Klassieke klanke: Elbphilharmonie in Hamburg

Hamburg se Kaispeicher, ’n baken in die hawe van dié Duitse stad, was sedert die 19de eeu een van die grootste pakstore reg op die Elberivier.

Deur JOHAN MYBURG

Toe dit in die Tweede Wêreldoorlog vernietig is, is dit in die 1960’s as ‘n baksteenstoor vir kakao, tabak en tee herbou.

Dit is dié gebou wat, nadat dit in die 1990’s in onbruik geraak het, onlangs die basis vir drie konsertsale van die Elbphilharmonie, ‘n kristalagtige struktuur en boonop die hoogste gebou (torings uitgesluit) in Hamburg geword het. Die hoofouditorium bied sitplek vir 2 150 mense.

In 2007 is die hoeksteen gelê en die gedagte was dat die bouwerk teen 2010 afgehandel sou wees. Dan sou die Switserse argiteksfirma Herzog & De Meuron se jongste meesterstuk teen ‘n beraamde koste van sowat R3,4 miljard voltooi wees. Die volgende jaar is die begroting aangepas en daar is aangekondig dat die koste na R6,4 miljard opgeskuif het. In 2012 is nog ‘n aanpassing gemaak en toe die konsertsaal in Januarie vanjaar in gebruik geneem is, het die rekening op sowat R11,2 miljard te staan gekom.

LEES OOK: Kuns: The Evidence of Things not Seen

Onlangs is die Elphi, soos die konsertsaal kortweg genoem word, luisterryk met ‘n uitvoering deur die Norddeutsche Radio-orkes (NDR) onder leiding van Thomas Hengelbrock ingewy. Dié orkes, wat intussen die NDR Elbphilharmonie geword het, het sy program met Beethoven se “Ode aan die vreugde” uit sy Simfonie no. 9 afgesluit, gepas vir die opening van dié konsertsaal met akoestiek wat as “magies” beskryf word.

Herzog & De Meuron se ontwerp het reeds ‘n dubbellaag-klankwering ingesluit om geluide van buite (soos mishorings) uit te skakel. In samewerking met Yasuhisa Toyota, een van die wêreld se mees gesogte kenners van akoestiek, is die hoofouditorium se plafon, mure en balustrades daarna met 10 000 ivoorkleurige akoestiese panele uitgevoer. Algoritmes is ingespan om dié panele individueel te ontwerp na gelang van die plek waar dit aangebring is.

Die resensent van Die Welt het die klankgehalte van die konsertsaal as “skerp, vars, uiters lig en deursigtig” beskryf en as dié soort akoestiek “wat selfs die geringste foute wat selfs die beste musici ter wêreld maak” hoorbaar maak. “Tot in die fynste besonderhede is die klank perfek aangebied. Nietemin versmelt die klankkleure nooit.”

Afgesien van die konserte wat aangebied word, is die Elbphilharmonie besig om toeriste te lok. Meer as een miljoen mense het sedert die opening al die roltraprit (wat net minder as drie minute duur) van onder tot op die vlak van die openbare gedeelte met ‘n terras geneem. Van daar kry ‘n mens ʼn wonderlike uitsig oor die hawe en die stad.

Soos dit meer en meer die neiging is, onder meer ook met die Philharmonie de Paris, wat twee jaar gelede in die Franse hoofstad geopen is, streef Europese konsertsale daarna om mense uit armer omgewings te lok, spesifiek deur kinders aan te moedig om instrumente uit ander kulture te leer speel.

In ‘n poging om nuwe gehore te kweek, het die Elbphilharmonie in Maart “Salaam Syria”, ‘n kort fees met musiek van dié oorloggeteisterde land, aangebied.

As een van Europa se rykste stede is Hamburg nooit as ‘n kulturele bestemming gesien nie. Tot nou. Met die Elbphilharmonie is Hamburg op die oomblik die blinkste voorloper in die konsertsaalwedloop.

Besoek ook die webwerf www.elbphilharmonie.de

Send this to a friend