaargemaak het, beloon jouself. Hoekom nie ?
  • Verbind alle take met ‘n doelwit. Soos: “As ek hierdie mense terugbel, kan dit my werk verbeter wat moontlik eendag bevordering kan beteken.”
  • Kry iemand om jou te ondersteun en te help. Soos: “Christa, onthou my asseblief om nou-nou die nuwe skedule uit te stuur?”

BRON: www.developgoodhabits/stop-procrastinating/

Send this to a friend