My tiener se brose selfbeeld

Jou tiener sien haarself nie soos jy haar sien nie. Hoe kan jy haar selfbeeld ’n hupstoot gee? Ons gee wenke

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

“Ons tienerdogter (15) is ‘n pragtige kind, maar sy voel deesdae vir my soos ‘n vreemdeling. Sy meet haarself konstant aan haar maats en sy haat haar krulhare, haar lengte, haar gewig, selfs die manier hoe sy loop. Daar is niks fout met haar nie, maar sy dink sy is die lelikste kind in die skool. Hoe bou ek haar weer op?” vra Anet*.

Die tienerjare is beslis nie kinderspeletjies nie. Daar is druk van die portuurgroep, hormonale veranderinge en ander faktore, maar jy kan help om dit vir jou kind makliker te maak.

Wees ’n rolmodel

Hoe praat jy oor jouself en maak jy ‘n groot kwessie van jou eie gewig en voorkoms? Moenie jouself afkraak nie, want jou tiener meet dan haarself aan jou maatstawwe.

Filter mediaboodskappe

Kyk saam met jou kind TV en verduidelik wat sekere boodskappe beteken en hoekom mens dit nie moet kop toe vat nie. Gesels oor wat ‘n gesonde liggaam is en wat dit als behels.

Leer jou kind om selfgeldend te wees

Jou meisiekind moet weet dat sy nie net almal tevrede moet stel nie, maar dat sy ook haar eie mens moet wees en vir haarself moet opstaan. As sy nie met iets saamstem nie, moet sy kan sê: “Dis nie vir my nie.”

Leer jou kind se maats ken

Nooi maats oor na jul huis toe en gesels met hulle. Leer hulle ken sodat jy weet met wie jou kind gesels en of sy haar aan hulle meet.

Help haar om ’n styl te ontwikkel

Moenie jou kind se kleresmaak op jou eie modelleer nie en leer haar wat individualiteit beteken en dat ons nie almal soos mekaar hoef te lyk nie. Kyk na verskillende style en laat haar kies hoe sy wil lyk. Leer haar ook watter klere ouderdomtoepaslik is.

Moenie net haar voorkoms komplimenteer nie

Natuurlik is dit lekker vir jou kind om te hoor hoe pragtig sy is, maar komplimenteer haar ook op haar menswees: “Ek is so trots daarop dat jy so gaaf met die nuwe kind by die skool is” of “Jy het ‘n mooi hart” of “Ek is so trots daarop dat jy so hard op skool werk”.

Gesels oor sterk vrouerolmodelle

Jou kind is dalk gek na ‘n mooi sangeres of aktrise, maar gesels met haar oor sterk vrouerolmodelle soos wetenskaplikes, politici, aktiviste, mense wat ‘n wesentlike verskil in die wêreld maak. Gesels oor die eienskappe wat hulle juis besonders maak.

Wees versigtig oor hoe jy oor ander vroue praat

Let op na wat jy van ander vroue voor jou kind sê. Sê jy dalk iets van iemand se gewig of voorkoms? Dit het alles ‘n impak op jou kind.

Wys jou liefde

Sê en wys vir jou kind dat jy lief is vir haar, ongeag wat sy bereik en watter prestasies sy behaal.

Gee jou kind ruimte om haarself te wees

Kinders moet ook ‘n sê hê in kwessies wat hulle raak. Laat jou kind sekere besluite self neem.

Gesels en vra vrae

Gesels met jou dogter en vra vrae oor skool en haar sosiale lewe. Vra haar mening oor kwessies en leer haar dat sy ‘n stem het en dat sy mag sê hoe sy oor dinge voel. Gee jou onverdeelde aandag sodat jou kind weet dat jy werklik luister.

BRONNE: www.todaysparent.com

https://www.todaysparent.com/kids/how-to-talk-to-girls-8-ways-to-improve-your-daughters-self-esteem/

Send this to a friend