Ma van die jaar: Die sondes van die moeders

ma_van_die_jaar

Ai, die sondes van die moeders en die goed waaroor ma’s skuldig voel. My lysie word net langer en langer soos wat die skoolmaande verbyvlieg.

Zerelda Esterhuizen

Ek het onlangs weer gedink aan die verskil tussen dit wat ons van ons kinders verwag en dit wie hulle regtig is en waartoe hulle regtig in staat is.

Bloglesers sal dalk onthou van die ramspoedige redenaars verlede jaar waar ek al weer tipies Ma van die Jaar gal afgegaan het. Gelukkig leer ek uit my foute en ek het hierdie keer dit effe anders benader en dit rustiger gevat. Net effens, moet ek bieg.

Weer was die redenaars soos gewoonlik oor Afrikaanse idiome – en ons het hierdie jaar een gekies oor ‘n padda se pouvere. Ja, elke jaar is daar ‘n idioom of twee waarvan niemand al ooit gehoor het nie, maar dalk is dit die idee: om kinders én hul ouers op te voed.

So skryf Ma ‘n toespraak (ek ken ook darem ‘n graad 2 se beperkinge en ek is seker Juffrou weet dat geen kind al sy eie kan skryf nie) om die onmoontlike te probeer vermag. Dit lig in, dis vermaaklik, dis humoristies en ek is weer regtig in my noppies oor my eie toespraakskryfvaardighede. My sewejarige meisiekind verbaas my ook en sy trek weg met ‘n ywer en leer dit oggend en aand.

So gaan die dae verby en word dit die aand van die redenaars.

Toe dit my oudste se beurt is, sê sy haar toespraak grootoog en met ‘n bewende stemmetjie op die verhoog op. Dis weer so sag dat die agterbankers niks kon hoor nie. Sy sê dit perfek op, maar maak dit nie onder die groepie wat deurgaan nie.

Dit skeel my veel dat sy nie deurgaan nie, ek is maar te bly ons mis nog ‘n paar dae se swoeg en sweet en nog ‘n aand by die skool. Wat my wel pla, is dat mense haar skaars kon hoor terwyl sy so ‘n vrek oulike toespraak gehad het en dit so goed geken het. Daar was van die ander toesprake waar die idiome heeltemal verkeerd geïnterpreteer is … en hare het die spyker op die kop geslaan. Ai, hoekom?

Ek gaan nie vir julle jok nie, ek was vrek teleurgesteld. En hoekom? Hoekom doen ons as ouers dit om goed van kinders te verwag wat hulle nie eintlik wil doen nie of nie in belangstel nie? Hoekom probeer ons ons kinders vorm in iets wat hulle nie is nie? En gaan ek ooit leer om my kinders te ondersteun in dit wat hulle regtig wil doen? Moet ons hulle nie in spesifieke rigtings druk nie? My seuntjie stel op die oomblik net belang in wat Spiderman en sy trawante doen en sy grootste prestasie op die oomblik is om van goed af te spring en daaroor te juig.

As ek my oudste los, sal sy sekerlik aan niks wil deelneem nie en in haar hoekie verdwyn. Wanneer druk jy en wanneer los jy? Ma van die Jaar het nog nie die antwoorde nie, maar ek werk daaraan. Jaar ná jaar, redenaars ná redenaars.

Send this to a friend