Jou tiener: behoefte vs begeerte

jou_tiener_behoefte_begeerte

Leer jou tiener om tussen behoeftes en begeertes te onderskei

Anneke Louw

• Ons loer na tieners en materialisme in ons 31 Julie-uitgawe. Laai die tydskrif hier af

Behoeftes is iets wat vir funksionering nodig is en begeertes is luukses. Tieners moet leer om tussen behoeftes en begeertes te onderskei. Daardeur kan hulle waardevolle lewenslesse leer om gebalanseerde, selfstandige jong volwassenes te word.

Joelene Conradie, kliniese sielkundige van Brackenfell, meen adolessensie is die tyd wat van ’n eie identiteit gevorm word. Volgens haar is materiële besittings ’n uitvloeisel hiervan. Dit is ’n manier vir tieners om met die lewe te eksperimenteer. Waarvan hou ek? Wat werk vir my? Waarvan hou ek nie?

Die portuurgroep speel ’n baie belangrike rol aangesien húlle die tiener aan nuwe dinge blootstel. As ’n maat sekere klere dra, sekere musiek luister, of die jongste foon op die mark het, is dit moeilik vir ’n tiener om dit nie óók te wil hê nie.

Dr Annalize Green, opvoedkundige sielkundige van Sinoville sluit hierby aan. Tieners vergelyk hulself met ander. Dit gee hulle die gevoel dat hulle behoort. Baie is onseker en sukkel om dié gevoelens te verwoord. Hulle kompenseer vir onsekerheid met oordrewe klem op voorkoms of besittings. Tieners sal baie doen om in ander se oë belangrik te wees, aan verwagtinge te voldoen of soos ander te wees. Groepsdruk en die media verkondig dikwels die boodskap jy-is-wat-jy-besit. Dit beïnvloed kleredrag, koopgewoontes en kuierplekke.

Ouers moet verstaan hoekom tieners so lief vir materiële goed is. Vir party ouers is dit moeilik om “nee” te sê. Tieners kan belangrike lewenslesse leer deur die gaping tussen behoeftes en begeertes te verklein.

LEWENSLESSE

Hoe werk die lewe?

As ouer is dit jou plig om jou tiener op die buitewêreld voor te berei. Tieners moet die nodige vaardighede aanleer om suksesvol en gelukkig te wees.

Johan van Rooyen, kliniese sielkundige van Brackenfell, verduidelik dat ouers voorbeelde uit hul eie lewe aan kinders moet gee sodat hulle kan besef die lewe hou ook teleurstellings in. As ouers vir hul kinders alles gee wat hulle wil hê, reken hulle dat dit hul reg is. Hierdie eiegeregtigheid kan later na verhoudings oorgedra word waar tieners voel dat hulle hul sin in die verhouding moet kry. Finansies is dus net deel van die rede waarom ouers nie vir tieners alles moet koop wat hulle wil hê nie. Dit het ’n impak op die tiener se wese.

Annalize ondersteun hierdie mening dat tieners wie se ouers hulle aan onmiddellike behoeftebevrediging of om nie tussen begeertes en behoeftes te onderskei nie, ook buite die ouerhuis daarmee sal worstel. Wanneer ouers alles voorsien wat die tiener begeer, leer die tiener selde om self ’n inset te lewer om ’n doel te bereik. Dit gaan dikwels ook met ondankbaarheid en onvergenoegdheid gepaard. Tieners wat alles kry wat hulle begeer, leer nie om teleurstellings te hanteer nie.

Die waarde van harde werk

Joelene verduidelik dat huistake ’n belangrike deel van grootword is. Die tienerfase word gekenmerk deur ’n neiging om meer met die portuurgroep as met die huisgesin te identifiseer. Daarom is dit belangrik om tieners te laat verstaan dat hulle wel ’n belangrike rol in die huishouding speel. Tieners moet sekere take kry waarvoor hulle alleen verantwoordelik is. Dit sal hulle laat voel hulle is deel van die gesin en dat hulle ’n bydrae lewer. Dit leer hulle dat sekere take, soos skottelgoed was, wasgoed ophang of troeteldiere kosgee, nie vanself gebeur nie.

“Die stel van doelwitte leer jou tiener om beheer te kry,” sê Johan. Wanneer tieners ervaar dat hulle die doelwit bereik het, bou dit hul selfbeeld. Doelwitte gestel op selfone, rekenaars en iPads, is so reg in tieners se kraal.

Die stel van doelwitte

Wanneer jou tiener baie graag iets wil hê, stel Joelene die volgende voor:

  1. Leer jou tiener om prysnavorsing te doen.
  2. Help met geldmaakidees. Geen lenings nie. Dit leer hulle die belangrikheid van spaar in plaas van om op krediet te koop.
  3. Maak seker die doelwitte is realisties. Hoe lank moet hy/sy spaar? Is dit die moeite werd om soveel geld op dié artikel te spandeer? Is daar iets anders wat hy/sy eerder kan koop?
  4. Vier dit wanneer jou tiener die doelwit bereik.

Interne vergoeding

Dr Jolanda Dreyer, voorligtingsielkundige en opvoedkundespesialis van Garsfontein, verduidelik die verskil tussen eksterne en interne vergoeding. Eksterne vergoeding is wanneer ‘n mens iets doen omdat jy bang is vir die straf as jy dit nie doen nie of wanneer daar ’n beloning wag. Kinders tussen vier en tien is in die ontwikkelingsfase en sal eksterne vergoeding najaag.

Interne vergoeding is wanneer ‘n mens iets doen wat jou vreugde verskaf omdat dit moreel die regte ding is om te doen of omdat dit goeie beginsels weerspieël. Dit laat jou goed voel wanneer jy jou werk só doen. Kinders tussen 11 en 12 verstaan al hierdie beginsel.

Jolanda sê as daar geen element van interne vergoeding (goedvoel, tevredenheid en trots) is nie, is daar die gevaar van depressie ten spyte van materiële sukses aangesien ’n emosionele leemte ontstaan. Mense is emosionele wesens wat na geestelike vervulling streef. Eksterne vergoeding verskaf dit nie. Verder loop die tiener die gevaar om te glo alles is geregverdig solank hy net by sy beloning uitkom en leer dan om op mense te trap.

Joelene voeg by dat behalwe vir ’n salaris, kry ‘n mens in die werksomgewing nie altyd eksterne vergoeding nie. Interne vergoeding en werkstevredenheid is die dryfveer wat jou loopbaan suksesvol sal maak.

Stilstuipe of dikbeksindroom

“Ouers moet onthou dat hulle nie vir hul tieners se gevoelens verantwoordelik is nie,” herinner Joelene. Die feit dat jou tiener vir jou kwaad word of hartseer is oor ’n besluit wat jy geneem het, is onafwendbaar. Wat wel ’n verskil maak, is wanneer jy jou kind se wêreld met empatie betree.

Ouers moet hulle indink hoe tieners voel. Byvoorbeeld: “Julle gun my niks nie”, “Julle verstaan nie hoe belangrik dit vir my is nie”, of “Dit voel of julle goed opsetlik van my weerhou”.

Dit beteken nie dat hulle gevoelens die absolute waarheid oor die situasie weerspieël nie. Dis net dat daardie denke en gevoelens hul wêreld op daardie oomblik inkleur. As ouers dit kan verstaan en normaliseer, sal die verhouding met hul tieners sterk bly, al stem hulle nie altyd oor alles saam nie.

Johan sê dat eerlikheid baie belangrik is, ook eerlikheid oor jou eie gevoelens. Gebruik dialoog en nie net “ja” of “nee” nie. Ouers moet kan sê: “Hoewel ons die geld het, voel ek nie dis nodig om hierdie artikel nou te hê nie. Hier is my redes …”; “Ek kan sien jy is kwaad en teleurgesteld”; “Kan ons dit oor drie maande evalueer?”; “Ek het tyd nodig om daaroor te dink”.

Ouers moet besef dis deel van die grootmaakproses dat kinders soms ontevrede gaan wees. ’n Ferm, dog liefdevolle benadering is belangrik. Weerspieël die emosie: “Ek kan sien jy is baie kwaad, maar dis ook onregverdig van jou om so op te tree as jy nie jou sin kry nie. Dit gaan nie my besluit verander nie.”

Jolanda stel voor:

  • Laat jou tiener vir die artikel werk.
  • Maak ’n lys van die begeertes en plak dit êrens op.

Ouers kan in die daaropvolgende drie maande een van die artikels op die lys koop, mits die tiener voorafopgestelde voorwaardes nakom.

  • Laat jou tiener redes lys waarom die artikel broodnodig is.

Vir drie tot vyf goeie redes, is die behoefte geregverdig. Definieer goeie redes soos:

Dit moet iets wees wat lewensgehalte verbeter.

Dit moet iets wees waaruit jou tiener iets gaan leer.

Dit moet iets wees wat verhoudinge verbeter.

“Tieners is mal oor keuses,” sê Joelene. Wanneer hulle voel hulle word in ’n blik gedruk, rebelleer hulle. As jy dink ’n sekere artikel is regtig onnodig, gee vir jou tiener keuses. As jou tiener die jongste slimfoon op die mark wil hê, kan jy die volgende opsies gee: “As jy die goedkoper foon vat, sal ek daarvoor betaal. As jy die slimfoon wil hê, gaan jy die prysverskil self betaal. Dit is jou keuse.” Op daardie manier raak julle nie in ’n magstryd betrokke nie. Jou tiener kan jou ook nie verkwalik vir die keuse wat hy/sy maak nie.

Sy verduidelik verder dat indien dit moeilik is om die voorstel in ’n keuse om te sit, verduidelik jou begrip vir die behoefte en dat dit vir jou sin maak. Hoewel jy begrip daarvoor toon, beteken dit nie dat jy moet ingee of instem nie. Die besluit lê steeds by die ouer.

As jou tiener dit steeds begeer, kan jy die voor- en nadele van die aankoop noem. Ook hoe hy/sy sal voel om dit wel te kry of nie te kry nie.

Dit gebeur soms dat tieners in so ’n gesprek agterkom dat dit regtig nie nodig is nie en hy/sy daarsonder kan klaarkom.

Dis vir ouers sleg om “nee” te sê (al glo tieners dit nie), maar onthou, om ‘n kind groot te maak, is nie ’n gewildheidskompetisie nie. Dit is jou as ouer se verantwoordelikheid om jou tiener met die eienskappe van ’n goedaangepaste volwassene toe te rus.

Wat doen ander ma’s?

  • Hulle moet hul sakgeld gebruik. Ek herinner hulle daaraan om te prioritiseer sodat hulle sakgeld genoeg is om alles te koop wat nodig is – Berlyn, ma van André (15) en Shana (17).
  • As Ayden ’n duur artikel wil hê, moet hy vakansies en naweke werk om die helfte te verdien – teen ’n redelike prys. Eric het verlede jaar vir ’n fiets gevra. Ek het ingestem op voorwaarde hy kry geen verjaardagpartytjie nie. Ek het R400 vir die fiets begroot. Toe sing hy eendag vir my: “Mom do you know I will put my head on a plate for you, jump in front of a train for you? Would you do the same?” Wel, die fiets het my toe R600 gekos – Amelia, ma van Eric (10) en Ayden (16).
  • Ons werk op ’n beloning/boete-basis. Daar is verseëlde, deursigtige bottels met elkeen se naam op. Vir take wat uitgevoer word, byvoorbeeld netjiese kamers en badkamers, gooi ek geld in en boetes is notas met die oortreding daarop. Ons maak dit later oop, tel dit en ek verdubbel die depositobedrag vir die spaarrekeninge. Hulle koop luukshede daarmee –

Gerda, ma van Ancké (10) en Handré (13).

  • Ons gaan ’n ooreenkoms aan: As die kinders vir voorafbepaalde aspekte ekstra moeite doen, byvoorbeeld goeie punte of huistake en ek die resultate sien, help ek hulle om die artikel te koop – Hildegard, ma van Robbie (9) en Ettienne (15).

KONTAK
Dr Annalize Green ([email protected]/www.terapiesentrum.co.za)
Joelene Conradie (079 633 1043/021 981 4548 [email protected])
Johan van Rooyen (072 173 6432/021 981 4548/[email protected])
Dr Jolanda Dreyer ([email protected])

Send this to a friend