Kies ’n boek: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

dirkie-verwey-web

Willie Burger kyk na Charl-Pierre Naudé se debuutroman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Dit is moeilik om aan Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey as ’n debuutroman te dink. Charl-Pierre Naudé is immers ’n gevestigde digter met vier bekroonde Afrikaanse digbundels en ’n Engelse digbundel agter sy naam, terwyl sy gedigte ook in Nederlands en Duits vertaal is. Dat hy ’n ou kalant is wanneer dit by die inspan van woorde kom, blyk duidelik uit hierdie lywige roman van 479 bladsye.

’n Mens word in die eerste plek deur die magiese verbeeldingrykheid van die roman oorrompel. Bonatuurlike verskynsels word byna asof dit “normaal” is, aangebied. Deurgaans bly die leser hoop dat daar uiteindelik ’n soort rasionele oplossing sal wees en die nuuskierigheid oor wat “regtig” gebeur het, skep spanning en laat mens omblaai. Die vertelling is egter ook meesleurend omdat daar telkens ’n bietjie inligting gegee word oor wat later gaan gebeur, en dan dwing mens se nuuskierigheid jou om vinnig verder te lees.

Die roman word deur ’n “voorwoord” ingelui en deur ’n “nawoord” afgesluit – altwee deur CP Naudé, maar die byna 470 bladsye tussenin word as ’n manuskrip deur ’n plattelandse joernalis, Hermanus Verdomp, aangebied. In hierdie manuskrip skryf Verdomp oor verskeie merkwaardige gebeurtenisse wat gedurende die 1970’s en 1880’s op ’n dorpie op die Lyksovlakte (Upington- Kimberley-gebied) plaasgevind het. Benewens “bonatuurlike” en onverklaarbare verskynsels (soos ’n motelgebou wat oornag verskyn en weke later weer verdwyn; mense wat deurskynend is en wat oënskynlik terselfdertyd op meer as een plek is), skryf Verdomp ook oor traumatiese gebeurtenisse in daardie spanningsvolle tyd: magsmisbruik deur die polisie, verkragting en moord.

In sekere opsigte sluit Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey ook by die misdaadromantradisie aan en spanning oor wie die misdade gepleeg het, en hoekom, hou die leser geboei. Verdomp skryf sy herinnerings neer in ’n poging om self sin te maak van die traumatiese ervarings. Hoewel hy tot ’n mate poog om ’n joernalistieke verslag op te stel, skep hy ’n fiksiewêreld, met fiktiewe plekname, terwyl daar ook talle verwysings na “werklike plekke” is. Sommige van die karakters, soos hyself, het ook ongeloofwaardige name, terwyl ander historiese karakters, soos John Vorster, ook in ’n mengsel van fiksiewêreld en “werklikheid” voorkom.

Hierdie oorvleueling van die historiese en die fiksiewêreld word verder gekompliseer deur die voetnote wat Naudé op plekke in Verdomp se manuskrip invoeg en deur die foto’s wat Verdomp in sy manuskrip insluit. Die illusie dat ’n “ware” verhaal vertel word, word deur die foto’s en voetnote bevestig, maar die gebeurtenisse is dikwels vreemd, magies en onverklaarbaar. Verdomp is nie ’n betroubare verteller nie en romans met onbetroubare vertellers is meestal moeilik om te verstaan. “Gewone”, realistiese vertellings met betroubare vertellers wend allerlei tegnieke aan om die leser die ervaring van ’n geloofwaardige wêreld te bied. In sulke vertellings word die taal en die manier van vertel as ’t ware deursigtig.

LEES OOK: Kies ‘n boek: Die Dao van Daan van der Walt

Die leser vergeet dat hy/sy eintlik ’n storie lees en gaan heeltemal in die storiewêreld op. Dit is wat gebeur wanneer mens byvoorbeeld oor Bennie Griessel se wêreld van misdadigers in ’n Deon Meyer-roman lees. In ’n roman soos hierdie een, waarin die verteller onbetroubaar is (’n mens weet nie of hy só getraumatiseer is dat hy te bang is om die waarheid te vertel en daarom die gebeurtenisse as ’n soort sprokie aanbied en of hy dalk effens geestelik versteurd is en of hy doelbewus lesers wil mislei en of hy dalk net te naïef en onkundig is om die “waarheid” te kan oordra nie), word die leser se aandag op die vertelling self gevestig.

’n Fokus op die vertelling dwing mens om oor die aard van fiksie na te dink, maar ook oor die aard van hoe ons elke dag die werklikheid beleef, hoedat ons, deur die stories wat ons vertel, sin aan ons bestaan gee. Hierdie beskrywing laat Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey na ’n “moeilike” boek klink. Dit is inderdaad nie ’n boek om sommer gou in ’n agtermiddag deur te lees nie. Maar aan die ander kant is dit ook nie so swaarwigtig en ingewikkeld dat dit harde werk is om die roman te lees nie. Daarvoor sorg Naudé se humorsin.

Sommige moeilike romans vermaak nie. Sommige vermaaklike romans bied nie genoeg om oor na te dink nie. Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey doen altwee. Volgens die “nawoord” is daar in die fisika ’n teorie dat meer wêrelde as die een waaraan ons as ons werklikheid dink, terselfdertyd bestaan, dat hulle selfs kan oorvleuel en bots. In die roman gebeur presies dit – sommige karakters ervaar dat hulle verskeie lewens in parallelle wêrelde lei. Die idee dat ons ’n enkele, verstaanbare beeld van die werklikheid kan aanbied, word uitgedaag. Ons ervaar die wêreld as verstaanbaar bloot omdat ons vergeet dat ons die wêreld deur verteltegnieke so verstaanbaar voorstel. Deur verskeie moontlike wêrelde gelyktydig aan te bied, word ’n veel komplekser beeld van ons werklikheid geskep. Die gevolge is soms skreeusnaaks, dikwels onthutsend, deurgaans boeiend. (Tafelberg)

Send this to a friend