Ken jou storie: Modewoorde

Willie_Burgercrop

Willie Burger kyk na hoe modewoorde emosies en ervarings beskryf, maar nie die paal haal nie

Gedurende die feestyd kom baie families byeen. Dan val dit op dat die verskillende generasies dikwels die feesdae op uiteenlopende maniere ervaar. Elsa Joubert skryf op 95-jarige ouderdom in haar onlangse boek, Spertyd, hieroor: “Ná elke samekoms van die drie geslagte voel dit vir my of woorde hul betekenis of funksie aan die verloor is.” Dit is egter nie sommer ’n bejaarde mens se gekla oor die jong generasie se gebrek aan goeie maniere of respek nie.

Joubert verduidelik presies wat sy bedoel wanneer sy sê dat woorde “hul betekenis of funksie” verloor: “Omdat die jong kinders nie meer kan of wil spesifiseer as hulle praat of skryf nie; alles word gedek met een woord: en dit volg ’n mode wat wie weet waar ontstaan het (in die donker elektroniese wêreld – vir my onbekend en bedreigend – waar die kinders en hul duime so tuis is). Eers ’nice’, toe ‘cool’, toe ‘awesome’, toe ‘stunning’, toe ‘amazing’, en nou weer iets nuuts. Nou’s dit ‘huge’. Alles is ‘huge’. Kan hulle nog skakerings van dinge of gebeurtenisse aanvoel?

Ken hulle nog die woorde daarvoor?” Voordat jonger lesers nou dink, ag ja, dit is ’n oumagrootjies van 95 wat sommer net oor Engelse woorde kla en voordat jy dalk dink, ja siestog, die oumense verstaan nie die elektroniese wêreld nie en omdat hulle bedreig voel daardeur, kla hulle nou sommer en dink alles wat vir hulle onbekend is, is sleg, lees weer wat hier staan: Dit gaan nie vir haar oor die Engelse woorde as sodanig nie. Dit gaan ook nie oor ’n bedreiging van die ou wêreld of van haar wêreld nie, maar haar kommer ontstaan omdat “alles” met een woord gedek word. Met ander woorde, sy kla daaroor dat dieselfde modewoord deurgaans ingespan word om ’n uiteenlopende verskeidenheid emosies en ervarings te beskryf.

Wanneer gebeurtenisse en emosies, flieks en klere, boeke en nuusgebeurtenisse, mense en sportgeleenthede, partytjies en musiek, tegnologie en ontdekkings, alles met een woord beskryf word, kan dit nie meer akkuraat wees nie. ’n Mens se emosies kan tog nie presies dieselfde oor al hierdie dinge wees nie. Waarom dan net een woord daarvoor gebruik? Joubert skryf verder: “Hulle moet pasop. Soos die baasspelerige Duitse fisio sê toe sy my ná ’n heupoperasie, in die gang weer wil leer loop: ‘Lift your feet; belief me, wot you don’t use, you lose.’ Julle verloor nog al jul woorde. Erger nog, julle verloor die nuanserings van belewenisse. Julle kan mos maklik van die konsert sê: Dit was oorverdowend, mind-boggling (gebruik maar Engelse woorde vir nou), onthutsend, meevoerend, wonderlik, vervelig.

LEES OOK: Ken jou storie Wat het die outeur bedoel?

Gebruik enigiets, maar benoem dit net. Al daardie SMS’e wat julle almal so gedurig aan ’t stuur is, gee dit menings weer? Of is dit net die ou voosgebruikte, verminkte woorde? Oor en oor.” Dit is so maklik om agter Barney Stinson van die TV-reeks How I met Your Mother aan te praat en alles as “legendary” te beskryf (https://www.youtube.com/ watch?v=C19US6rqqAo). Dit klink prettig en asof dit ryk is aan betekenis, maar as ’n mens mooi daaroor nadink, is elke aand se kuier, die smaak van ’n nuwe drankie, die optrede van ’n musiekgroep, die nuwe kar, die vakansiebestemming, die nuwe klere, nie alles “legendaries” nie.

As jy elke belewenis met dieselfde nuutste modewoord beskryf, kan dit nie ’n akkurate weergawe bied van presies hoe uniek en spesiaal daardie gebeurtenis of plek eintlik is nie. Daarom wend mense hulle later tot intensiewe vorms van dieselfde woord: as “amazing” nie meer verbluffend of verbysterend of oorweldigend of verstommend, of verbasend genoeg is nie (en watter een word presies bedoel?), word bloot “amazingste” ingespan, en later, “die mees amazingste”. Omdat een woord op hierdie manier heeltemal oorbruik word, verloor die woord spoedig impak en daarom is daar kort-kort ’n nuwe modewoord.

Joubert se kommer is dus nie bloot ’n ou tannie se vrees dat “ons mooi taal” verfomfaai word nie, of dat die woordeskat uiteindelik sal verskraal omdat mense die woorde vergeet het nie. Veel erger as die verlies van woorde, is die verlies aan nuansering van belewenisse wat daarmee gepaardgaan. Die woorde wat ons inspan om ons ervarings mee te beskryf, die woorde wat ons kies wanneer ons met ander praat oor wat ons beleef en hoe ons daaroor voel, bepaal tot ’n baie groot mate hoedat ons onthou en verstaan, hoedat ons van onsself en ons wêreld sin maak.

Taal is nooit onskuldig nie. Die woorde wat ons kies, die strukture van die stories wat ons vertel, bepaal uiteindelik ook hoedat ons dink. Te maklik gebruik ons almal herhaaldelik dieselfde (twietbare) clichés, die taal van die adverteerders, van die populêre media, die gewilde komediant of politikus oor en oor en laat vorm ons eie ervarings tot hierdie algemene ervarings, sodat ons nie meer regtig woorde kan vind om ons eie ervaring uit te druk nie.

Send this to a friend