kykNET Films en Vry Films in samewerking met Lion’s Head Productions en Who Projects, het Maandagaand die dokumentêre film Nobody’s Died Laughing, wat handel oor die lewe en werk van die kunstenaar en aktivis Pieter-Dirk Uys, aan gaste in die V&A Waterfront in Kaapstad bekendgestel.
Maryke Roberts
In Nobody’s Died Laughing volg ‘n filmspan een van Suid-Afrika se besigste kunstenaars op ‘n reis deur Kaapstad, Johannesburg, Grahamstad, Stellenbosch, Londen, Berlyn en ook sy huis in Darling. Die film fokus op die man agter die wêreldbekende karakters, sy opheffingswerk en die internasionale invloed wat sy werk het.
Die film bevat ook onderhoude met Desmond Tutu, Charlize Theron, Anna-Mart van der Merwe, FW De Klerk, Janet Suzman, Thoko Ntshinga, David Kramer, Zolani Mahola, Vincent Ebrahim, Professor David Gere, Eric Abraham, Sophia Loren, Jonathan Shapiro en nog vele meer asook beeldmateriaal van Tessa Uys en Nelson Mandela.
“Nobody’s Died Laughing ondersoek een man se lewenslange toewyding tot sy land en die gebruik van satire om ‘n daadwerlike verskil te maak,” verduidelik filmmaker Willem Oelofsen.
“Ek het in 2014 begin met navorsing oor Pieter-Dirk, waarna ek tyd saam met hom in sy persoonlike argiewe in Darling deurgebring het. Dit was vir my fassinerend dat hy stééds teen dieselfde tempo en met dieselfde oortuiging werk as waarmee hy 50 jaar gelede begin het. In 2015 het ons kameraspan hom begin volg: van optredes in Berlyn tot die Kaapse Vlakte, en om te kyk hoe hy ‘n vertrek vol tieners leer oor veilige seks. Ek glo gehore sal net so geïnteresseerd wees om meer te leer oor die man wat weier om gesensor te word, en die kunste as sy wapen teen diskriminasie en onverdraagsaamheid gebruik.”
Dis Vrydag 29 Julie, in filmteaters landswyd.
Nelius Ferreira en Lizz Meiring, wat ook in die dokumentêre film te sien is
Musikant David Kramer en sy vrou, Renaye. David gesels ook in die dokumentêr
Bianca Couch en filmmaker Willem Oelofsen
Marianne Tham en Jonathan Shapiro (die spotprenttekenaar Zapiro). Onderhoude met hom is ook deel van die dokumentêr
SOURCES
Clifford Roberts