Ouerskap 101 | Vrouekeur

Ouerskap 101

Dis nie aldag maklik om ’n ouer te wees nie. Ouerskap toets jou geduld, dit het hordes uitdagings, maar menige ouer sal saamstem, dis ’n reis wat deur en deur die moeite werd is. Hier is wenke om ’n beter een te wees

Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Niemand van ons is perfekte ouers nie. Mens maak foute en dis heeltemal normaal. Maar jy kan probeer om ‘n beter ouer te word. Ons het ‘n klompie wenke opgespoor.

1. Wees ’n goeie luisteraar

Ja, jy is dalk regtig nie lus om te hoor hoe irriterend jou kind se maat vandag by die skool was of wat op hul gunsteling-TV-program gebeur nie, maar as jou kinders praat, luister. Gee jou onverdeelde aandag. Hulle moet weet dat Ma en Pa daar is om te luister en raad te gee.

2. Wys jou onvoorwaardelike liefde

Vertel vir hulle jy is lief vir hulle en wys dit tasbaar. Gee lekker stywe drukkies (al maak dit hul verleë) en maak seker hulle voel geliefd en spesiaal.

3. Bestee gehaltetyd saam

Jy het seker al gehoor dat vir kinders tyd gelyk aan liefde is. Kom ons wees nou maar eerlik, soms is jy net nie lus om iets saam met hulle te doen nie. Jy sal veel eerder jou nuwe boek lees as om Monopoly te speel, maar kinders soek aandag en dis vir hulle lekker om tyd saam met hul ouers deur te bring.

4. Wees regverdig

Dissipline is belangrik en kinders moet weet wat en waar hul grense is. Dink mooi oor jul reëls: Is dit ouderdomsgepas? Is dit regverdig? Respekteer hulle en verduidelik waarom reëls nodig is en hoe dit jul gesin se waardes weerspieël.

5. Wees ferm

Dit help nie om soms skiet te gee en ander keer weer te streng te wees nie. Kinders leer uit konsekwentheid.

LEES OOK: Hoe leer ’n mens ’n kind leer?

6. Stel ’n voorbeeld

Hoe wil jy hê moet jou kinders optree? Hoe wil jy hê moet hulle ander mense behandel? Wys hulle deur jou voorbeeld. Ons kan nie een ding van ons kinders verwag, maar ons doen presies die teenoorgestelde nie.

7. Wees ’n positiewe ouer

Pasop om heeltyd vir kinders te vertel wat hulle nie moet doen nie, vertel hulle eerder hoe leef ‘n mens ‘n lewe van integriteit.

8. Wees oop vir nuwe dinge

As jy oor iets twyfel, vra raad, lees op en probeer meer leer oor kwessies waarmee jy self worstel. Niemand van ons is perfekte ouers nie.

9. Wees geduldig

Hierdie is ‘n moeilike een, want ‘n mens kan gou ontplof al wil jy nie. Moenie van jou kinders verwag om oornag te verander of om perfekte kinders te wees nie. Plaas jouself in hul skoene en probeer jouself eers kalmeer voor jy oor ‘n kwessie gesels.

BRON: www.momjunction.com

Send this to a friend