Decorex wys hoe om jou huis in ’n nes te omskep

Die lang eetkamertafel van Pierre Cronje is uit een soliede boomstomp gemaak

Decorex Kaapstad is onlangs in die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum gehou

Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts

Vanjaar se tema was “Designing for Africa – feels like home” en ontwerpers en binnehuisversierders kon hul verbeelding vrye teuels gee om by hierdie tema aan te pas. Bykans 37 770 besoekers het die skou bygewoon.

Die skou is oor vyf dae aangebied en het aan besoekers die geleentheid gebied om nie net die mooiste dekorartikels, beddegoed en meubels te aanskou nie, maar ook die nuutste tegnologie vir sonverhitting; gryswaterstelsels; hoe om reënwater te versamel en te suiwer en om herwinning meer effektief te maak. Tussendeur is daar gekuier, lekker geeët en wyn, gin en ander drankies geproe.

Plante as dekor-neiging het groot aandag getrek en bykans elke stalletjie het groenigheid op een of ander manier deel van die versiering gemaak. Die gesogte “Beste algehele stalletjie” is aan Caesarstone toegeken. Die beoordelaars vanjaar was Michael Chandler van Chandler House; Petra Vonk van Petra Vonk Design; Bianca Resnekov, Cape Talk styl en ontwerp-korrespondent Dave Nemeth van Trend Forward. Decorex SA word sedert 1994 aangebied en hou jaarliks drie uitstallings: Kaapstad, Johannesburg en Durban en bied meer as 1 200 uitstallers, wat meer as 115 000 besoekers lok. Decorex SA word deur Reed Exhibitions aangebied. Decorex Joburg word van 7-11 Augustus by die Gallagher Konfensiesentrum gehou.

Send this to a friend