Wacky Wine nou volwaardige tiener

Arendsig wynlandgoed

Die gewilde Wacky Wine Weekend het sy 16de verjaardag gevier

Deur MARYKE ROBERTS
Fotos Clifford Roberts

Die gewilde Wacky Wine Weekend is pas weer in die Robertsonvallei gehou en vanjaar het dié wyn-, kos- en kuierfees, sy 16de verjaardag gevier. Meer as 30 wynkelders, restaurante en toerisme-attraksies het deel van die feestelikhede gevorm wat regoor die vallei van Ashton, Bonnievale, McGregor en Robertson gehou is.

Ons kuier het sommer al by die gastehuis, Galloway Guesthouse, begin. Daar met die Langeberge as uitsig, het ons tussen die wollerige Galloway-beeste rondgestap en van die familie se wyne, onder die Exdiem-etiket, geniet. Die res van die naweek was vol met wynproeë saam met Johan de Wet van De Wetshof, wat ’n baie spesiale proe in die vatkelder met agt wyne, waarvan die meeste Chardonnay, aangebied is. Die handjievol gaste kon onder meer vyf Chardonnays waaronder die Limestone Hill 2019; die Bon Vallon 2019; Finesse/Lesca 2018 en 2013; The Site 2016; Bateleur 2016 en ook die Nature in Concert Pinot Noir 2017 proe, voor Johan ’n spesiale vatproe gedoen het.

Hy het gesê De Wetshof maak ’n studie van die variëteit en bygevoeg: “Ons doen Chardonnay – enigiets anders is bloot blommeversierings.” Hul wyne is ideaal om te laat verouder en hy sê hul Chardonnays is na 30 jaar nog net so lekker drinkbaar. Daar was die geleentheid om ons eie rooiwyn-versnit by Excelsior Wyne te maak; ’n steakbraai by McGregor Kelder; ontbyt by Arendsig met die nimlike eienaars, Lourens en Lizelle van der Westhuizen as gashere; en ook musiek by Mabrin Olives; wingerdstappies; lui middagetes by Rietvallei; en ’n luilekker aandete met jazz deur Ian Smith en sy orkes, by Zandvliet Landgoed.

Send this to a friend