Help jou kind deur ’n routyd | Vrouekeur

Help jou kind deur ’n routyd

help_jou_kind_deur_routyd

Wanneer jou volwasse kind ’n traumatiese ervaring soos ’n egskeiding of selfs dood van ’n huweliksmaat beleef, sal jy as ouer jou kind dalk bystaan deur die rouproses. Onthou dat die rouproses ná ’n egskeiding soortgelyk is as die rou ná die dood van ’n geliefde.

Ansja Ferreira

Ilze Neethling is ’n geregistreerde sielkundige terapeut en psigometris en skrywer van die boek Is dood vir altyd, Mamma?

Sy gee meer inligting oor die rouproses waardeur volwassenes en kinders kan gaan:

Elke mens rou verskillend en dis nooit ’n aangename proses nie. Soos lewenservarings verskil, so verskil die belewenis van die dood en verlies ook. Reeds bestaande patologie, kultuur, persoonlikheidstrekke en persoonlike filosofie oor die lewe beïnvloed die persoon se reaksies.

Byvoorbeeld, ’n persoon met minimale streshanteringsmeganismes, swak probleemoplossingsvaardighede, ’n eksterne lokus van kontrole, onvermoë om te huil of woede uit te druk, of met min (indien enige) sosiale ondersteuning, mag byvoorbeeld meer geneig wees om abnormale rou te ontwikkel.

Hoe lank rou ‘n mens?

Die rouproses het egter nie werklik reëls nie en volg ook nie ’n vaste tydsverloop nie. Soms duur die eerste drie fases slegs ’n oomblik, waar dit by ander persone weke tot maande mag duur. Sommige mense voltooi die rouproses binne ’n paar weke, terwyl ander weer vir jare rousimptome ervaar.

Normale rou duur gewoonlik verskeie maande tot en met een jaar of meer. As die oorlewende nie teen die eerste herdenking van die dood aanpasbaar kan funksioneer nie, is dit onwaarskynlik dat herstel sonder terapeutiese ingryping sal geskied.

Geen roustadium, of dit nou volgens die vyf- of sewefasemodel geïnterpreteer word, kom in ’n vaste volgorde voor nie en die fases oorvleuel ook dikwels. Hoewel die fases betreklik eenvoudig en lineêr voorgestel word, word rou deur die sirkulêre aard daarvan beïnvloed.

Byvoorbeeld, net sodra die persoon vorentoe na ’n positiewe punt in die rouproses beweeg, beleef hy/sy soms herinneringe aan die verlies wat weer gevoelens oorspoel en wanhopigheid of hulpeloosheid opwek.

Grootmense verstaan hierdie proses in ’n mate, maar kinders het vanselfsprekend nog geen insig daarin nie. Ouers behoort an die sirkulêre aard van rou kennis te dra om sodoende hul kinders gedurende die rouproses te ondersteun, maar ook van hul kinders se spesifieke ontwikkelingstadium. Dit is belangrik om in ag te neem dat die ontwikkeling van ’n kind wat rou mag agter raak. Regressie vind dikwels plaas en ontwikkelingstake neem langer om afgehandel te word. Om jou kind te kan help, is dit dus belangrik dat jy moet kennis neem van die spesifieke ontwikkelingstadia waarin hy of sy hom of haar bevind, watter ontwikkelingstake uitgevoer behoort te word, en hoe hy of sy op daardie stadium rou uitdruk.

’n Kind se rouproses is gekompliseerd, hoofsaaklik omdat dit lineêr, sirkulêr en veral ontwikkelend (met verwysing na sy of haar groeiproses) van aard is.

‘n Kind se rouproses

Disorganisasie Aanvanklike simptome kan wissel van regressie, woede-uitbarstings en gebrek aan konsentrasie, tot oordrewe vrese en gemoedskommelings, veral in ouer kinders. Kinders ervaar gewoonlik hierdie stadium as erg ontwrigtend.
Transisie (oorgang) Die aanvanklike stadium word deur gevoelens van hopeloosheid, hulpeloosheid en wanhopigheid opgevolg. Sommige kinders mag ook simptome van depressie toon. Meer algemene simptome behels aggressie, isolasie en weiering om skool toe te gaan.
Herorganisasie Wanneer kinders suksesvol deur die vorige twee stadiums gewerk het, vind hulle meer energie vir en motivering tot ’n positiewe oplossing vir hul rou.

Fases van die rouproses

In 1969 het die psigiater Elizabeth Kubler-Ross, op grond van haar werk met terminale kankerpasiënte, die volgende vyf stadiums van rou voorgestel:

Ontkenning “Dit kan nie met my gebeur nie!”
Woede “Hoekom gebeur dit? Wie se skuld is dit?”
Onderhandeling “As dit weggaan, sal ek …”
Depressie “Ek is te hartseer en neerslagtig om enigiets te doen.”
Aanvaarding “Ek ervaar vrede in my gemoed oor wat gebeur het of gaan gebeur.”

Elizabeth het egter nooit bedoel dat hierdie stadiums ’n rigiede raamwerk vir almal wat rou daar moet stel nie. In haar laaste boek voor haar dood in 2004, sê sy: “They were never meant to help tuck messy emotions into neat packages. They are responses to loss that many people have, but there is not a typical response to loss, as there is no typical loss. Our grieving is as individual as our lives.”

Verskillende roumodelle stel ook verskillende stadia voor. Die sewefasemodel van rou is straks meer beskrywend van die wisselende emosies wat ervaar word en veral van die “morsigheid” van die rouproses.

Die sewefasemodel van rou

Skok en ontkenning Die realiteit van die verlies word onderdruk of ontken om die gevoel van pyn te buffer en om emosionele beskerming teen oorweldiging te verskaf.
Pyn en skuldgevoelens Soos die skokgevoelens afneem, word dit met intense pyn en verlies vervang. Dit is belangrik om nou die pynlike gevoelens ten volle te ervaar.
Woede en onderhandeling Frustrasie maak nou plek vir woede. God word bevraagteken en skuld word uitgedeel. Mense probeer onderhandel (“Ek sal elke Saterdag die gras sny as Pappa terugkom.”). Wanneer woede voorkom, is dit gewoonlik aanduidend dat die persoon besig is om die dood te verwerk. Die vorige twee fases is interne prosesse, terwyl die woedefase meer na buite gerig is.
Depressie, refleksie en eensaamheid Net sodra dit uiterlik lyk asof die verlies verwerk is, tree hierdie fase in. Dit is ’n normale stadium en die simptome oorvleuel dikwels met dié van depressie. Dit is egter nie soseer ’n fase nie, maar kom en gaan tydens die hele rouproses. Wanneer die woedefase egter agter die rug is, word die depressiewe simptome ook minder. Professionele hulp word aanbeveel as dit te lank duur.
Opwaartse gang Fisieke simptome van rou begin afneem en die “depressie” begin ook lig.
Rekonstruksie Realistiese oplossings word nou ondersoek, byvoorbeeld die vorming van ’n identiteit sonder die geliefde.
Aanvaarding en hoop Die verlies word nou aanvaar en geïnkorporeer. Dit beteken nie skielike geluk nie, maar die lewenstyl word doeltreffend aangepas en die verskillende take van rou word suksesvol voltooi. Op hierdie punt tree die begrip in dat die lewe nooit weer dieselfde sal wees nie, maar word hoop en betekenis vir die toekoms ervaar.

Meer inligting

• “Is dood vir altyd, Mamma?” 2011. 2de Uitgawe. Interaktiewe werkboekie vir kinders 6 jaar en ouer. Mindmuzik Media
• Kontak Ilze by [email protected], 072 148 7048 of besoek haar webwerf by http://www.goodpsychology.net

Send this to a friend