GELDSLIM: Wys met aftrede!

finansies

Ons finansiesghoeroe Nico Swart gee elke maand vir ons lesers raad

Vir die soveelste keer word Arnaud en Erina uitgenooi om die werk se aftreeseminaar by te woon. Arnaud behoort reeds 20 jaar aan ’n pensioenfonds maar het nog nooit ernstig oor hul aftrede besin nie. Erina dra nie tot enige pensioenfonds by nie omdat sy dink dat hulle met Arnaud se aftreegeld sal kan klaarkom. Ongelukkig wag daar ’n finansiële skok op hulle as hulle aftree vanweë die inkomstegaping. Sonder bykomende voorsiening vir aftrede sal hulle binne tien jaar nie meer ’n aanvaarbare lewenstandaard kan handhaaf nie.

Wat is die inkomstegaping?
Die inkomstegaping verwys na die verskil in salaris wat ’n individu vóór aftrede en ná aftrede ontvang (vóór aftrede minus ná aftrede). Meestal is die daling in salaris vir baie mense ’n finansiële krisis. Stygende lewenskoste en al die verhoogde belastings, om nie eers van mediese koste te praat nie, vreet jou aftreegeld sommer baie vinnig op. ’n Baie groot aftreeskok is die voorland van 94% van Suid-Afrikaners omdat hulle, ongeag pensioenbydraes, nie genoeg geld sal hê om van te leef nie. Vir diegene wat nog werk of jonk genoeg is, is daar egter hoop as hulle vroegtydig deeglike aftredebeplanning sal doen en aftreebeleggings met die hulp van ’n makelaar maak. Sodra jy die dag aftree, word die pensioen wat jy vir die res van jou lewe gaan ontvang volgens jou aftreesalaris en aantal jare lidmaatskap van ’n pensioenfonds bereken. Tot en met jou dood het jy gevolglik nie meer ’n jaarlikse salarisaanpassing vir inflasie nie. Dit was slegs ’n aanpassing en nooit ’n verhoging nie, sodat jy ná inflasie se styging oor die jaar, met jou geld dieselfde sal kan betaal en koop. Ná aftrede verloor jy dus elke jaar se salarisaanpassing, die werkgewer se jaarlikse bydrae, asook ’n salarisverhoging as jy bevorder sou word. Die gaping ontstaan ná aftrede as jy net aan jou werkgewer se aftreefonds (pensioen- of voorsorgfonds) behoort het en nie voorsiening vir die gaping gemaak het deur byvoorbeeld maandeliks in ’n uittree-annuïteit te belê nie.

Hoeveel kort jy?
Die eerste mikpunt is om dieselfde salaris ná aftrede te kry as wat jy (julle) vóór aftrede ontvang het. Die tweede mikpunt moet wees om vir nog baie jare dieselfde salaris/inkomste te ontvang (as gevolg van ekstra beleggings) asof jy aanhou werk het. Gestel ’n huishouding (man en vrou) leef vandag met R300 000 per jaar (wat maar baie basies is). Sou die individu nog 20 jaar ná aftrede leef, benodig hulle noodwendig 20 x R300 000 = R6 000 000 in die vorm van aftreevoorsiening om ná aftrede dieselfde lewenstandaard te kan handhaaf. Natuurlik sal hulle ’n opbrengs op hul belegging verkry (kapitaalgroei), maar sal hulle ook belasting op hul maandelikse inkomste moet betaal. Net so sal inflasie jaar ná jaar die koopkrag van hul aftreevoorsiening verminder. Afhangend van jul lewensverwagting, mediese toestand en inflasie/belastings, sal hierdie bedrag voldoende wees om julle deur te sien. Onthou, dit is die jare wat die meeste mense nie meer wil of kan werk nie. Boonop wil ’n mens dan met finansiële gemoedsrus jou lewe geniet.

Pasop vir inflasie
Inflasie is die monster wat jou geld gaan opvreet, tensy jy meer as voldoende voorsiening vir aftrede maak. Ten einde die tempo van vermindering deur inflasie te bereken, kan ons die faktor 72 gebruik. Gestel die inflasiekoers is 6% per jaar, dan sal die koopkrag van jou aftreegeld elke 12 jaar gehalveer word (jy deel die 72 deur die inflasiekoers van 6%). Sou inflasie 12% beloop op die dinge wat jy in jou huishouding gebruik, sal jou aftreegeld se koopkrag elke ses jaar gehalveer word (72 gedeel deur 12 = 6). Ja, ’n mens kan nie maklik genoeg voorsiening vir aftrede maak nie. Meer as voldoende voorsiening vir aftrede is dus ’n voorvereiste. ’n Langer leeftyd hou verder bykomende koste (aftreevoorsiening en mediese koste) in.

Waak HIERTEEN
n Jou inkomste daal. n Lewenskoste styg. n Inflasie eet jou beleggingsopbrengste. n Nuwe wette om geld in te vorder en verhoogde belastings. n Jou lewe en lewenstandaard stort in duie. Dis hoeveel jy moet hê Ten einde te bepaal of jy met voldoende geld sal kan aftree, moet jy eerstens jou inkomstegaping bepaal. Gestel jy werk 20 jaar en is 20 jaar lid van jou werkgewer se pensioenfonds, dan sal jy met 40% van jou huidige salaris aftree (20 jaar x 2). Jou inkomstegaping sal dus 60% wees (100% minus 40%). Gestel jy het nog 19 jaar om af te tree en wil met 100% van jou aftrede voor salaris aftree. Kyk nou by 19 jaar tot aftrede en soek die syfer die naaste aan 60% (jóú inkomstegaping). Die syfer bo-aan die kolom van 60% is 16%. Jy sal ’n verdere 16% van jou huidige bruto inkomste (jou bruto salaris) moet belê om die inkomstegaping te vul. Ná 45 jaar diens en lidmaatskap van ’n pensioenfonds sal ’n individu met ongeveer 90% van sy huidige salaris kan aftree met slegs ’n 10%-inkomstegaping. Besoek www.moneyskills.co.za Vk

 

Send this to a friend