Terapeute se topwenke

Dra jy die wêreld op jou skouers? Daar is klein dingetjies wat ’n groot verskil aan jou gemoed kan maak

Die webwerf www.self.com benadruk die belangrikheid van geestesgesondheid vs fisieke gesondheid. Albei is ewe belangrik.

As mens geestesgesondheidsprobleme ondervind, is dit noodsaaklik om met ‘n opgeleide terapeut daaroor te praat en die nodige hulp te kry.

As jou probleme nie so ernstig van aard is nie, is daar wel wenke wat jou kan help. Self.com het ‘n paar wenke van terapeute opgespoor:

  1. Skryf jou gevoelens neer. Dis terapeuties en dit help jou om van frustrasies ontslae te raak. Jy hoef nie ‘n boek oor jou gevoelens te skryf nie, skryf net vir vyf minute jou ervarings neer.
  2. As jy oorweldig voel, probeer om jou situasie te ontleed en iets positiefs daaraan te koppel. Fokus daarop.
  3. Kry lug en oefen. ‘n Stappie per dag sal jou gemoed baie goed doen.
  4. Negatiewe gedagtes is deel van die lewe. Moenie dit net ignoreer nie, vervang dit met positiewes. As jy byvoorbeeld heeldag net in die bed wil lê, en skuldig daaroor voel, dink net dat jy rus kort en dat jy die volgende dag die lewe weer sal aanpak.
  5. Maak ‘n lys van die mense wat vir jou kosbaar is en met wie jy oor jou gevoelens kan praat. As jy af voel, bel een van hulle.
  6. Skryf dit neer waaroor jy dankbaar is. Soms voel mens of jou hele lewe net een gemors is, maar daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. Skryf minstens twee dinge neer waarvoor jy dankbaar is as jy weer af voel.
  7. Vind iets wat jou opkikker. Dink na oor dit wat jou beter laat voel en jou bui gewoonlik lig. Is dit ‘n YouTube-video van diere, ‘n lekker, lang borrelbad, ‘n kuier saam met vriende of ‘n uitstappie saam met jou gesin? Vind joune en doen dit wanneer jy dit die nodigste het.
  8. Praat met jouself. Ons almal het daardie binnestemmetjie wat vermaan. Soms is daai stem gemeen, maar jy kan terugpraat. ‘n Stem wat jou rustig maak en kalmeer, kan ‘n groot verskil maak. Probeer om jou eie beste vriend te wees. Praat dus met jouself soos wat jy met jou beste vriend sou praat.
  9. As jy oor ‘n sekere kwessie stres, vra jouself af wat as die ergste gebeur? Wat dan? Wat sal jy maak? Dit mag dalk ‘n vreesaanjaende gedagte wees, maar jy kan dalk só ‘n redelike oplossing vind.
  10. Kry ‘n aandritueel. Gehalteslaap is ‘n kernbestanddeel van geestesgesondheid. As jy sukkel om in die aand rustig te word, kyk na jou roetine. Is jou kamer slaapvriendelik? Wat doen jy net voor jy gaan slaap? Probeer dalk om te lees, in te kleur of te skryf. Doen iets wat jou kalmeer.

Lees die volledige artikel hier

Send this to a friend